’n Plek van­ kennis en hoop

Meer as 50 000 mense het reeds hier om hulp en opleiding kom aanklop.
Helené Bam
Helené Bam

“ Wanneer jy in hierdie gebou instap, is daar geen perke op wat jy kan vermag nie,” sê me. Michelle Simasiku, oor die Omaheke-streekbiblioteek wat op Gobabis geleë is.
Simasiku werk as ’n senior bibliotekaris en koördineer ook die biblioteek se aktiwiteite in afgeleë gebiede in die streek. “Dit is vir ons baie belangrik om lede van ons gemeenskap met kennis te bemagtig en hul daaglikse lewes te verryk,” sê sy.
“Hierdie biblioteek maak enigiets moontlik. Jy kan kom leer hoe om jou eie besigheid te begin, of navorsing doen as daar sekere vaardighede is wat jy graag wil aanleer soos kook, tuinmaak, boekhouding of boerdery,” vertel sy.
Die biblioteek het op 24 November 2014 sy deure oopgemaak. Sedertdien het meer as 50 000 mense al oor die drumpel gestap. “Party mense kom loer net in omdat hulle nuuskierig is, ander kom om die rekenaarsentrum te gebruik of om koerant te lees,” sê sy.
Ná skool word die jongspan met skaaklesse, poppekasvertonings, opvoedkundige rekenaarspeletjies en huiswerkklasse besig gehou. Die sleutelborde wat deur die kinders gebruik word, is ook spesiaal van groter knoppies en kleure voorsien.
“Op die dorp is baie kinders wat net in die strate ronddwaal. Die biblioteek bied vir hulle ’n veilige plek waar hulle konstruktief besig kan bly. Ons het ook ’n mobiele biblioteek wat probeer om soveel as moontlik mense te dien,” sê Simasiku.
Tieners kan ook by die biblioteek se boekklub aansluit waar verskillende boeke en aktuele sake weekliks bespreek word. Veilige seksuele praktyke, MIV/vigs, die gevare van dwelmgebruik, selfbeeld en vriendskap is van die temas wat in die boeke voorkom en bespreek word.
Volgens die hoof van die rekenaarsentrum, me. Page Mutonga, bied die biblioteek die geleentheid aan mense om hulle te verryk.
“Hier kom mense by ons aan wat nie eens weet hoe om ’n rekenaar aan te skakel nie. Ons leer hulle basiese rekenaarvaardighede en dit doen wondere vir hul selfvertroue. Ons bied ook tikklasse aan en toegang tot die internet is gratis – dit bring mee dat die digitale gaping in ons land al kleiner word,” sê Mutonga.
Mutonga meen dit is belangrik dat mense oor basiese rekenaarvaardighede beskik, “want in vandag se lewe gaan jy nie werk kry as jy nie op ’n rekenaar kan werk nie”.
“Een van die ­grootste uitdagings wat die biblio­teek in die gesig staar, is dat die meerderheid mense in die omgewing nie noodwendig weet wat die doel of funksie van ’n biblioteek is nie. Sommige mense is huiwerig om te kom en ander weet weer nie wat om te doen wanneer hulle wel hier is nie.
Dit is deel van die leerproses; ons is hier om hulle by te staan,” sê me. Olivia Ebas, assistent by die sake-afdeling.
Volgens Ebas is die biblioteek ’n instrument van bemagtiging. “Ek help mense om vir die eerste keer in hul lewe die internet te gebruik of ’n e-pos te stuur. By die sake- afdeling kan graad 12’s ook navorsing doen oor toekomstige studierigtings. Hier word dinge wat voorheen net ’n droom was moontlik gemaak.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!