Michelle McLean-trust loop miljoene se bloutjie
Michelle McLean-trust loop miljoene se bloutjie

Michelle McLean-trust loop miljoene se bloutjie

Jare nadat ’n ouddirekteur ’n eis teen ’n bekende trust ingestel het, het die hof gister in sy guns beslis.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die ouddirekteur van die Michelle McLean Children’s Trust, mnr. Danie Botes, het gister ’n meevaller van minstens N$3,4 miljoen gekry.

Dit is wesenlik minder as die aanvanklike eis van nagenoeg N$14 miljoen wat hy ingestel het.

Botes het die eis ingestel teen die voormalige mej. Namibië en oud-mej. Heelal Michelle McLean-Bailey, me. Conny Maritz en mnr. Nic Kruger – almal trustees van die trust.

Regter Thomas Masuku het gister die eis met rente in die hoërhof in Windhoek toegestaan nadat dit vir jare gesloer het.

Net Botes en sy gesin en die prokureurs het die verrigtinge bygewoon.

Die multimiljoendollar se eis het ontstaan toe Botes se dienste as geldinsamelaar en direkteur van die trust in September 2013 beëindig is.

Hy het die trustees onder meer gedagvaar vir verlies aan inkomste wat uit kontrakbreuk gespruit het.

Botes het ook ’n deliktuele eis aanhangig gemaak teen die trustees in hul amptelike en persoonlike hoedanighede.

Die laaste gedeelte van sy eis het met pensioenfondsbydraes verband gehou.

Die trustees se teeneis het misluk. Hulle het bykans N$8 miljoen van hom geëis vir onder meer kontrakbreuk of as alternatief wedderegtlike verryking.

McLean-Bailey, wat tans in Amerika woon, het nie gister op navrae gereageer nie.

In hofstukke word namens Botes gesê hy was bekend daarvoor dat alles waaraan hy raak glo in goud verander het.

Hy het tot die trust se redding gekom toe dit reeds een jaar ná sy stigting in 1993 gesukkel het om ’n lening van N$400 000 terug te betaal. Hy het daarin geslaag om die probleem op te los deur sy vaardighede en waardevolle kontakte in die sakewêreld te gebruik. Nadat hy die trust uit sy onmiddellike finansiële penarie gered het, was Danie Botes die ideale mens vir die werk.

Botes sê dit was Kruger wat hom in 1993 aan McLean-Bailey voorgestel het vanweë sy bewese vermoëns om met geld te toor. “Danie Botes het homself bewys as ’n begaafde fondsinsamelaar vir die Akademiestigting wat later met die Universiteit van Namibië saamgesmelt het,” lui die hofstukke.

Onder Botes se leiding het die trust vir bykans 20 jaar – tussen 1994 en 2013 – gedy, lui die stukke voorts. “Gedurende daardie tyd het die trust ongeveer N$90 miljoen ingesamel en talle suksesvolle projekte onderneem.”

Volgens die stukke het Botes geen salaris ontvang nie.

Sy aansporing was ’n fooi wat bereken is as ’n persentasie van die inkomste van die trust.

Dié persentasie het aanvanklik 20% beloop, maar is later tot 30% verhoog.

Die partye het toe later nie meer saamgestem oor of die persentasie op die bruto of netto inkomste van die trust bereken moet word nie – Botes het gemeen bruto, terwyl die trustees gemeen het dit moet netto wees.

Ná ’n sameloop van verskeie omstandighede het die trustees glo op 12 September 2013 onverwags op Boetes toegeslaan “om die lug te suiwer” nadat hy wat Botes is self ’n week vantevore ’n vergadering wou belê, lui die hofstukke.

Hy moes toe hoor daar is reeds besluit om van hom ontslae te word.

Botes en sy gesin het gister mekaar emosioneel omhels en later in ’n ligte luim buite die hof verkeer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!