’n Stewige oes poësie is op pad
Liefhebbers van Afrikaanse poësie kan in 2020 uitsien na ’n ryke oes digbundels wat vanaf Februarie die winkelrakke tref.
Die waarheid oor duiwe is die langverwagte poësiedebuut van Gisela Ullyatt, Versindaba-blogger en redakteur van Afrikaanse poësie by die literêre tydskrif New Contrast, van wie ’n paar gedigte reeds in 2013 in Nuwe Stemme 5 opgeneem is. Volgens die uitgewer fokus dié bundel, wat in Februarie verskyn, op intieme ruimtes, jeugherinneringe en verlies en die hooftema dui op ’n proses van vervreemding van die alledaagse, toenemende vereensaming, verlies en verlange. Sekerhede word opgeskort en die donker ondertone van die daaglikse, dikwels teleurstellende en selfs ontstellende werklikheid word ontbloot. Hierdie aanbod vind plaas teen die agtergrond van onder meer ’n religieuse onderbou van Bybelse en ook Boeddhistiese verwysings, vernaam in die haikoes in afdeling drie, wat ’n rol speel om die gegewe saam te snoer en bepaalde temas uit te bou. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R180.
Die oeuvre van die digter, akademikus en resensent Marius Crous is ’n vierde bundel ryker: Tussenganger, wat ook in Februarie by Protea Boekhuis verskyn, word soos volg deur die digter en resensent Louis Esterhuizen beskryf: “Tussenganger is duidelik die werk van ’n digter wat in die volle krag van sowel sy eie kreatiewe denke as vakkundige vernuf staan. Dit is ’n digverweefde, deurgekomponeerde en uitdagende teks wat die leser nie net met die totaliteit van sy/haar menswees konfronteer nie, maar ook dwing om afstand te doen van geykte opvattings en veral verwagtings. Genadelose poësie, inderdaad, en by uitstek hermeties van aard met geen ‘gemaklike’ toegewing aan die leser óf die aangesprokene nie. Trouens, nog selde was T.S. Eliot se uitspraak ‘Genuine poetry moves before it is understood’ só van toepassing as met hierdie gedigte.” Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R180.
In Nathan Trantraal se derde bundel, Oolog, word stryd, konflik en oorlogvoering op verskeie vlakke ondersoek – nie net met verwysings op ’n nasionale en internasionale skaal nie, maar veral in die beskrywing van intieme, persoonlike ruimtes. ’n Dreigende atmosfeer by die huis en op straat word opgeroep. Soos met sy vorige bundels word die realiteite en leefwe^reld van die Kaapse Vlakte oopgeskryf. Met sy kenmerkende narratiewe verse, geskryf in verrykende Kaaps, vertel Trantraal stories wat dikwels met ’n vuishou in die verrassende slotree¨ls tref. Die uitgewer beskryf die gedigte as “vindingryk en vreesloos, met donker humor maar nie sonder deernis nie”. Die amptelike publikasiedatum is 14 Februarie. Uitgewer: Kwela. Prys: R220.
En nog is dit het einde niet. Op Protea Boekhuis se voorlopige publikasielys tot Junie pryk ook die volgende digbundels: Kobus van der Riet, wat in 2012 met Die onsienlike son gedebuteer het, se Die heimlike heiligdom, in April; Hennie Meyer, wat tien jaar gelede in Nuwe Stemme 4 (2010) sy buiging gemaak het, se Winkel van wanklanke in Junie; en die Pretoriase kunshistorikus Eunice Basson, wat in 2014 met die bundel Leiboom gedebuteer het, se tweede bundel, By die dag, eweneens in Junie.
Ook by NB-Uitgewers word verskeie bundels persklaar gemaak. Eerste aan die beurt in April is Lynthia Julius, wat in 2017 die Afrikaans-kategorie van die Avbob-digkunskompetisie gewen het, se debuut, Uit die kroes, wat die Noord-Kaapse leefwe^reld oproep in verse wat Namawoorde op verrykende manier inkorporeer.
In Junie volg Jolyn Phillips, wenner van die UJ-debuutprys in 2018 vir haar poësiedebuut, Radbraak (2017), se tweede bundel, Bientang, ’n epiese gedig oor ’n jong, inheemse vrou wat inskryf teen die meesternarratief. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie