Mutorwa lê die sweep in

Ondoeltreffendheid en beamptes se houding krap die minister van werke en vervoer om.
Augetto Graig
Augetto Graig



“Tenders en kontrakte verarm die land!

“Die idee was om diegene te bemagtig wat uitgesluit was, maar die misbruik raak nou net te veel.”

Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, het vandeesweek werknemers in sy ministerie en staatsondernemings wat daaronder val, gewaarsku om baie vinnig hul sokkies op te trek. Mutorwa, voormalige minister van landbou, water en bosbou, was Maandag 60 dae in sy nuwe pos. Hy het op die dag die topbestuur en direksie van sy ministerie byeengeroep, asook dié van al die staatsondernemings wat onder die ministerie val. Mutorwa het kwessies uitgelig waarop hy gedurende besoeke aan verskeie afdelings van die ministerie en betrokke staatsondernemings afgekom het. Die minister dring daarop aan dat beamptes klagtes moet ondersoek en regstellende aksie neem waar dit nodig is. Die ministerie sal nié diegene beskerm wat nie hul kant bring nie, het hy gewaarsku.



KWESSIES

Mutorwa was veral omgekrap deur aanhoudende klagtes oor die toewysing van regerings­huise.

“Wat ek beslis nie kan goedpraat nie, is teenstrydighede en onbillikheid gepaard met die wyse waarop huise toegewys word,” het hy gesê. “Ek het reeds die ministerie se behuisingskomitee by wyse van die permanente sekretaris opdrag gegee om 'n omvattende verslag met voorstelle en komiteebesluite, spesifiek in die 2017-'18-boekjaar, in al 14 streke van Namibië nie later nie as 30 April by my in te dien.”

Volgens hom is die klagtes in die verband net te veel om verder te ignoreer. Die minister verwag ook dat 'n ministeriële bateregister teen Julie voltooi moet wees. Volgens die permanente sekretaris, mnr. Willem Goeiemann, word die register tans opgedateer en die data word op ver­skeie plekke in die 14 streke bevestig. Dit sal teen Julie bekend gestel word.

Aanspreeklikheid, bewustheid oor dringendheid, dissipline, professionaliteit en werksetiek verg konstante en aanhoudende verbetering, het Mutorwa gesê. Die tekort aan hierdie beginsels is volgens hom 'n probleem, van die topadministrasie af tot by die laagste vlak van werkers en die betrokke staatsondernemings.





VAKANTE poste

Mutorwa is ook ontevrede oor die aantal poste wat vakant is of deur waarnemende werknemers gevul word.

Te veel waarnemende adjunk permanente sekretarisse, direkteure, hoofbeamptes, en diegene wat te lank in die posisies is, lei tot twyfel­agtigheid, besluiteloosheid, ongemaklikheid en onsekerheid, sê hy.

Die minister het benadruk dat reëls, regulasies en betrokke wette regverdig, redelik en volledig toegepas moet word. Dit, sê hy, sal verbetering op alle vlakke van administrasie verg, veral onder die top- en middelbestuur.

“Klagtes oor misbruik, diefstal en vermorsing van openbare hulpbronne, asook bewerings van voortrekkery, nepotisme, misbruik van posisies en korrupsie moet nie geïgnoreer word nie. Dit moet dringende aandag geniet en uitgewis word, op administratiewe vlak en volgens wet.” Volgens Mutorwa is daar “net te veel van die soort klagtes”.



Staatsgarage

Wanfunksie en ondoeltreffendheid moet volgens hom ook vinnig reggestel word.

Veral by die staatsgarage, maar ook in ander departemente, direktorate en afdelings van die ministerie en staatsondernemings oor die hele land heen, moet sake drasties verbeter. “Hoekom moet die staatsgarage 'n skrootwerf vir regeringsvoertuie wees pleks van 'n hospitaal vir voertuie? Hoekom moet regeringshuise verwaarloos en afgebreek word sodat daar nou veilige skuilplekke vir misdadigers en misdaad in al 14 streke van die land is? Burokrasie en ondoeltreffendheid is die oorsaak hiervan.”

Volgens die minister moet almal in die ministerie en die betrokke staatsondernemings self verantwoordelikheid neem om te verseker Namibiërs kry die diens wat hulle verdien. Mutorwa sê geldige klagtes word daagliks deur sy kantoor ontvang oor swak konstruksiewerk, toesighouding, boumateriale en ­onderhoud van openbare fasiliteite en infrastruktuur.

“Die ironie is dat die regering en van die staatsondernemings na bewering buitensporige hoë bedrae betaal vir onvoltooide, laegehalte-­regeringsgeboue, huise, paaie, spoorlyne, lughawens, hysbakke en dies meer. Dieselfde geld wat betref klagtes oor stryery en geskille oor tenders en kontrakte.”

Mutorwa het vervolgens 'n streng waarskuwing gerig aan werknemers wat hul skuldig maak aan “onreëlmatigheid, ongeregtighede en onregte”.

“Die lang arm van die gereg sal julle binnekort vang!”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!