Mujoro verwerp alle 'samesweringsteorieë'

'n Opposisieparty sê hulle is aan die Here dank verskuldig dat die verkiesingskommissie nie sy IT-kundige afgedank het nie.
Denver Kisting
Denver Kisting



As die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) na hul pleidooi geluister en vir mnr. Milton Shaanika-Louw in die pad gesteek het, sou grootskaalse beweerde verkiesingsbedrog nie nou oopgevlek gewees het nie.

So sê mnr. Bernadus Swartbooi, die leier van die Landless People's Movement (LPM).

Die LPM het op 'n ­nuuskonferensie in Khomasdal in Windhoek gereageer op nuus dat Shaanika-Louw aanvoer daar is wel met die afgelope ­Nasionale Vergadering en presidensiële verkiesings se uitslae geknoei.

Shaanika-Louw, die ECN se tegniese adviseur, het dié uitlatings gemaak te midde van nuus dat klagte van diefstal hom in die gesig staar.

Dit het die afgelope week aan die lig gekom hy het na bewering vyf skootrekenaars wat aan die ECN behoort, aan 'n plaaslike pandjieswinkel gesmous.

Gister het Swartbooi gesê: “Dank God die ECN het nie na ons pleidooi geluister om van Milton Louw ontslae te raak nie.”

Dié opposisieleier sê: “Ons het nie 'n verkiesing gehad nie. Ons het 'n seleksie gehad. Die ware stem van Namibiërs is van hulle geroof.”

Volgens Swartbooi beskik hulle oor inligting dat twee rekenaars wat nie aan die internet verbind is nie, glo gebruik is om verkiesingsbedrog te pleeg.

Twee Indiese burgers, wat die land sonder werkspermitte binnegekom het, was glo aan stuur van die knoeioperasie.

Data kan glo net van en aan dié rekenaars verskaf word met behulp van verwyderbare media, soos geheuestokkies, het Swartbooi gister­oggend aangevoer.

Dit staan as 'n air gapped-­rekenaarstelsel bekend, sê hy.

Een van die twee buitelandse vermeende stemuitslae-knoeiers het glo sy eie gebruikersnaam gebruik wat hom aan die kaak gestel het, beweer Swartbooi – eens 'n ­adjunkminister in die Swapo-­geleide regering.

Volgens die LPM se ontleding van die beweerde toedrag van sake het die twee mans in 'n voertuig naby die ECN se hoofkantoor in Windhoek-Noord hul ding gedoen.

Hulle sou dan na bewering na die hoofkantoor toe reis om die inligting aan mnr. Theo Mujoro, die hoofkiesbeampte van die ECN, te verskaf.

Uitslae is glo reeds van 26 tot 29 November gelaai en “aangepas om aan die behoeftes van die werklikheid op die grond te voldoen”, het Swartbooi aangevoer.

LPM, wat hul buiging in die afgelope verkiesings gemaak het, het vier setels in die Nasionale Vergadering op hulle verenig.

Teen die tyd wat die ECN die dag ná stemdag op 27 November “wakker geword het, het die LPM reeds 25 setels gehad”, voer Swartbooi voorts aan.

Hulle is sedertdien al dié stemme kwyt, meen hy.

Swartbooi sê voorts hulle verneem “'n EVM-begrafnis” het in die Kalahari plaasgevind.

'n Onbekende aantal elektroniese stemtoestelle (EVM's) is na bewering in die woestyn begrawe, voer hy aan.

Hy sê “die Swapo-regbank” is glo nie opgewasse om met 'n verkiesingsgeding om te gaan nie.

Die eertydse onafhanklike presidentskandidaat, die tandarts en Swapo-lid dr. Panduleni Itula, het verlede week 'n geding teen die ECN by die hooggeregshof ingedien.

Itula is eweneens nie tevrede met 'n aankondiging deur adv. Notemba Tjipueja, die ECN-voorsitter, op die aand van 30 November dat pres. Hage Geingob weer met die louere weggestap het nie.

Intussen het die amptelike opposisie, die Popular ­Democratic Movement (PDM), gister by monde van sy sekretaris-­generaal, mnr. Manuel Ngaringombe, 'n beroep op die inspekteur-­generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, en die aanklaer-generaal, me. Martha Imalwa, gedoen om Shaanika-Louw te beskerm.

Hoewel die PDM dankbaar is vir die 16 setels – teenoor 2014 se ses – wat hulle vanjaar verower het, betreur hulle die beweringe oor verkiesingsbedrog, het Ngarin­gombe gesê.

Swartbooi is egter van mening die PDM en Swapo is kop in een mus. “Die PDM is Swapo se minnares.”

Op 'n vraag of Shaanika-Louw se bewerings steek hou, het Swartbooi gister gesê dit regverdig minstens 'n ondersoek. “Selfs 'n stukkende horlosie is twee keer per dag reg.”

Mujoro het by navraag gister aan Republikein die bewerings as bog afgemaak.

Hy sê: “Dit is alles goedkoop. Dit is goedkoop same­sweringsteorieë. Duidelik die werk van verwronge­ koppe.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer