Mwanza is Oeskoning

Toe Mavuto Mwanza onlangs formeel as die Oeskoning aangewys is, is die geleentheid deur die Swapo-party se sekretaris-generaal, Sophia Shaningwa, bygewoon.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Mavuto Mwanza, die plaasbestuurder van Kalahari Holdings se De Rust-plaas buite Grootfontein, is as vanjaar se Oeskoning gekroon.

Dit nadat hy ‘n droëland oes van 9,53 ton mielies per hektaar op altesaam 450 ha afgehaal het. Boonop is dit sy eerste jaar as plaasbestuurder op De Rust.

“Ek het nie eers geweet daar is sulke kompetisies nie,” het hy gesê tydens ‘n besoek van Republikein aan die plaas in die afgelope week. Op De Rust verloop sake glad, daar word van die jongste landbou-tegnologie gebruik gemaak en Mwanza hou ‘n wakende oog oor beide die werkers en dat die masjinerie in goeie, lopende toestand bly.

Kalahari Holdings is die sakearm van Swapo.

Toe Mwanza onlangs formeel deur die Grootfontein Boerevereniging as die Oeskoning aangewys is, is die geleentheid ook deur hoëprofiel persoonlikhede soos Swapo se sekretaris-generaal, Sophia Shaningwa, bygewoon.

SUKSESRESEP

Hy sê sy suksesresep bestaan uit vyf stappe.

“Die eerste is om ‘n vergadering met boere te hou vóór jy begin plant. Daar is dikwels nuwe tegnologie en tegnieke waarvan jy dalk nie weet nie en waaroor jy van ander kan leer,” het hy gesê.

Tweedens moet jy die regte variëteite saad gebruik, die regte grondbewerking doen en jou onkruid beheer sodat dit nie met jou mielies meeding nie.

“Wat saad betref, kry jy goeie saad en slegte saad. ‘n Boer moenie net die eerste sak saad wat hulle in ‘n winkel kry, koop nie.

“Hittetoestande vir mielies in Namibië is gunstig tussen Oktober tot Desember. As jy eers middel Desember plant, raak toestande teen Maart reeds minder gunstig. As jy dus ‘n saadvariëteit koop wat vyf maande benodig om volwassenheid te bereik, het jy gefaal nog voor jy begin het,” het hy gesê.

“Die saad moet ook hitte- en droogtebestand wees,” het hy bygevoeg.

“Onkruidbeheer is belangrik. As jy binne die eerste vyf weke nadat jy geplant het, onkruid het, verloor jy tot 50% van jou oes.

Hy sê hy moes ‘n stryd teen geharde onkruid voer en het gevolglik van die beste chemiese programme vir onkruidbeheer gebruik gemaak.

“Dit is ‘n sleutelfaktor in droëlandproduksie, jou lande moet skoon wees. Jy wil nie hê jou mielies moet met onkruid vir water en voedingstowwe meeding nie.”

Mwanza sê dit is nodig om so vroeg as moontlik te plant, sodra daar doeltreffende reën val. “Dit is sodat jou mielies genoeg somer-ure het om volwassenheid te bereik.

“Ons het vroeër op De Rust geplant as die meeste ander plase in die gebied. Daar is geen manier hoe jy ‘n groot oes gaan afhaal as jy te laat plant nie,” het hy gesê en verwys na verlede jaar toe dit só baie in die Mieliedriehoek gereën het dat die lande vir lank te nat was om te begin ploeg.

“Enige een kan dit regkry as hulle die regte stappe volg,” sê Mwanza.

GEMENGDE BOERDERY

De Rust is ‘n gemengde boerdery waar mielies, maar ook speenkalwers en groente geproduseer word. “Ons bied die nasie dus ‘n volle kosmandjie,” sê hy.

Die plaas se assistentbestuurder, mnr. Toromba Tjizaum, het gewys dat hulle kruisteel-speenkalwers van ‘n Brahmaanbul asook ‘n Simbra-bul produseer. Die speenkalwers word veilings toe geneem.

Daar word ook kool en wortels onder besproeiing aangeplant en De Rust maak sy eie saailinge in ‘n kwekery. Dit word aan beide formele asook informele markte verkoop.

Die Mieliedriehoek is die gebied waar die meeste mielies in die land kommersieël geproduseer word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!