May torring nie veel aan ‘Plan A’
Theresa May, die Britse premier, het Maandagaand alles in die stryd gewerp om haar Brexit-plan ’n kans te gee om goedgekeur te word.
Sy het egter nie veel van haar vorige plan afgewyk nie.
May het ’n tweede referendum oor die kwessie van die tafel gevee en gesê sy glo nie daar is ’n tweederde-meerderheid in die Laerhuis vir so ’n referendum nie.
Sy het Maandagmiddag in haar toespraak in die Laerhuis in Westminster gesê sy sal by die Europese Unie probeer toegewings soek oor die omstrede Ierse agterdeur.
Dít sal haar ook in staat stel om die rebelle in haar eie Konserwatiewe Party en die tien LP’s van die Demokratiese Unionistiese Party aan haar kant te kry.
LP’s van dié party help May se Konserwatiewe Party om belangrike wetgewing deurgevoer te kry omdat die Tories nie ’n volstrekte meerderheid het nie.
Die Ierse agterdeur is ’n groot twispunt. Dié ooreenkoms probeer ’n harde grens tussen Noord-Ierland en Ierland verhoed, maar sal Brittanje gebonde hou aan die EU se handelsreëls.
IERLAND
Ierland, wat hom by die EU skaar, het Maandag ook by monde van Helen McEntee, die land se minister van Europese sake, gesê Ierland sal nie by bilaterale samesprekings met Brittanje oor Brexit betrokke raak nie. Ierland sal net as deel van die 27 oorblywende lede van die EU oor Brexit onderhandel.
Voor May se toespraak was daar vrese dat sy veranderings aan die Goeie Vrydag-vredesooreenkoms van 1998 sou oorweeg om haar Brexit-plan nie te laat skipbreuk ly nie.
Dié vredesooreenkoms het 30 jaar van geweldpleging in Noord-Ierland tot ’n einde gebring.
May het dit egter onomwonde in haar toespraak gestel dat sy dit nooit oorweeg het om aan die Goeie Vrydag-vredesooreenkoms te torring nie.
Die 650 lede van die parlement is diep verdeeld oor Brexit. In die twee jaar sedert May in 2016 art. 50 bekragtig het, kon politici nog nie tot ’n vergelyk kom oor hoe Brittanje die EU gaan verlaat nie.
May het gesê sy kan nie die opsie van ’n harde Brexit uitsluit nie, omdat daar tot nog toe geen alternatiewe plan is nie. Volgens haar sal die EU ook onwillig wees om art. 50 te verleng sonder dat ’n plan in plek is wat die Britse parlement se goedkeuring wegdra.
Die enigste toegewing wat May gedoen het, was om te belowe om die £65 te skrap wat EU-burgers ná Brexit sou moes betaal om in Brittanje te bly.
Brittanje moet oor twee maande, op 29 Maart, die EU verlaat.
May se oorspronklike Brexit-plan is verlede Dinsdag deur 432 LP’s verwerp. – Netwerk24/Reuters/SkyNews/The Guardian

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie