Nagklub-skieter nog soek
Nagklub-skieter nog soek

Nagklub-skieter nog soek

Die Turkse polisie het gister nog gesoek na die Nuwejaarsdag-skieter wat by die Reina-nagklub in Istanboel op partytjiegangers losgebrand het.
Ronelle Rademeyer
Nagenoeg 39 mense is dood en 69 beseer toe 'n onbekende skieter geklee in swart vroeg op Nuwejaar by die Reina-nagklub in Istanboel, Turkye, ingestorm en links en regs begin skiet het.

Volgens die nuusagentskap AP het sowat 600 mense by die nagklub partytjie gehou.

Die voorval het Sondag omstreeks 00:30 Namibiese tyd gebeur.

Die aanvaller het 'n polisiebeampte en 'n burgerlike buite doodgeskiet voor hy in dié nagklub in die Ortaköy-distrik van die stad begin skiet het.

Volgens die Turkse nuusagentskap Anadolou Agency was sowat tweederdes van die slagoffers buitelanders. Die oorskot van die 25 buitelandse oorledenes sou gister aan die onderskeie lande se owerhede oorhandig word. Dit sluit in Indië, België, Tunisië, Jordanië en Kanada.

Volgens ooggetuies het mense na die uitgange gestroom en ander het in die Bosferus-seestraat, wat langs die kuierplek is, gespring om van die aanvaller te probeer vlug.

AP berig niemand het nog verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar wat deur die Turkse owerhede as 'n terroriste-terreuraanval beskryf is nie.

Vasip Sahin, goewerneur van Istanboel, het gesê die aanvaller het met 'n geweer met 'n lang loop mense wat die Nuwejaar gevier het, lukraak geskiet. “Ongelukkig het hy die koeëls op 'n baie wrede en genadelose wyse laat reën op onskuldige mense wat pret wou hê en die Nuwejaar wou vier,” het hy gesê.

Die stad was reeds op hoë vlakke van gereedheid met sowat 17 000 polisiebeamptes aan diens ná onlangse aanvalle daar.

Turkye was verlede jaar die slagoffer van meer as 30 gewelddadige aanvalle. Istanboel is deur drie groot bomaanvalle getref waarvoor die regering die Islamitiese Staat (IS), die mislukte staatsgreep teen pres. Recep Tayyip Erdogan en Koerdiese rebelle in die suidooste van die land blameer het.

Verder is Andrei Karlof, die Russiese ambassadeur in Turkye, twee weke gelede in 'n sluipmoordaanval in Ankara doodgeskiet.

Rusland en Turkye is albei betrokke by die konflik in Sirië, wat aan Turkye grens.

Spanning het die afgelope paar weke opgebou toe die Siriese weermag met Russiese ondersteuning geveg het om beheer oor die oostelike gedeelte­ van Aleppo te kry, wat tot 'n toestroming­ van vlugtelinge­ gelei het.

“Die president bied sy mee­gevoel oor die onskuldige lewens wat geneem is,” het Eric Schultz van die Withuis namens pres. Barack Obama van Amerika gesê.

Die Amerikaanse konsul-­generaal in Istanboel het burgers van dié land Sondag gemaan om hulle bewegings in die stad “tot 'n minimum” te beperk.

Dit is nog nie bekend of die aanvaller 'n politieke motief gehad het nie.

-Nampa/AP/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!