My stuiwer oor die kwessie van borgtog
My stuiwer oor die kwessie van borgtog

My stuiwer oor die kwessie van borgtog

Mandy Rittmann
JOHN FREDERICKS SKRYF:

Dit is betreuenswaardig om die selektiewe toepassing van geregtigheid en die skending van basiese en grondwetlike regte in ons regstelsel te ervaar.

Oor die afgelope paar jaar het heelwat beslissings van ons howe wenkbroue gelig oor nie net die toepassing van wette nie, maar die intepretasie van die wette van ons land. Die wetsvoorsiening vir borgtog blyk te wees dat dit geskoei is op die magistraat se vertolking van die voorsiening en nie die wettelike en grondwetlike voorsiening van borg en die gepaardgaande reëls nie.

Drie lopende sake voor die hof bepalend borg is die volgende:

• Die plaaseienaar van Okahandja wat vermoedelik 'n oortreder op sy plaas doodgeskiet het.

• 'n Seun van 'n bekende in motorsportkringe wat vermoedelik verantwoordelik en verhoorafwagtend is vir die dood van ses mense.

• Twee buitelanders en 'n Namibiese burger wat die staat na bewering van miljoene, nee … miljarde besteel het.



VIR SOMMIGE, MAAR NIE VIR ANDER?

In bogenoemde drie sake was ­borgtog geweier aan die persoon in die eerste saak. 'n Praktiese ­ontleding is dat die eienaar iemand op sy eiendom gewaar het, en 'n skoot afgevuur het met noodlottige gevolge vir beide betrokkendes. Die staat moet dus bewys dat die optrede van die eienaar voorbedag, koelbloedig, met opsetlikheid en kwaadwillig was, wat later sal bepaal of dit moord of strafbare manslag sal wees.

Terwyl die staat die saak ondersoek kom die aansoek om borg in gedrang. Die toestaan van borg is 'n fundamentele en grondwetlike reg. In 'n saak waarin die beweerde sluipmoordenaar van wyle Anton Lubowski aansoek gedoen het om borg, skryf die oud-hoofregter Mahomed:

“An accused cannot be kept in detention pending his trial as a form of anticipatory punishment. The presumption of the law is that he is innocent until his guilt has been established in Court. The Court will therefore ordinarily grant bail to an accused person unless this is likely to prejudice the ends of justice.”

Nieteenstaande bostaande aanhaling en alle formele en geregtelike aansoeke om borg aan die ­beskuldige in die eerste saak, was borg herhaaldelik afgekeur, wat duidelik nie net 'n afwyking van die ­basiese en menslike regte is nie, maar ook ­ontbreek aan enige vorm van ­menslike gesindheid en menslikheid.

In die tweede saak het ons 'n ­persoon wat direk en indirek daarvan beskuldig word dat hy ­vermoedelik vir die dood van 6 mense op 'n openbare pad verantwoordelik is . . . en borg word aan die persoon toegestaan. Die voorval/ongeluk het nie op private eiendom geskied nie, maar in 'n openbare gebied wat die moontlikheid insluit dat meer lewensverliese kon geskied het.

In die derde saak word die aangeklaagdes van 'n reeks misdade beskuldig wat sterk grens aan ekonomiese hoogverraad. Die staat word met miljarde Namibiese dollars ingeloop (wat aangewend kon gewees het om tien of meer skole te bou, vyf of meer hospitale of selfs die laekoste behuisingsprobleem in totaliteit aangespreek het) en na twee hofverskynings word borg toegestaan. (Met voorwaardes wat ook vir die persoon in die eerste saak kon gegeld het).



HIERDIE IS GEEN AANVAL

Dit is 'n feit dat alle sake op meriete beoordeel moet word, maar die reëls van die howe is universeel en die toepassing van reëls moet geskied soos vasgelê en voorgeskryf word. Dit laat die vraag ontstaan of ander oorwegings geld vir diegene met geld en aansien ("all animals are equal before the law but some are more equal than others?")?

Die kern van my skrywe is nie noodwendig om die aansien van die howe te beskadig nie, nog is dit 'n regsopinie, maar eerder 'n ope vraag oor die aansoek om, en die goedkeuring van borg.

Dit word aangevoer dat: “Bail is non-penal in character . . . neither the amount determined for bail, nor the refusal of bail may therefore be influenced by punitive notions, for example, to punish the alleged offender or to deter other possible offenders” (Criminal Procedure Handbook, 2011).

Ek herhaal, hierdie skrywe is nie 'n regsopinie nie, maar net 'n waarneming van gebeure in ons howe. Daar is heelwat ander sake wat ook aangespreek kan word, maar die kwessie van borg is vir my 'n vlieg onder die kraag.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!