Met of sonder Zuma het RSA probleme
Heeltemal verstaanbaar fokus die nuus op politieke veranderings in Suid-Afrika. En politieke verandering beteken net een ding – gaan Zuma bly of gaan hy gly?
Dawie Roodt
Dit lyk my dat ontleders tot die volgende gevolgtrekking gekom het: As Zuma bly, wag moeilike ekonomiese tye op ons, en as Zuma gly, wag beter ekonomiese tye.
Ek is bevrees die situasie is meer ingewikkeld.
Swak vertroue in die land het reeds bygedra tot lae vlakke van investering, swak groei en die gevolglike toename in werkloosheid en armoede. Verder is die staat en “parasitiese” instellings se finansies baie diep in die moeilikheid – ironies het baie van dit gebeur terwyl Pravin Gordhan aan die stuur was. Dan het ons ook ’n halsstarrige eksterne tekort (lopende rekening) wat veral die rand baie kwesbaar maak.
Wat is nuut? Twee graderingsagentskappe het ons staatskuld tot rommelstatus afgradeer.
Ons het ’n nuwe minister wat sê hy gaan voort met beperkende fiskale beleid én met radikale ekonomiese transformasie. Afgesien dat dit teenstrydige standpunte is, was fiskale beleid alles behalwe beperkend die afgelope paar jaar.
Dan is die volgende ook van belang. Die wisselkoers van die rand sowel as sekere ander finansiële instrumente het reeds in groot mate baie van die onlangse veranderings verwerk.
Die gevolg is onder meer dat die rand vandag selfs nog meer onderwaardeer is as ’n week of twee gelede terwyl die opbrengskoers op die kapitaalmark nou van die aantreklikste ter wêreld is.
Hoe lyk ons vooruitsigte?
Nou gaan ek my skuldig maak aan dieselfde wat ek ander onder ontleders van beskuldig – dit hang van politiek af. Maar wat baie duidelik is, is dat swarigheid voorlê.
Twee moontlike scenario’s:
In die goeie scenario kry ons politieke stabiliteit en verantwoordelike beleidsbesluite. Onder sulke omstandighede behoort die rand geleidelik te stabiliseer, kapitaalmarkkoerse en selfs korttermynkoerse kan ná ’n rukkie begin daal namate inflasiedruk afneem en ekonomiese groei kan geleidelik begin herstel.
Maar selfs onder ’n goeie scenario sal dit baie jare neem voordat vertroue herstel is en die staat en die staatsbeheerde instellings weer op ’n gesonder finansiële voet geplaas is. Ekonomiese groei kan dalk geleidelik versnel, maar dit gaan baie lank duur voordat ’n verlangde groeikoers van 4% of meer bereik word. Intussen sal werkloosheid en armoede met ons wees lank nadat die ekonomie beter begin presteer het.
Die slegte scenario: Dinge kan nog baie versleg. ’n Destruktiewe regering en die ekonomiese gevolge wat daarmee gepaardgaan, hou die ekonomie onder druk wat tot verdere werkverliese en armoede en gevolglik maatskaplike onrus lei.
Of, nog erger, “radikale ekonomiese transformasie” en ander onverantwoordelike besluite lei tot nog meer kapitaalvlug, ’n swakker rand, hoër inflasie en heelwat hoër korttermyn-rentekoerse.
En onder verslegtende omstandighede kan paniekerige politici al hoe meer radikale besluite neem.
Byvoorbeeld, namate die rand verswak en rentekoerse styg, word die Reserwebank self die teiken van misplaaste ideologiese aanvalle, soos ons reeds gesien het, wat net tot meer finansiële wanorde lei.
En soos kapitaal al hoe meer die land verlaat, word nog meer belaglike maatreëls ingestel: valutabeheer, prysvasstelling, voorgeskrewe beleggings en vele meer. En uiteindelik staan politieke strukture soos die Grondwet in die pad van politici om imperialisme, neo-kolonialisme en destabiliserende magte te beveg.
Moenie die potensiële gevaar van die situasie onderskat nie. Jan Smuts het miskien gesê dat die slegste of die beste nooit in Suid-Afrika gebeur nie – wel, nog nie . . .
* Dawie Roodt is die hoofekonoom van Efficient Group.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie