Manne roer knoppe vir Namibiu00eb se eer
Manne roer knoppe vir Namibiu00eb se eer

Manne roer knoppe vir Namibië se eer

Stiaan van der Merwe, tevore losskakel van Wanderers en Namibië se o.20-span, is kaptein van die nasionale e-sportspan.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Namibiese Elektroniese Sportvereniging (Nesa) het die afgelope naweek sy nasionale kampioenskap in die vegspeletjie Dota2 (Defender of the Ancients) aanlyn aangebied.

Saterdag het die room van Namibiese e-sportentoesiaste regoor die land op uitnodiging agter hul rekenaars ingeskuif om die kampioen te bepaal en die uitgesoekte lede vir die nasionale span te keur.

Die Dota2-span is aangewys wat Namibië op die internasionale verhoog sal verteenwoordig en onder meer Suid-Afrika tydens 'n streekkampioenskap van die Internasionale e-Sportfederasie (Iesfed) sal takel.

Die wenner tussen Namibië en Suid-Afrika sal in Desember die geleentheid in Eilat, Israel, kry om hul slag by die e-sport wêreldkampioenskap teen die toplande te wys.

Die toptien vasbeslote spelers wat Saterdag aan die Dota2-kampioen­skap deelgeneem het, het vanaf 21 tot 23 Julie kans gehad om hul kleim vir die finaal af te steek. Die spelers was uiteraard gemotiveerd om hul plekke in die nasionale span te verdien.

Mnr. Flip de Bruyn, Nesa se president, het die kampioenskap regstreeks aanlyn op hul YouTube-kanaal gebeeldsend en ondersteuners kon hul helde sien val of triomfeer.

Vyf wedstryde is gespeel waartydens die individue spelers tussen die twee spanne uitgeruil is om elkeen behoorlik te kon beoordeel. Die keurders het 'n moeilike taak op hande gehad, want elke speler het sy beste voet voorgesit. Teen die einde het die spelers senuwees van staal getoon om die keurpaneel te beïndruk.

Die aangewese Namibiese spanlede is Franlo Meyer (FreyTiX), Mauro Teles (PoRRa07) as onderkaptein, Jurgen Teichert (Phycodamage) wat as die speler van die kampioenskap bekroon is, Paul Bingel (APoC) en Stiaan van der Merwe (Iceman) as Namibië se spankaptein. Meyer en Teles het Namibië laasjaar as die nasionale Dota2-span verteenwoordig.

“Nesa bedank Logitech G, Future CC en Vander Designs wat die kampioenskap geborg het. Ons sien uit na die nasionale span se deelname aan internasionale botsings en vra belangstellende borge om ons vir 'n bemarkingsgeleentheid by [email protected] te kontak sodat e-sport in Namibië ontwikkel kan word,” sê die beheerliggaam.



VOLGENDE UITDUN

Komende naweek bied Nesa die tweede kwalifiserende ronde van sy nasionale kampioenskap in e-Foot­ball PES 2020 en die vegspeletjie Tekken 7 aan.

Spelers is welkom om Saterdagoggend by die APS Guesthouse in Robert Mugabe-rylaan 11 aan te meld. Die aksie skop stiptelik om tienuur af.

Inskrywingsgeld per wedstryd beloop N$50 vir Nesa-lede wie se lidmaatskap van N$250 opbetaal is. Nie-lede sal N$100 per inskrywing opdok. Enige persoon wat in Namibië woonagtig is, mag inskryf, maar net Namibiese Nesa-lede kom vir die nasionale span in aanmerking.

Spelers kan vanaf vandag tot net voor die afskop van die kompetisie registreer. Inskrywingsvorms is aanlyn beskikbaar en kan by [email protected] aangevra word.

Hoewel geen ouderdomsperk geld nie, moet spelers jonger as 18 jaar se ouers of wettige voog 'n toestemmingsbrief onderteken. 'n Gesertifiseerde afskif van deelnemers se identiteitsdokumente of paspoort moet elke inskrywing vergesel.

Die topdrie posisies vir elke titel sal kontantpryse ontvang.

Vir meer inligting kan Flip by 081 145 5100 gekontak word. Besoek ook @Nesa.Namibia op Facebook of www.esportsnamibia.org vir meer inligting.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!