Ministerie verwerp aanvalle op minister
Ministerie verwerp aanvalle op minister

Ministerie verwerp aanvalle op minister

Meningsverskille tussen verwante rolspelers in die onderwyssektor moenie ''n kloof tussen lede van die onderrig-familie veroorsaak nie, maar eerder tot sterker bande en ''n dieper begrip van elkeen se rol lei.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die minister van onderwys, kuns en kultuur is nêrens op rekord dat sy onderwysers sou geïntimideer en met optrede gedreig het in die tydperk wat ''n landwye onderwysstaking­ voorafgegaan het nie.

Dié aantygings is deur die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) gemaak wat in ''n amptelike verklaring die dreigemente voor die deur van minister Katrina Hanse-Himarwa gelê het. Volgens Nantu het die unie gevolglik alle vertroue in die minister verloor. Die verklaring het gevolg kort ná die ondertekening van ''n salarisooreenkoms tussen die regering en die unie wat die staking beëindig het.

Die ministerie het by monde van sy permanente sekretaris, me. Sanet Steenkamp, gesê alle ­amptelike verklarings deur Hanse-Himarwa­ met betrekking tot salarisonderhandelinge tussen die regering se onderhandelingspan en Nantu was in ooreenstemming met dié van die regering.

“Hoewel ons waarde heg aan en eerlike, ontledende en konstruktiewe kritiek verwelkom, verwerp ons die beledigende aanmerkings en aanvalle op die minister se karakter.”

Die verklaring beklemtoon voorts die minister is nêrens op rekord dat sy ná die staking onderwysers met optrede gedreig het nie.

“In al ons verklarings is dit duidelik die minister het die belange van die onderwysers en leerlinge op die hart gedra.”

Inligting wat deur verklarings oorgedra is, was om te verseker onderwysers, die ministerie se “direkte en kosbare aandeelhouers”, is ten volle ingelig en betrokke.

Steenkamp sê voorts Hanse-Himarwa as voormalige leier van Nantu en lid van die unie se Nasionale Onderwysersraad, die Nasionale Uitvoerende Komitee, sowel as die kollektiewe bedingingspan van Nantu en die Unie vir Namibiese Staatsdienswerkers (Napwu) is deeglik bewus van die regte van Namibiese werkers. Om dié rede kan hulle nooit “teen die regte van onderwysers vir vrye en regverdige vergoeding baklei nie”.

Volgens Steenkamp het die minister tydens haar besoeke aan streke telkens klem gelê op die feit dat onderwysers in “uitdagende omstandighede” werk en het sy die versekering gegee hul waardigheid sal ten volle “herstel” word.

“Tydens haar termyn en onder haar leierskap het die ministerie reeds hervormings geïmplementeer om dienslewering te bespoedig, doeltreffendheid te verhoog en terselfdertyd die voorsiening van inklusiewe kwaliteitonderwys, sowel as die bemarking van kuns en kultuur te verbeter.”

Om te beweer en aan te dring dat Hanse-­Himarwa onderwysers ondermyn en beledig, is volgens Steenkamp in sterk kontras met die “opregte pogings” van die minister in die jaar en nege maande wat sy die amp beklee.

Steenkamp het namens die ministerie haar opregte dank en waardering teenoor alle onderwysers en opvoeders uitgespreek vir hul toewyding en opoffering in die tydige en doeltreffende manier waarin hulle ná die staking weer in hul poste ingeval het.

“Daar is geen twyfel dat die toewyding wat getoon is om die voortsetting van die nasionale eksamens te verseker en om met onderrig voort te gaan, die gewilligheid en bekwaamheid van onderwysers bevestig het om die toekoms van leerlinge in ''n voortgesette en gefokusde manier voort te sit nie.”

Steenkamp het goeie verhoudinge met unies bevestig en beklemtoon meningsverskille moet nie ''n kloof tussen lede van die onderrig-­familie veroorsaak nie, maar eerder tot sterker bande en ''n dieper begrip van elkeen se rol lei.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!