’n Verkiesing van talle eerstes

Vandag is D-dag vir die VSA – die dag waarop ’n patologiese leuenaar en sosiopaat met die onpresidensiële naam Donald die leier van die vrye wêreld kan word. En die wêreld hou met reg asem op oor die uitslag van een van die merkwaardigste verkiesings in dekades.
Estelle de Bruyn
Arrie Rossouw in Asheville, Noord-Carolina

Dit is die verkiesing van eerstes: Die eerste vrou as kandidaat van ’n hoofstroomparty, die eerste niepolitieke, buitestander-kandidaat van ’n hoofstroomparty, die eerste kandidaat wat deur sy eie partyleierskorps verwerp word, die eerste voormalige presidentsvrou wat vir die hoogste amp verkiesbaar is, asook die eerste kandidaat wat weier om sy mediese verslag en belastingopgawes bekend te maak.

Republikeine se Trump

Die New Yorkse miljardêr ­Donald J. Trump is verreweg die mees omstrede Republikeinse presidentskandidaat tot nog toe.

As werklikheids-TV-ster van “The Apprentice” en eiendomsmagnaat met sy naam in goue letters op tientalle geboue en gholfbane wêreldwyd, is hy ook een van die verdelendste figure tot nog toe in die Republikeinse Party.

Hy is openlik in opposisie teen die partyleierskorps. Hy lei ’n faksie van die wit, blouboordjie-kiesers wat in opstand is teen die politieke establishment in Washington en die konvensionele partypolitiek van groot geld en min resultate.

Hillary se bagasie

In skerp teenstelling het Hillary Rodham Clinton meer as 30 jaar ondervinding in openbare diens as regsgeleerde, goewerneursvrou in Arkansas, presidentsvrou in die Withuis, senator in New York en minister van buitelandse sake.

Sy is een van die geskikste kandidate vir die Amerikaanse presidentskap in die geskiedenis. Maar Trump het daarin geslaag om haar bekwaamheid en jare lange diens in die politieke binnekring teen haar te gebruik as een van haar grootste “swak punte”.

Sy is gebrandmerk as die voorste voorbeeld van die gehate Washingtonse establishment en alles wat verkeerd is met die VSA.

Voeg daarby haar man, Bill Clinton, se erg omstrede presidentskap van twee termyne in die 1990’s en haar rol in die Withuis as die aktivistiese en ewe omstrede presidentsvrou, en haar eie Benghazi- en e-posondersoeke gekoppel aan haar termyn as minister van buitelandse sake en haar kritici het hope ammunisie om haar mee aan te val.

Albei kandidate is hoogs ongewild onder kiesers, maar volgens menige meningspeiling die afgelope 18 maande is Clinton effe meer aanvaarbaar as president as Trump.

Meningspeilings

Volgens die jongste landwye peilings onder waarskynlike kiesers (deur FiveThirtyEight) geniet sy ’n skrale voorsprong van sowat vier persentasiepunte (48,7% vs. 44,9%), met haar grafiek op ’n steil dalende neiging sedert die e-posbom opnuut gebars het tien dae voor stemdag.

Ná die derde presidentsdebat het Clinton op die golf van slegte nuus vir Trump gery.

’n Wegholoorwinning is in die vooruitsig gestel met haar kans op 88% om te wen. Nou het daardie kans tot minder as 70% gedaal, met ’n hele reeks weegskaalstate wat vroeër in Clinton se guns geswaai het, ernstig in die gedrang.

Nasionale uitslag tel nie

Maar, soos visepres. Al Gore kan getuig, die presidentsverkiesing word nie deur die nasionale stemuitslag bepaal nie.

Ingevolge die Amerikaanse kiesstelsel word die president deur ’n kieskollege van 538 stemme aangewys wat bepaal word deur oorwinnings in die 50 deelstate.

Die kandidaat wat eerste 270 kieskollegestemme wen, wen die verkiesing, ongeag die uitslag van die landwye stemtotaal.

Minder as ’n week voor stemdag het Real­ClearPolitics voorspel dat Clinton, op grond van ramings oor haar steun in deelstate, waarskynlik reeds 259 stemme in die sakkie het teenoor Trump se 164.

