Masjiengewere moor olifante

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Dit het soos ’n oorlog geklink toe stropers regoor ’n Namibiese toeristekamp op die oewer van die Kavangorivier in Angola met masjiengewere op olifante losgetrek het.
Só beskryf die eienaar van die kamp, mnr. Hennie Burger, die voorval wat Saterdagnamiddag knap voor sononder voor hom soos ’n oorlogrolprent afgespeel het.
“Ek en my werkers het gestaan en kyk hoe skiet hulle die olifante. Gelukkig was hier geen toeriste by my nie, anders sou dit ons toerismebeeld groot skade berokken het.”
Hy sê die ergste van alles is “dat ek niks kan of mag doen nie. As ek op hulle geskiet het, sou dit ’n internasionale voorval veroorsaak het,” het ’n moedelose Burger gesê.
“Dit was vir my baie hartseer om dit te sien.”
Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, het gister in ’n mediaverklaring bevestig dat een olifant gedood en twee gekwes is.
Die voorval het Saterdagnamiddag oorkant die kamp plaasgevind wat tussen Rundu en Divundu in Kavango-Oos by die afdraaipad na die Khaudum Nasionale Park geleë is. Volgens Burger was ’n trop van tussen 30 en 40 olifante op die oewer van die Kavangorivier aan die Angolese kant toe stropers met masjiengewere op hulle losgebars het. Hy het beklemtoon dat geen handgranate betrokke was nie.
“Die stropers het dit so beplan en geweet niemand sal hulle in die nag agtervolg nie. Ek het gesien hoe een olifant geskiet word. Hy het sy oor gewaai, maar gelê. Ek kon hom nie mooi sien nie.”
Burger het gesê dat een olifant dood en nóg gekwes is.
“Die stropers het die tande oornag uitgekap. Ek weet nie hoeveel olifante is nog dood nie. Daar is wel nog gekwes, want sleepmerke en bloed is deur die polisie en natuurbewaarders van beide Namibië en Angola gevind.”
Muyunda het bevestig dat die tande verwyder is en dit as ’n voorval van stropery geag word.

FLINKE OPTREDE VAN POLISIE
Burger sê hy het dadelik al wat ’n polisieman is wat hy ken by alle omliggende polisiekantore gebel en Sondagoggend vroeg het “baie mense in ’n troepedraer” opgedaag. Selfs die grenspolisie van Kasipe het by Burger se kamp opgedaag.
“Die Namibiese polisie het hul kant gebring en was deurentyd in kontak met die Angolese polisie en natuurbewaarders.
“’n Angolese natuurbewaarder was hewig ontsteld oor die skietery. Ons het egter lank vir die Angolese polisie gewag.”
Burger sê hy het nie genoeg petrol in sy boot gehad nie en adj.komm. Vilho Kalwenya van Kavango-Oos het “al die geld in sy beursie gegee om petrol te gaan koop” waarna Burger hulle heen en weer oor die rivier kon neem.
Volgens hom het die polisie en natuurbewaarders in ’n lyn in die Luenge-Luiana Nasionale Park beweeg en geen ander karkasse is gevind nie.
Die gemeenskappe van Angola en Namibië het die olifantkarkas met pangas afgeslag en die vleis vir hulle geneem.
“Hier is vrye oorgang oor die Kavangorivier. Ek het ’n winkeltjie en die Angolese kom koop by my.”
Burger sê wildstropery vind nie gereeld daar plaas nie en dit was die eerste keer wat hy so iets beleef het. Tog is hy al in die verlede deur ivoorsmokkelaars genader: “Voorverlede jaar wou iemand 82 olifanttande aan my verkoop. Dit beteken dit is 41 olifante wat gestroop is.”
Burger meen omdat niemand in hegtenis geneem is nie, gaan niks verder gebeur nie en hy is bekommerd oor mens-olifant-konflik.
“Die olifante, veral dié wat gekwes is, gaan agressief wees en hier is ’n skooltjie hier oorkant.” Namibië en Angola is deel van die Kavango-Zambezi-Oorgrensbewaringsgebied (Kaza TFCA) en “die ministerie bevestig dat gesamentlike patrollies met ons Angolese eweknieë vóór die voorval begin is om stropery te voorkom”.
Die ministerie veroordeel die voorval en doen ’n beroep op die gemeenskap om inligting te verskaf wat tot die inhegtenisneming van oortreders kan lei.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!