'Mag, motivering bring verandering'

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Wanneer mense die mag het om te kies, te weet, te floreer en saam te werk, word lewens gered, ongeregtigheid voorkom en waardigheid herstel.

Die Verenigde Nasies (VN) se ­Gesamentlike MIV/vigs-program ­(Un­aids) se jongste ver­slag, Power to the People, sê in gemeenskappe waar MIV-positiewe mense betrek word by besluitnemingsprosesse, neem infekterings af.

Dié individue is ook meer geneig om van gesondheidsdienste gebruik te maak, sê die verslag.

“Wanneer mense en gemeenskappe mag en motivering het, verander dinge,” sê me. Winnie Byanyima, Unaids se uitvoerende direkteur.

“Die solidariteit van vroue, jong mense, gay mans en ander mans wat seks met mans het, sekswerkers, ­dwelmgebruikers en transgender mense het die voorkoms van die vigsepidemie verander. Om hulle te bemagtig, gaan die epidemie beëindig,” sê Byanyima.

Die verslag wys beduidende vooruitgang in veral die uitbreiding van behandeling.

Teen die middel van vanjaar het 'n ­beraamde 24,5 miljoen van die 37,9 miljoen mense wat met MIV leef, ­behandeling ontvang.

Danksy behandeling sterf minder mense aan vigsverwante siektes.

“Die vennootskap tussen regerings en die burgerlike samelewing, saam met gemeenskappe se betekenisvolle betrokkenheid, het ons in staat gestel om nuwe MIV-infekterings en vigsverwante sterftes beduidend te verminder,” sê me. Sicily Kariuki, kabinetsekretaris vir gesondheid in Kenia.

“Gemeenskappe is die kern van die reaksie op vigs en is kritiek in die ­beëindiging van die siekte,” sê sy.

Verlede jaar is 1,7 miljoen nuwe infekterings aangemeld. Nuwe MIV-infekterings het met 28% van 2010 tot 2018 in oostelike en suidelike Afrika afgeneem – die streek wat die meeste deur MIV geraak word.

Die voorkoms van MIV onder tienermeisies en jong vroue tussen 15 en 24 jaar het van 0,8% in 2010 tot 0,5% in 2018 in die streek afgeneem, 'n afname van 42%.

Tog dra dié ouderdomsgroep steeds die grootste las van nuwe MIV-infekterings, en vier uit vyf nuwe infekterings onder tieners in Afrika suid van die Sahara is meisies.

Buite oostelike en suidelike Afrika het nuwe MIV-infekterings sedert 2010 met net 4% afgeneem.

Die jaarlikse aantal nuwe infekterings het met 29% in Oos-Europa en Sentraal-Asië gestyg, met 10% in die Midde-­Ooste en Noord-Afrika en met 7% in Latyns-Amerika.

“In baie dele van die wêreld is beduidende vooruitgang gemaak in die vermindering van nuwe MIV-infekterings, asook in die vermindering van vigsverwante sterftes en diskriminasie – veral in oostelike en suidelike Afrika. Geslagsongelykheid en die ontkenning van menseregte bly steeds 'n kopseer,” sê Byanyima.

“Maatskaplike ongeregtigheid, ­ongelykheid, die ontkenning van mense­regte en stigma en diskriminasie rem vooruitgang teen MIV en volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.”

Volgens die verslag het gemeenskappe beginsels wat op mense en regte fokus die kern van MIV-programme gemaak en ­sodoende verseker reaksie op die ­epidemie teiken die ongelykhede wat die siekte aanvuur.

Die verslag sê vroue en meisies is die ruggraat van die versorging en ondersteuning van hul families en gemeen­skappe.

Hulle verskaf onbetaalde en dikwels ongewaardeerde hulp wat die ­versorging van kinders, siekes, bejaardes en ­gestremdes betref.

Die betrokkenheid en leierskap van gemeenskapsvroue in die reaksie op MIV word ook beklemtoon.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!