Maike maak merk by Buffalo-skouspel

Die 24-jarige boorling van Otjiwarongo het gewys hoekom sy op internasionale vlak kompeteer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Namibië se Olimpiese hoop in roeisport, Maike Diekmann, het indrukwekkend presteer in haar eerste deelname in die kleure van Tuks by die afgelope RMB Buffalo-regatta in Oos-Londen.

Diekmann het tevore by Rhodes Universiteit gestudeer en geleer roei, totdat sy verlede jaar na Pretoria verhuis en by Tuks aangesluit het. Sy werk uiters gefokus aan haar doelwit om vir die 2020 Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.

Die aansienryke Buffalo-regatta het ’n ontsagwekkende tradisie en is vir die 132ste keer sedert sy ontstaan in 1881 aangebied, met die enigste onderbrekings tydens die wêreldoorloë. Meer as 800 deelnemers in meer as 200 items oor drie kompetisiedae maak dit die grootste roeibyeenkoms in Suid-Afrika.

Die 24-jarige Diekmann het vir vier kategorieë ingeskryf, maar het uiteindelik vyf resiese oor 2000 meter op een dag gedoen.

“Ek het vir die senior mans B-skulbootresies (MB1x) ingeskryf. Dit het my in staat gestel om bykomende resiesondervinding op te doen teen vinniger mededingers (mans). Ek het my uitdun gewen en in die finaal derde klaargemaak.

“Dit was pret om teen die mans aan te tree en sommige van hulle te klop,” sê Diekmann.

Volgende het die Namibiër met nog ’n Tuks-spanmaat, Tahne Badenhorst, saamgespan vir die vroue A dubbels (WA2X).

“Ons het vooraf net twee oefensessies gehad, want dit was ’n redelik spntane besluit om in te skryf. Vir my was dit opwindend om saam met ’n spanmaat te roei, want die solo-sport raak met tye eensaam en so ’n verandering is welkom om die passie en momentum te behou.

“Ek en Tahne het lekker geroei en die dubbelsresies gewen. Hopelik kan ons by die komende Suid-Afrikaanse kampioenskap weer saam roei.”

Diekmann het dit ook geniet om deel van Tuks se span van agt vir die vroue A8+ kategorie te wees.

“Ek was mal oor die gevoel om met sewe ander sterk meisies in een boot te jaag en die energie te voel van een en elkeen wat eindstreep toe snel. Ons span het die item gewen en ook ’n baie goeie tyd opgestel.”

Haar laaste resies vir die dag was haar spesialis-item, die vroue A enkel W1Ax.

“Ongelukkig het net vier deelnemers ingeskryf – nog ’n rede hoekom my afrigter (Grant Dodds) my vroeër die mansresies laat doen het. Ek het my resies gewen en was baie tevrede om ’n lang, harde dag so af te sluit.

“Die feit dat ek op een dag vyf 2000 meter resiese kon doen, wys dat my oefenprogram vrugte afwerp. Dis ongelooflik waartoe ons liggame in staat is. Jou kop moet maar net volg en geloof hê in jou bene en die oefeninge wat ons gedoen het,” sê Diekmann.

Sy voel ’n sin vir verantwoordelikheid om andere te inspireer om pret te hê.

“Ek wil graag vir jong skoolmeisies en andere wys dat harde werk beloon word en dat genot tydens resiese die belangrikste deel van ons sport is.

“Dis wonderlik hoe roeiklubs, skole en universiteite by hierdie trotse regatta hulle alles gee. Die roeiers was van alle ouderdomme, juniors tot meesters wat hul liefde vir die sport uitleef.”

Diekmann se volgende groot uitdaging is die Memorial Paolo d’Aloja Internasionale Regatta, wat vroeg in April in Piediluco, Italië gehou word.

“Ek sal vooraf ’n weeklande oefenkamp bywoon wat deur die wêreldbeheerliggaam FISA se ontwikkelingsprogram gefinansier word. Die regatta sal ’n goeie toets vir my spoed voor die begin van die internasionale seisoen wees.

“Hierna sal die Suid-Afrikaanse kampioenskap volg. Dit is op 27 en 28 April by die Roodeplaatdam in Pretoria – die dam waar ek elke oggend oefen.

“Ek sal ook in middel Julie by die Wêreldbeker nommer 3 byeenkoms in Rotterdam roei. Dit sal goeie voorbereiding wees vir die belangrikste doelwit van die jaar, die Olimpiese kwalifiserende wêreldkampioenskap in Linz, Oostenryk aan die einde van Augustus.”

Diekmann sê sy sal ook in Oktober by die Afrika-kampioenskap in Tunisië meeding, wat ’n tweede kans bied om vir die 2020 Olimpiese Spele te kwalifiseer.

Sy het juis in Oktober 2017 haar eerste Afrika-silwermedalje in Tunisië verower. By laas jaar se wêreldkampioenskap in Bulgarye het sy met ’n veel vinniger persoonlike beste tyd 16de geëindig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!