May vol planne vir nuwe Brexit-gesprekke
May vol planne vir nuwe Brexit-gesprekke

May vol planne vir nuwe Brexit-gesprekke

Die Britse parlement het intussen hul Februarie-reses gekanselleer in ’n poging om ’n oplossing te vind om ’n harde Brexit te vermy.
Theresa May, Britse premier, hou vol sy is “vasbeslote” om Brexit “betyds” op 29 Maart deur te voer, al sinspeel van haar eie kabinetsministers daarop dat die spertyd uitgestel moet word, berig Bloomberg.

May het belowe dat sy na Brussel, setel van die EU-parlement, sal terugkeer met hernude toewyding en “nuwe idees” om ’n ooreenkoms te bereik.

Sajid Javid, haar minister van binnelandse sake, sê daar is geen nodigheid vir die sogenaamde “Ierse agterdeur” (Irish backstop)-plan nie. Javid sê grensbeheerbeamptes in sy departement het hom meegedeel dat bestaande tegnologie gebruik kan word om ’n “harde grens” tussen Ierland en Noord-Ierland af te weer.

Dit is teenstrydig met wat sy kabinetskollega, die sakeminister Greg Clark, verlede week gesê het, naamlik dat tegniese oplossings “op die oomblik” nie beskikbaar is nie.

Die hoofsekretaris van die tesourie, Liz Truss het op haar beurt gesê dit is “onvermydelik” dat die Brexit-onderhandelinge tot op die laaste oomblik gaan voortduur - en dit beteken dat Brittanje nie kan teruggaan op sy dreigement dat hy die EU sonder ’n ooreenkoms (’n harde Brexit) sal verlaat nie.

NADER AAN KONSENSUS

Sy sê “die dreigement van ’n harde Brexit aan beide kante” bring die Britse parlement nader aan konsensus “en sal die EU aan boord kry”.

Die Britse parlement het intussen hul Februarie-reses gekanselleer in ’n poging om ’n oplossing te vind om ’n harde Brexit te vermy.

“Ek dink ons sien tekens dat die EU sy posisie versag.” Maar selfs al is daar nie ’n ooreenkoms nie, sal die beweging van vragmotors, data-uitruiling en finansiëledienstetransaksies voortgaan, het Truss gesê en bygevoeg dat voorspellings van “Armageddon-scenarios” oordrewe is.

Ondertussen het Nissan planne laat vaar om die X-Trail sportnutsvoertuig by ’n fabriek in die noorde van Brittanje te bou, en het die maatskappy gesê onsekerheid oor Brexit help ten opsigte van toekomstige beleggings nie.

’n Peiling van die Institute of Directors (IoD), ’n sakeliggaam wat sowat 30 000 Britse maatskappye verteenwoordig, het aangetoon dat een uit drie sakeondernemings beplan om te hervestig om die gevolge van ’n harde Brexit te oorkom.

The Guardian berig ’n IoD-opname onder 1 200 van sy lede dui daarop dat 29% van maatskappye Brexit as ’n beduidende gevaar vir hul bedrywighede in Brittanje beskou.

Hulle het aangedui dat hulle reeds dele van hul besighede oorsee geskuif het of beplan om dit oorsee te skuif.

Meer as een uit tien het van hul bedrywighede buite die VK gevestig oor die moontlikheid van ’n harde Brexit.

Meeste van hulle wil dit juis na die EU verskuif.

Edwin Morgan, IoD se tussentydse direkteur-generaal, sê dit is nie net groot maatskappye soos Sony en Panasonic wat hul besighede na die Europese vasteland geskuif het nie, maar kleiner maatskappye begin ook nou planne beraam om die skuif te maak.

Volgens die peiling het 11% reeds hul hervestigingsplanne in werking gestel, 5% beplan hul hervestiging, en ’n verdere 13% oorweeg dit om die VK te verlaat.

Jean-Claude Juncker, president van die Europese kommissie, het Woensdagmiddag reeds gesê die EU is nie bereid om weer te onderhandel nie.

Hy sê die ooreenkoms wat tans op die tafel is, is die “beste en enigste opsie”.

MOONTLIKE ONLUSTE

Intussen het Britse amptenare noodplanne uit die Koue Oorlog hervat om die koninklike familie na veiligheid te neem indien onluste weens Brexit in Londen uitbreek.

Die Sunday Times berig volgens Reuters dat die noodplanne sedert die Koue Oorlog bestaan en nou aangepas is in geval van burgerlike oproer wanneer Brittanje in Maart uit die Europese Unie onttrek.

Reuters berig dat die The Mail on Sunday ook verneem het van planne om die koninklikes, insluitend die 92-jarige koningin Elizabeth, na veiliger plekke weg van Londen te skuif. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!