Miller jaag Attakwas-wenner na rekord

Ná amper vyf ure saam aan die voorpunt het die Namibiër op die kampioen se agterwiel klaargemaak.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die klein, maar sterk Nami­biese groep het bo hul gewigsklas presteer by die jaarlikse Attakwas-bergfietsmarathon, wat allerweë as Suid-Afrika se hardste eendagresies bestempel word.

Alex Miller (Team Vaude) het aan die voorpunt verskeie aanvalle van stapel gestuur om die twee Suid-Afrikaners Wessel Botha (Type Dev NanoTime) en Marco Joubert (Imbuko Giant) te probeer afskud.

Dié drietal het vir die ganse afstand van 121 km vanaf Oudtshoorn na Groot-Brakrivier saam gebly en was in 'n naelskraapse eindpoging na die wenstreep gewikkel.

Botha het uiteindelik ná 'n moordende 4 ure 46 minute 22 sekondes as wenner boaan die podium gestaan – dieselfde eindtyd as wat vir die Namibiër Miller as naaswenner aangedui word, met Joubert een sekonde agter hulle.

Al drie het die byeenkomsrekord oortref wat die Switserse yster Urs Huber sewe jaar tevore opgestel het. Botha se wentyd was een minuut 34 sekondes vinniger as Huber in 2014 – hoewel die roete vanjaar sowat 1500 meter langer was omdat die organiseerders vanweë reënverspoelings 'n ompad moes aanbring.

Die totale vertikale klimhoogte oor die roete het op 2 900 meter te staan gekom.

“Dit is nogal frustrerend terwyl ek moet wag vir die afhandeling van my visumreëlings moet aan byeenkomste in Europa te gaan deelneem; daarom was die uitnodiging na die Attakwas definitief die moeite werd!” het Miller agterna verklaar.

“Ek was nie seker wat om te verwag nie, omdat ek nogal lanklaas aan 'n marathonafstand deelgeneem het.

“Ek is supertevrede met my fiets se vertoning in die ruwe Attakwaskloof, asook met hoe my liggaam oor die laaste 30 km gevoel het.

“Dankie Wessel en Marco vir die harde resies tot die einde. Ons het dit reggekry om 'n nuwe baanrekord op te stel.”

Miller se mede-Namibiër Tristan de Lange, nog 'n lid van die Imbuko Giant-span, was een van die ryers wie se aanslag deur tegniese terugslae in die wiele gery is.

De Lange (tiende in 5:09:24) sou beter geëindig het as hy nie probleme met die oorskakeling van sy ratte ondervind het nie.

“Ek moes dokter vir my fiets speel nadat 'n ongelukkige tegniese terugslag my uit die voorlopergroep verwyder het,” het De Lange gesê. Hy is een van talle jaers wat hulle tans op die naderende Cape Epic voorberei.

Net so het die verdedigende titelhouer en vooraf gunsteling, Matthys Beukes (Pyga EuroSteel) lank in die topvyf geboer, totdat hy met 'n pap wiel tyd verloor het.

Die wenner Botha het agterna gesê: “Alex het vroeg 'n paar keer probeer wegbreek, maar kon ons nie afskud nie en ons het toe besluit om saam te werk. Ek het geweet die twee klimme is deurslaggewend op op die tweede een het ek my skuif gemaak en vir Marco afgeskud, maar hy het ons weer ingehaal.

“Dis tóé dat ek geweet het die uitslag sal van die finale versnelling na die eindstreep afhang, en dat die voorste ryer ná die laaste afdraand die voordeel sou hê.

“Alex was ná die laaste afdraand voor, maar hy het een draai bietjie wyd gevat en ek het dit reggekry om aan sy binnekant verby te glip. Van daar af was dit nogal 'n nou kronkelpaadjie na die eindstreep, so ek het net die druk volgehou en dit reggekry om die lyn eerste te bereik.

“Op die baanrekord is ek baie trots, maar die wen vir my span was vir my belangriker. Die perfekte weer het bygedra tot die vinnige tyd.”

• Die kanniedood Piet Swiegers was eerste in die meestersklas (50-59 jaar) en het algeheel 17de die eindstreep bereik. “Dit was 'n lekker resies. Ek het dit een keer tevore voltooi, ek dink in 2015, maar ek was hierdie keer omtrent 20 minute vinniger,” sê Swiegers.

– Bykomende bron: www.atta.co.za

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!