Meer kan vir vroue gedoen word
Meer kan vir vroue gedoen word

Meer kan vir vroue gedoen word

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die deelname van vroue in alle sfere van die samelewing is nóg opsie nóg guns, maar 'n noodsaaklike vereiste vir suksesvolle en vreedsame samelewings.

Meer kan vir vroue in Namibië gedoen word, waar geslagsgelykheid nie net 'n blote slagspreuk is nie, sê president Hage Geingob (foto).

“Ons asem dit, praat dit en leef dit,” het Geingob tydens 'n galageleentheid in Windhoek gesê, waartydens hy die “African Excellence Award for Gender”, wat deel is van die “Gender is my Agenda”-­veldtog, namens Namibië in ontvangs geneem het.

Volgens die staatshoof is mans en vroue eweknieë en vennote wat ondersteunend tot mekaar is.

Hy het voorts gemaan die bemagtiging van vroue gaan oor menseregte­ en die toepassing van natuurlike geregtigheid.

“Inklusiewe regering is die sleutel tot inklusiewe groei en 'n doeltreffende manier om vroue te bemagtig.”

Geingob het voorts gesê die deelname van vroue aan alle vlakke van regering simboliseer vryheid en gelykheid, nie net in besluitnemende instansies nie, maar ook in die samelewing as geheel.

Met verwysing na vrouebemagtiging en inklusiewe regering het die staatshoof die regering se voorneme bevestig om die deelname van vroue op alle vlakke van die sosioëkonomiese sfeer te verhoog.

“Sonder die gelyke deelname van vroue aan ons ontwikkelingsinisia­tiewe gaan ons nie 'n Afrika van gelyke geleenthede tot stand kan bring waarin alle mense hul ideale kan nastreef nie.”

Geingob het ook verwys na die land se stryd om onafhanklikheid wat, danksy die dapper pogings van beide mans en vroue, 'n werklikheid geword het.

“Binne die konteks van ons tweede stryd moet ons die gelyke vennoot­skap van beide mans en vroue bevorder, langs mekaar stap en in dieselfde rigting beweeg ter ondersteuning van die Harambee-welvaartplan vir ekonomiese bevryding en gedeelde welvaart.”

Die staatshoof het egter gemaan geslagsgeweld in Namibië het kommerwekkende vlakke bereik en is 'n bron van nasionale kommer.

“Kom ons verwyder geslagsgeweld uit ons huise, woonbuurte, dorpe en stede.

“Kom ons skep samelewings waar vroue en meisies nie in vrees vir enige sielkundige of fisieke skade hoef te leef nie.”

Volgens Geingob is die vooruitgang wat egter reeds op die gebied van geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue in die land gemaak is, iets waarop inwoners trots moet wees.

Tydens dieselfde geleentheid is van staats- tot private ondernemings asook die media vir onder meer hul bydrae tot geslagsgelykheid vereer. Namdeb is in die private sektor vereer, vir staatsondernemings het die toekenning aan die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) gegaan, terwyl Vroueaksie vir Ontwikkeling (WAD) en LifelineChildline die toekenning in die afdeling vir burgerlike organisasies gedeel het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!