Mukurob leef in Suiderhof voort
Mukurob leef in Suiderhof voort

Mukurob leef in Suiderhof voort

Tanja Bause
Tanja Bause - Die Mukurob-standbeeld deur die kunstenaar Dirk Louw staan al die afgelope 23 jaar in Windhoek.

Die oorspronklike Mukurob-rots, ofte wel “die vinger van God”, ’n rots wat in die Suide van Namibië gestaan het, het op 7 Desember 1988 omgeval.

Die rots was 12 meter hoog met ’n deursnee van tot 4,5 m en het 450 ton geweeg.

Dit het meestal uit sandsteen bestaan en sy basis was net drie meter lank en 1,5 m breed.

In 1996 het mense verskeie foto’s en koerantuitknipsels aan Louw gestuur, waarna hy navorsing oor dié besonderse struktuur begin doen het.

“Ek het al die foto’s op skyfies gesit en hulle teen ’n muur geprojekteer. Ek het toe begin om mates uit te werk sodat ek die kunswerk op skaal kon maak,” het hy gesê.

Dít was volgens hom geen maklike taak nie, omdat die meeste foto’s wat van die Mukurob geneem is net vanuit een of twee hoeke geneem is.

“Daar was min foto’s van die ander kante, maar ek kon uiteindelik ses kante identifiseer wat oorvleuel het en die beeld maak.”

Louw het ’n staalraam gemaak en dit met ogiesdraad omhul voordat hy dit met sement gepleister het.

“Ek het die sement toe gesny tot die Mukurob sy vorm aangeneem het.”

Die oorspronklike beeldhouwerk staan vandag in Hendrik Hopstraat in Suiderhof.

“Ek het ook al vyf replikas uit veselglas gemaak. Een staan op Hentiesbaai, een op Windhoek en een op Lüderitz. Ek weet nie waar die ander twee is nie. Die oorspronklike een weeg ’n ton en die replikas is baie ligter, omdat dit nie uit sement bestaan nie.”

Louw is op ’n plaas op Maltahöhe gebore en het die Mukurob as kind sien staan.

“Ek was in Duitsland toe hy omgeval het,” het hy gesê.

“Ek is kunstig, maar glad nie ’n beeldhouer nie. Ek het die gier om die Mukurob te skep, uit die bloute gekry en dit gedoen.”

Hy het op skool al skaakfiguurtjies uit bordkryt gesny.

“Dit is ’n passie en ek hou daarvan om goed met my hande te skep. Ek het al die meubels hier in my huis self gemaak,” het die gekwalifiseerde vliegtuigingenieur gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!