Moody's: 'SA sal verkeerd bestee voor verkiesing'
Moody's: 'SA sal verkeerd bestee voor verkiesing'

Moody's: 'SA sal verkeerd bestee voor verkiesing'

Moody's sê die ANC-regering se beleid gaan sakevertroue in Suid-Afrika net al hoe meer laat verswak. Dis reeds op die laagste vlak in 32 jaar.
Suid-Afrika belowe nou al sedert 2012 dat hy staatsondernemings gaan regruk, maar niks kom daarvan nie.

Daarby is die kans goed dat die ANC-regering in die aanloop tot die 2019-verkiesing al hoe meer gaan bestee en geen poging sal aanwend om strukturele probleme in die ekonomie reg te ruk nie.

Dis die pessimistiese siening van die kredietgradeerder Moody's Investors Service in 'n navorsingsartikel oor die land se stygende armoedekrisis.

Moody's sê as die staat sy maatskap­like besteding verhoog, pleks van ­kapitaalbesteding – wat groei kan bevorder – of besteding op menslike kapitaal, sal dit sakevertroue selfs verder ondermyn, “wat investering sal ontmoedig en potensiële langer­termyngroei sal verswak”.

Moody's besluit in Desember of hy staatskuld tot rommelstatus afgradeer en uitsprake soos dié laat die vooruitsig maar troebel lyk.

Zuzana Brixiova, 'n senior ontle­der en visepresident van die krediet­gradeerder, sê die staat se beloofde fiskale konsolidasie is reeds onder druk omdat die staat weens die swak ekonomie minder belasting invorder as wat begroot is en omdat staatsondernemings se geldsake so beroerd is en die staat se waarborge ingeroep gaan word. Daarby gaan die armoedekrisis die regering waarskynlik oorhaal om besteding te verhoog, benewens die styging in staatstoelaes.

Volgens Peter Attard Montalto van die beleggingsbank Nomura gaan die regering vanjaar R50 miljard minder belasting invorder as waarvoor in die Februarie-begroting begroot is.

Teen einde Oktober moet die Suid-Afrikaanse Lugdiens R6,8 miljard se lenings terugbetaal. Die vermoede bestaan dat die regering sy Telkom-aandele gaan verkoop om die skuld te delg.

Moody's sê armoede, werkloosheid en ongelykheid is hoër as in die meeste ander ontluikende lande.

Volgens Moody's se berekeninge leef 16,6% van Suid-Afrikaners in armoede. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!