Nakathila takel VSA se wonderseun

Shakur Stevenson se spoed maak hom 'n nagmerrie – hoewel die Namibiër vasbeslote is om die appelkar om te smyt.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die mees belangwekkende geveg in die bokswêreld hierdie naweek lê vir Jeremiah Nakathila voor – al is die wedsyfers baie swaar gelaai teen sy kanse om die eerste Namibiër te word wat 'n internasionale titelgeveg in Amerika se boksmekka Las Vegas kan wen.

Paulus (Hitman) Moses, Paulus (The Rock) Ambunda, Julius (Blue Machine) Indongo, Walter (The Executioner) Kautondokwa, Sakaria (Desert Storm) Lukas . . . een vir een het hulle die afgelope jare probeer en misluk om titelgevegte op Amerikaanse bodem te wen.

'n Geveg van waterskeidende belang lê Sondagoggend (Namibiese tyd) by Virgin Hotels in Las Vegas voor, tussen die VSA se Shakur Stevenson (15 gewen, nul verloor, agt uitklophoue) en Nakathila (21-1, 17 uitklophoue).

Wedsyfers van 1/50 teen Nakathila en 12/1 ten gunste van Stevenson (Boxlive) wys hoe steil die bult is wat in Las Vegas voor die Namibiër staan.

Die kampioengordel wat vir die twee superveergewigte op die spel staan – die WBO tussentydse wêreldtitel – sal vir die wenner die weg baan na veel groter gevegte waarin geweldige geldbedrae ter sprake is.

Oor die afgelope jare was daar reeds vergeefse pogings om vir Stevenson (23), 'n Olimpiese silwermedaljewenner, supergevegte teen name soos Gary Russell Junior, Gervonta Davis en Emmanuel Navarrete te reël.

Hoewel Nakathila, met die bynaam Low Key, 'n onbekende vir Amerikaanse bokskykers is, stem die kenners wel saam hy kán veg.

Soos Anthony George dié week in sy ontleding vir Topclass Boxing geskryf het, is Nakathila 'n aggressiewe vegter wat meestal vorentoe beweeg op soek na die aksie en is vaardig om sy opponent se ontsnapruimte af te sny.

“Sy regterhand is sy grootste wapen, maar sy linker het trefkrag en hy vergeet nie om met lyfhoue aan te val nie. Hy sal dikwels driehou-kombinasies met 'n sterk linkerhaakhou afsluit. Hy kan ook lokvalle opstel wanneer hy op die agtervoet gedwing word.

“Nakathila moet as 'n ware aanspraakmaker beskou word, en ek dink nie dis vergesog om hom 'n gevaarlike buiteperd te noem nie. Hy sal vir enig­iemand in die 130-pond gewigsklas 'n probleem wees.

“Low Key se een groot probleem is dat hy opgeweeg word teen een van die beste talente wat boks nóg ooit gesien het. Daar is niks wat die hotklou Shakur Stevenson nie kan doen nie. Niks. Hy is 'n fantastiese vegter ongeag of dit van die voor- of agtervoet is. Sy vaardighede op verdediging is fantasties en hy het verblindende spoed. Vir enigiemand is hy 'n nagmerrie om teen te veg.

“Spoed is die een element wat Nakathila skynbaar in sy stel vaardighede ontbreek. Toegegee, in vergelyking met Shakur, lyk feitlik almal soos skilpaaie; Nakathila lyk egter teen die meeste teenstanders soos 'n stadiger vegter sonder betekenisvolle voetwerk.

“Die Namibiër het sover vir hierdie tekortkoming vergoed deur baie akkuraat en ekonomies te wees met sy houe en deur die ontsnaphoeke in die kryt af te sny.”

George voorspel dat Stevenson se beste strategie mag wees om Nakathila aan die binnekant beet te kry. “Dit sou Low Key ontneem van sy indrukwekkende krag wanneer hy die afstand dikteer – en Stevenson is 'n formidabele binnevegter.

“In sy vorige gevegte het Nakathila veel swakker teenstanders toegelaat om by die kombuisdeur in te stap en met hom handgemeen te raak, sonder om eens 'n steekhou te gebruik. Teen 'n Shakur Stevenson is dit gróót moeilikheid soek.

“Al lyk dit al die regmerkies is in Shakur se kolom, is dit steeds 'n gevaarlike geveg met baie potensiaal vir aksie. Om op te som, verwag ek dat Shakur sal skitter op pad na 'n oorwinning met punte.

“Nakathila behoort Shakur nie net harder laat werk as enige van sy ander opponente nie, maar die Namibiër kan met 'n stewige vertoning sy aandele ook geweldig laat styg.”



'BREEK HOM'

Stevenson het reeds in die opbou na die geveg gesê hy wil Nakathila stelselmatig aftakel sodat die Namibiër ná die geveg fisiek en sielkundig “gebroke” is.

“Dit is wat ek in elk geval gewoonlik doen, maar hierdie keer wil ek dit erger as tevore doen. Dis wat ek wil wys,” het die Amerikaner gesê.

“Nakathila sê hy gaan my voor die elfde ronde uitslaan, maar in sy soeke na 'n uitklophou gaan hy teen homself werk. Ek sal sê hy is wel 'n gevaarlike en ongemaklike opponent; jy moet dus op jou beste wees.

“Ek kyk nie gewoonlik video's van opponente se gevegte nie, maar ek het Nakathila se een verloorgeveg (in 2016 in Moskou, met punte teen Evgeny Chuprakov) gesien. Ek kon sien hy het later moeg geraak en begin vashou; hy het 'n paar harde houe geplant, maar ek dink nie hy het verdien om te wen nie.

“Nakathila het 'n klomp uitklophoue sover, maar 'n mens weet nie of hy dit teen 'n werklike goeie vegter kan regkry nie. Ons sal kyk wat hy in die kryt kan uitrig.”

Nakathila het in sy media-onderhoude sover geensins vir die grootpratery teruggedeins nie. Die 31-jarige Namibiese polisieman het groot selfvertroue dat hy slaggereed is om hierdie geleentheid aan te gryp waarvoor hy reeds jare gewerk het.

'n Beloofde geveg teen die Wêreldboksorganisasie (WBO) se titelhouer, Jamel Herring van die VSA, is uiteindelik die groot prys wat dié naweek in Las Vegas op die spel staan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!