München-aanval wys Duitsers is onvoorbereid
Erika Gibson
’n Agtienjarige Iranse Duitser se aanval het nie net krake in dié land se snelreaksievermoë uitgewys nie, maar gaan waarskynlik ook krake in die politieke mondering van me. Angela Merkel, Duitse bondskanselier, veroorsaak.
“Een mens wat skiet, het soveel chaos en paniek veroorsaak dat die polisie aanvanklik gedink het drie mense is betrokke. Videomateriaal wys hoe die man Vrydagaand buite McDonald’s in München op mense skiet voor hy die Olympia-winkelsentrum binnegaan en dáár eenvoudig sy verwoestingstog voortsit.
“Dit sal nooit in ’n sakekern in die VSA gebeur nie – die polisie sal die skieter summier uit aksie stel. Tot laat Vrydagaand kon die Duitse owerhede egter steeds nie sê wat presies gebeur het nie,” sê prof. Hussein Solomon, lektor in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.
The Telegrah het berig die skieter, Ali Sonboly, het blykbaar voor sy skiettog van afknouery gekla. Die polisie het tot dusver geen verbintenis met terroriste gevind nie. Minstens nege mense is in die skietery dood en 20 beseer.
Dit is die tweede aanval in vier dae in Duitsland ná ’n tienervlugteling van Afganistan by Würzburg mense met ’n byl en ’n mes aangeval en vier mense beseer het. Volgens Solomon is dit veel moeiliker om in Duitsland ’n vuurwapen te bekom as in die VSA, maar terselfdertyd is jaggewere volop. Dit verklaar moontlik waarom Vrydagaand se skieter ’n geweer gebruik het om sy terreurdaad te pleeg.
Volgens Solomon is dit duidelik dat die Duitse terreurpolisie nie voorbereid was op die aard van Vrydagaand se aanval nie – ondanks ’n onlangse byl-aanval én die staat van gereedheid wat tans in die meeste Europese lande geld.
’n Foto van die München-skieter, Ali Sonboly, is intussen in die Duitse media gepubliseer.
Buiten die feit dat hy ’n skoolseun was wat psigiatriese probleme gehad het, is min nog bekend oor die jong man wat jeugdiges onder valse voorwendsels na die Olympia-winkelsentrum genooi het, net om op hulle los te brand. Bure van Sonboly het hom in die media herken.
“’n Vriend van my was saam met hom op skool. Hy sê Sonboly was ’n stil ou.”
Frank-Walter Steinmeier, Duitsland se minister van buitelandse sake, het gesê die motief agter die skietery is nog onbekend.
Sonboly se pa is ’n taxibestuurder en help die polisie om die skietvoorval te ondersoek.
Sonboly was ’n bewonderaar van Anders Breivik, die Nordiese jong man wat tientalle kinders op ’n vakansie-eiland doodgeskiet het. Hy het ’n boek gelees: Amok im Kopf: Warum Schüler töten (Amok in die kop: waarom skoolkinders doodmaak) en het maats met die dood gedreig op rekenaarspeletjies en is daarom uit ’n groep, Steam, gegooi. Sonboly het die dreigement gemaak onder die name “Psycho,” “Until I see sense no more,” “Godlike” en “We will play this game to death”. Hy het op sosiale media geskryf “kom na McDonalds en ek sal sal jou kom kry en jou skiet.” Hy het gekla dat hy geboelie is, het aan depressie gely en het psigiatriese behandeling gekry. Sonboly is as “skaam en stil beskryf en het aan mense geskreeu wat in die winkelsentrum na hom gekyk het: ‘Ek is Duits’.” Volgens berigte het hy nie van “vreemdelinge” gehou nie, hoewel hy self van Iranse afkoms, maar in Duitsland gebore is. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie