• Tuisblad
  • Sake
  • Moeilike toestande vreet 91% van Game se wins
Moeilike toestande vreet 91% van Game se wins
Moeilike toestande vreet 91% van Game se wins

Moeilike toestande vreet 91% van Game se wins

Nellie Brand-Jonker – ’n “Uiters moeilike jaar wat onsself en ons aandeelhouers teleurgestel het”, het die Game-kettingwinkels se handelswins in die boekjaar tot einde Desember met 91% tot R32,6 miljoen laat val.

Guy Hayward, uitvoerende hoof van die Massmart-groep, met Game in sy stal, gee drie redes hiervoor:

1. Sy omset het met 1,2% tot R19,7 miljard gedaal. Hoewel Game se volume verkope met 2% toegeneem het, het deflasie van 3% op sy pryse vergeleke met die vorige jaar daartoe gelei dat die waarde van die verkope laer was.

2. Die groep het verlede jaar Game se hoofkantoor van Durban na Johannesburg verskuif, wat tot skerp hoër uitgawes gelei het. Selfs al is koste streng beheer, het uitgawes vinniger as verkope gestyg en dus ook die wins afgetrek.

3. Produkte is teen ’n effens laer winsmarge verkoop. Dit was hul eie skuld, erken Hayward. Die verskuiwing van die hoofkantoor met die gepaardgaande ontwrigting, het daartoe gelei dat hulle nie soveel op handelsmarges gefokus het soos hulle moes nie.

Die totale verkope van die Massmart-groep, wat ook Makro, Builders Warehouse, DionWired en groothandelaars soos Cash & Carry insluit, het met 2,9% tot R90,9 miljard gestyg.

Massmart het ook winkels in die res van Afrika, maar verkope in Suid-Afrika dra verreweg nog die meeste tot sy inkomste by.

Pryse het gedaal

Die maatskappy het deflasie op sowel kospryse (1,1%) as die prys van duursame goedere (1,7%) aangemeld.

“Die deflasie op kospryse het sukkelende verbruikers bevoordeel, maar het druk op ons winsgewendheid geplaas omdat ons verkope met minder gegroei het as waarmee ons uitgawes gestyg het,” sê Hayward.

Die deflasie op duursame goedere het ook nie verbruikers aangemoedig om meer te koop nie, want hulle het versigtig gebly en hul aankope tot promosies beperk.

Ten spyte van rekordverkope op Swart Vrydag, was die verkope in November en Desember swakker as verwag.

Omdat die groep verlede jaar in Februarie begin het met herstrukturering om twee van sy winkelgroepe se hoofkantore van Durban na Johannesburg te skuif, het sy uitgawes met 5% gestyg.

Die laer verkopegroei en hoër styging in uitgawes het die groep se handelswins met 16% tot R2,1 miljard afgetrek.

Die herstrukturering waarmee die verskuiwing van Game en Jumbo se hoofkantore na Johannesburg gepaardgegaan het, het ’n koste van R161 miljoen meegebring. Dit het die bedryfswins voor rente en belasting met 25% tot R1,9 miljard laat daal.

In geheel het die Massmart-groep se wins in die boekjaar met 35% tot R868,7 miljoen gedaal.

Dividend skerp laer

Die teleurstellende jaar het veroorsaak dat die maatskappy se dividend 40% verlaag, soos wat vandeesweek ook van ander winkelgroepe gesien is.

Massmart se grootste aandeelhouer is die Amerikaanse Walmart-groep en hy gaan dus ook minder dividende kry.

Boonop word die keuse aan aandeelhouers gegee om te kies tussen kontant of aandele in die plek van ’n dividend. Volgens Hayward word dit gedoen om kontant in hierdie moeilike tye te bewaar.

Die groep sê gegewe sy teleurstellende finansiële vertoning in 2018, die gedempte ekonomiese groei wat verwag word in die komende jare en die moontlikheid van negatiewe ontwikkelings in belangrike makro-ekonomiese faktore, word die opening van nuwe winkels selektief beperk om die kontant en kapitaal wat daarvoor benodig word, te verminder.

Die afgelope jaar was Massmart se kapitaalbesteding reeds die laagste in byna vyf jaar.

Die groep se aandeelprys het Donderdag in ’n stadium met byna 11% gedaal ná die nuus oor sy dividend. Teen namiddag was sy aandeelprys 6% laer op R87,43.

“Ons bly versigtig oor die vooruitsigte vir die verbruikersekonomie in die eerste helfte van die 2019-boekjaar,” sê Hayward. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!