Maike steeds in die wolke oor Olimpiese droom
Maike steeds in die wolke oor Olimpiese droom

Maike steeds in die wolke oor Olimpiese droom

Olimpiese Spele
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Maike Diekmann sluit vandag in Tokio, Japan haar debuut as die land se geskiedkundige eerste Olimpiese kwalifiseerder in roei af met die wete dat sy belangrike nuwe mylpale vir die sport in Namibië behaal het.

Sy het gisteroggend behoorlik die rieme neergelê toe sy derde in haar C/D-semifinaal oor 2000 meter vir individuele skulroeiers by die Sea Forest Waterway-meer geëindig het.

Haar energieke 7 minute 40.77 sekondes teen 15.62 kilometer per uur was strate beter as haar tye in die eerste uitdunresies en kwarteindronde. Sy het toe onderskeidelik op 7:56.37 en 8:21.69 ingeklok.

Soos voorspel in gister se koerant het sy die strafste teenstand van die 26-jarige Sweed Lovisa Claesson (eerste in 7:35.91) en Jovana Arsic, die 28-jarige Serwiër (tweede, 7:39.26) gekry.

Arsic het wel vir Diekmann met net 1.51 sekondes om die tweede plek geklop, maar moes alles uithaal om die Namibiër te oorskadu. Die topdrie was omtrent vyf sekondes voor die ander twee roeiers.

Diekmann sou vanoggend (01:45 Namibiese tyd) teen die einste Claes­son en Arsic asook Kenia Lechuga (27) van Mexiko, Tatsiana Klimovich (26) van Belarus en Milena Venega Cancio (24) van Kuba in die C-finaal geroei het – vir die eindposisies van 13de tot 18de uit vanjaar se 32 Olimpiese kwalifiseerders.

Die topdrie roeiers in die tweede C/D-semifinaal, Lechuga (eerste in 7:33.72), Klimovich (tweede, 7:33.78) en Venega Cancio (derde, 7:41.18), sal beslis vir vuurwerke in die C-finaal gesorg het.

Die Namibiër kan haar ongelukkig ag dat sy Sondag nie 'n beter tyd in die kwarteindronde kon behaal nie. Indien sy onder die voorste drie posisies klaargemaak het, sou sy gister in die A/B-semifinaal deelgeneem het. Diekmann se tyd in die C/D-semifinaal sou goed genoeg gewees het om 'n roeiplek in die B-finaal los te slaan.

Diekmann het gister gesê: “Ek het geweet die weer sal 'n groot rol speel en die eerste 500 meter het die stilste water gebied. Daarom het ek uit die staanspoor so haastig as moontlik weggespring en aangeval om my posisie te verstewig.

“Ek wou seker maak ek roei goed om my plek onder die eerste drie posisies in te neem. In die tweede helfte van die resies was die golwe 'n groot faktor en die wind was sterk.

“Die ren was werklik 'n tegniese uitdaging. Hopelik kry ek in die finaal die kans om my beter te laat geld. Dit is vir my hartseer om te weet dit was my laaste resies by die Spele.

“Ek wil my beste in die finaal lewer vir 'n goeie tyd. Dit is 'n eer en voorreg om Namibië vir oulaas te verteenwoordig. My ondervinding by die Spele is onbeskryflik; dit was baie spesiaal. Ek het nie geweet wat om te verwag nie, maar dit was oorweldigend.

“Vandat ek vir die eerste keer in die Olimpiese atletedorp ingestap het, kon ek vir twee dae nie geglo het ek is werklik hier nie. Dit was wonderlik om al die atlete van die verskillende lande in hul verskillende kleure te sien rondloop met die hordes baniere en vlae wat vertoon is.

“Ek sal sekerlik nooit vergeet wat ek in die afgelope week beleef het nie. Ek wil almal by die huis bedank. Baie dankie aan almal in Namibië wat my ondersteun het. Julle ouens is wonderlik. Ek het soveel boodskappe ontvang en dit is 'n groot deel van my motivering.

“Ek wil vir die atlete in Namibië sê om hul drome na te jaag. Daar sal wel baie dae wees wat sake nie na wense verloop nie, maar daar sal ook vele hoogtepunte wees. Hou net aan – moenie ophou nie.

“Ek hoop dat Namibië binne die volgende paar jaar meer atlete by die Olimpiese Spele kan hê. Dit sal lekker wees om dit te sien.

“Ek het dit na die Spele gemaak en hulle kan ook. Ek kan nog steeds nie glo ek is hier in Tokio nie. Daar is so baie emosies om te verwerk.”

• Kyk gerus vanoggend in ons Facebook-geselsprogram Kletskompas na die visepresident van die Namibiese Kanofederasie, mnr. Anton Jacobie, se bewonderende lof vir wat Diekmann reggekry het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!