Martin palm sy eerste Tara in

Ná nege vorige probeerslae het die gesoute Walvisbaaier eindelik 'n onvergeetlike triomf in die gesogte Namibiese skouspel gesmaak.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die Tara-kat het die deelnemende spanne in die 2019 Total Tara-tydren vanaf Swakopmund behoorlik gekarnuffel, want net vier sedankarre (uit 13 wat weggespring het) en vyf veldvoertuie (uit nege) in die Off Road-afdeling het die moordende tydren oorleef om Windhoek te haal.

Die 51-jarige Allan Martin van Walvisbaai het Saterdagnamiddag ná sy tiende probeerslag sy eerste Total Tara-titel saam met Maretha Olivier, sy navigator, in sy S4-klas J&P Hydraulics 4x4 Skoda Fabia R5 1.6 liter Turbo gewen.

Twee van die 21 trajekte is Vrydag gekanselleer met SS9 en SS10 wat weggeval het. Die laaste van 19 supersneldele (SS) is Saterdagmiddag by die Tony Rust-renbaan wes van Windhoek gejaag. Martin het die ikoniese Tara-tydren op aanskoulike wyse in 2 ure 04 minute 22 sekondes getem en ook die S4-klas oorheers.

In die OR-afdeling (off-road) het Jaco van Dyk en navigator Michel Rust hul 2018-OR-titel suksesvol verdedig toe hulle die 24/7 Race Fuels Red Lined 4x4 Dakar V8 Nissan Navara in minder as twee ure (1:58:58) ná die laaste trajek ingeklok het.

Tweede algeheel ná Martin was Team Mohatu van Pieter Greeff en JP Robinson (ook wenners van die S1-klas) met sy 4x2 1.6 liter Toyota Corolla. Etienne van den Heever wat tweede ná Greeff in die S1-klas geëindig het, is derde algeheel geplaas.

In die OR-afdeling het Sandra Labuscagne-Jonck en Jaco Jonck, die Suid-Afrikaanse egpaar van Pretoria, die tweede plek in haar 4x2 Total Agri Porter PR1 Sandmaster in 'n 6-liter V8 Chevy LS2-enjin opgeraap. Die Joncks het ook die OR E-klas gewen.

Gert Liebenberg en navigator Johan Thiart se Hardap Freight Services 4x2 Tata Xenon-bakkie moes wel oor die eindstreep gestoot word om algeheel derde klaar te maak. Maar die werk­esel met sy V8 Lexus-enjin in die OR C-klas het geweier om enigsins bes te gee.

'n Verheugde Martin het met dié byeenkoms ook die Namibiese nasionale tydrenkampioenskap syne gemaak.

“Behalwe dat ek en Maretha die 51ste Total Tara gewen het, het ons ook die nasionale kampioenskap en die S4-klas gewen. Die eerste tien supersneldele (120 km) van die Tara is as die laaste been van ons nasionale kampioenskap ingespan.

“Wat vir my besonders was, is dat my seun Zachary (20) en Mandi Hugo (18) saam in die tydren met my ou J&P Hydraulics 4x4 VW Polo S2000 gejaag het. Dit was sy eerste Tara-deelname en hy het dit suksesvol in 2:19:58 voltooi.

“Omrede die Polo gedurende SS3 gebreek het en hy die volgende dag volgens supertydrenreëls weer ingeskryf het, kon hy nie 'n plek daarmee verdien nie. Maar ek is geweldig trots op hom, want hy het eers die dag voordat ons in Swakopmund vir die Tara weggespring het by my gehoor hy gaan met die Polo jaag.

“Hulle was verreweg die jongste span nóg wat die Tara kon klaarmaak en het so byna die S3-klas gewen wat aan hulle die algehele tweede posisie sou besorg het. Hulle kan maar beslis volgende seisoen dopgehou word.

“Ek wil graag vir Pieter Greeff en JP Robinson met hul algehele tweede plek gelukwens, asook vir Etienne van den Heever en Willy van Wyk (derde algeheel, tweede S1-klas) op die skouer klop. Dan is daar Jaco van Dyk en Michel Rust wat die algehele OR-wenners is, Sandra en Jaco Labuscagne-Jonck asook Gert Liebenberg en Johan Thiart met hul plekke op die podiums.

“Ek wil graag my diensspan uitsonder vir hul opoffering en harde werk die afgelope drie dae. Baie dankie ouens, julle werk het gesorg dat ek aan die Tara kon deelneem, dit kon oorwin en klaarmaak. Aan ons families, baie dankie vir al jul geduld, ondersteuning en aanvaarding gedurende die afgelope renseisoen,” het nuwe Tara-koning gesê.

Lees later vandeesweek meer oor die 2019 Total Tara-tydren en die “kat” se streke wat soveel van die spanne se deelname in die wiele gery het.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!