Oor die oorblywende 115 stemme in getalryke deelstate, soos onder meer Ohio, Noord-Carolina, Georgia, Florida en Arizona, wil hulle nie ’n mening waag oor wie kan wen nie.

Die gerespekteerde Nate Silver van FiveThirtyEight voorspel dat Clinton uiteindelik 302 kieskollegestemme kan behaal en Trump 234.

Die herlewing van Clinton se e-pos-“skandaal” verlede naweek het die Clinton-kamp soos ’n trosbom getref.

Trump het kort tevore nog gesteier weens die onthullings oor sy seksuele teistering van vroue en sy weiering om sy belastingopgawes bekend te maak.

Voorafstemmery

Intussen het meer as 25 miljoen van die verwagte 130 miljoen kiesers reeds voorafstemme uitgebring.

Dat Clinton daardie stemme in die sakkie het voordat die bom gebars het, sal waarskynlik tot ’n mate die negatiewe impak van die slegte e-posnuus versag.

Maar die eerste aanduidings uit die voorafstemmery is dat swart kiesers in kleiner getalle stemme uitbring as in 2008 en 2012 toe pres. Barack Obama die Demokratiese kandidaat was.

Dit kan probleme skep vir Clinton.

Ontleders is dit eens dat geen kandidaat, Demokraat of Republikein, president kan word sonder die steun van ’n meerderheid swart, vroue- en Latyns-Amerikaanse kiesers nie.

Soos sen. John McCain (2008) en goew. Mitt Romney (2012) tot hul verdriet uitgevind het, was die meerderheid steun van wit, blouboordjie-mans en wit vroue – die tradisioneel Republikeinse Party-ondersteuners – nie genoeg om die knoop deur te hak nie.

Mexikaans-Amerikaners se stem

Tans geniet Clinton gerieflik meer steun onder swart kiesers as Trump, en ook onder vroue.

Een van die uitstaande kenmerke van vanjaar se verkiesing is die ontwaking van die Mexikaans-Amerikaanse kiesers en die geesdriftige steun wat hulle vir Clinton toon.

Sy geniet sowat 70% steun in dié geledere. Dit is beslis toe te skryf aan Trump se anti-Mexikaanse retoriek en die gewaande muur wat hy op die grens van Mexiko wil oprig.

Trump het ook daarin geslaag om vroue in die Clinton-kamp te jaag. Selfs baie Republikeinse vroue sal na verwagting ’n protesstem teen hom uitbring.

Met die verwagte toename in Mexikaanse steun en onder vroue behoort Clinton dus die nodige stemme te kan trek en min of meer kan herhaal wat Obama in 2012 reggekry het.

FBI onthullings se invloed

Dit wil ook voorkom ­asof die Comey-uitwerking nie heeltemal so nadelig vir Clinton se veldtog is as wat aanvanklik gevrees is nie.

Trouens, albei kandidate se veldtogte het oënskynlik ’n inspuiting gekry, met Trumpelinge wat weer gees gevang het ná ’n paar weke van baie slegte nuus en Hillary-ondersteuners wat met woede gereageer het op die Comey-brief en wat hulle voel onbehoorlike beïnvloeding van die verkiesing is.

Bill Clinton se skandale

In Bill Clinton se eerste termyn het die Whitewater-skandaal reeds fel gewoed en het verskeie vroue na vore gekom wat beweer het dat hy seksuele dade met hulle gepleeg het. Hillary is ook destyds met volgehoue ondersoeke by die skandale betrek.

Maar uiteindelik het Bill Clinton in 1996 teen alle verwagtinge in ’n wegholoorwinning by die stembus behaal en 49% van die nasionale volkstem op hom verenig, teenoor sen. Bob Dole se 41%.

Bill Clinton het duidelik ’n beduidende simpatiestem gekry van kiesers wat gevoel het die kritiek en heksejag op die president was heeltemal oordadig.

Of dieselfde simpatie vandag sy vrou te beurt gaan val, sal gesien moet word.

Dat sy boonop ’n vrou is vir wie die dwarslat merkbaar hoër opgestel blyk te wees, maak die verkiesing net meer uniek as enige van die tweestryde van die vorige meer as 200 jaar. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!