N-Koreaanse minister op pad
Noord-Korea se minister van buitelandse sake kom Namibië glo binnekort besoek.
Estelle de Bruyn - Met die internasionale spreiligte op Noord-Korea weens die sluipmoord op Kim Jong Nam, halfbroer van die land se leier, Kim Jong Un, asook nuwe ballistiese missieltoetse, is Namibië se deure wyd oop vir ‘n besoek van dié omstrede land se minister van buitelandse sake.
Noord-Korea se minister Ri Yong-Ho is na wat betroubaar verneem word, onderweg na Namibië. Na verwagting sal hy die land binne die volgende twee weke besoek.
Sover bekend is die jongste verslag van die Verenigde Nasies se spesiale paneel belas met ondersoeke na die verbreking van VN-sanksies rakende Pjongjang en voortgesette samewerking tussen die twee lande op die sakelys.
Namibië se omstrede, intieme betrekkinge met Noord-Korea is reeds in die internasionale kollig, met die jongste verslag van die VN wat opnuut die fokus geplaas het op Namibiese skendings van Veiligheidsraadresolusies wat sedert 2006 ingestel is.
Republikein het verlede week berig oor die jongste verslag van dié spesiale paneel waarin konstruksiewerk deur Mansudae Overseas Projects (MOP), ‘n frontmaatskappy van Korea Overseas Mining and Development Trading Company (Komid), opnuut aan die groot klok gehang is.
Desondanks al die onthullings swyg die regering soos die graf.
Die laaste woord wat gerep is oor Namibië se ekonomiese en diplomatieke betrekkinge met die uitgeworpe land, was ‘n volstrekte skriftelike ontkenning by wyse van ‘n mediaverklaring deur die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking dat Namibië enige VN sanksies geskend het sedert dit (in 2006) ingestel is, en die versekering dat Namibië aan alle VN-resolusies gehoor gee. Die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbu Nandi-Ndaitwah, het tydens ‘n nuuskonferensie verlede jaar toe sy gevra is oor voortgesette betrekkinge met Pjongjang, volgehou dat diplomatieke bande soos normaal voortgaan en slegs kommersiële bande verbreek is.
Vorige versoeke van Republikein vir onderhoude met die ministerie van verdediging en Staatshuis, waar pres. Hage Geingob die beheervoerende bevelvoerder van die weermag is, asook die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking, is van die hand gewys.
Ondertussen maan verskeie kenners wat vertroud is met die VN en die implikasies van die skending van sanksies, dat Namibië op dun ys is.
Geteikende sanksies teen individue, die bevries van buitelandse bankrekeninge en beleggings, ‘n reisverbod en vele meer kan voor die deur wees as die regering voortgaan met sy onverskillige minagting van internasionale resolusies teen ‘n land wat willens en wetens die kernsperverdrag verontagsaam en daarop uit is om die internasionale gemeenskap met voortgesette ballistiese missieltoetse te tart.
Indien Namibië se grootste skenkerslande, in die besonder Amerika waar ‘n galvinistiese president Donald Trump aan die stuur van sake is, en Duitsland, besluit om die krane vir ontwikkelingshulp toe te draai, kan dit verreikende gevolge vir die land inhou, maan kenners.
Noord-Korea het sedert 1994 nie meer ‘n ambassade in Namibië nie, maar die diplomatieke betrekkinge word van Noord-Korea se ambassade in Pretoria, Suid-Afrika, behartig.
Komid is ingevolge VN-sankies op die swartlys omdat dit buitelandse valuta verdien deur onder meer openbare “kunswerke,” standbeelde en monumente in Afrikalande te bou. Die heldeakker en onafhanklikheidsmuseun is tekenende voorbeelde van die werk.
Volgens die verslag van die VN-paneel van deskundiges is Komid en Mansudae verbind, hetsy deur samewerking of om mekaar as fronte te gebruik.
Uganda, nog ‘n Afrikaland waar Noord-Korea sy tentakels ingeslaan het, het verlede jaar bekend gemaak dat dit alle veiligheid- en militêre samewerking met Pjongjang verbreek.
Ekonome met wie Republikein gesels het, wys daarop dat Noord-Korea geen beleggings in Namibië doen nie, geen werk skep nie en geen ontwikkeling inisieer nie, maar bloot hier is om waardevolle buitelandse valuta uit die land te neem deur transaksies wat bevraagteken word.
‘n Ontleding van die ministerie van verdediging se begroting vir 2016-2017 is moeilik omdat geen duidelike inskrywing van die N$13 miljoen vir Mansudae se “opknapping” van ‘n gastehuis van die ministerie in Academia, Windhoek, gevind kon word nie. Klaarblyklik word hierdie “klandestiene” uitgawes onder die vae “navorsingsbegroting” verskuil.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie