Namibiu00eb, Botswana vat hande oor water
Namibiu00eb, Botswana vat hande oor water

Namibië, Botswana vat hande oor water

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibië kan hulp van ’n buurland verwag met die ontwikkeling van seewater as waterbron.
Dit sal moontlik as ’n streeksprojek saam met Bo­t­swana aangepak word, wat tans ook ’n ernstige water­nood ervaar.
President Hage Geingob het verlede week tydens ’n geleentheid by Staatshuis gesê die twee regerings is in gesprekvoering om water uit die Atlantiese Oseaan te pomp en te ontsout en dan ook vir Botswana, wat deur land omring is, van water te voorsien.
“Botswana is in ’n soortgelyke situasie as Namibië wat ’n watertekort betref.
“Ons beoog om deur ’n streeksprojek seewater as waterbron te ontwikkel.” Geingob het gesê hy kan nie meer oor dié projek bekend maak nie omdat besprekings tussen die lande se regerings daaroor steeds onderweg is.”
Op Dinsdag 7 Junie tydens samesprekings by Staatshuis tussen kenners vanuit die waterbedryf en die president en sy kabinet, is aangedui dat die verskaffing van ontsoute seewater in die Erongo- en Khomas­streek sowat N$15,5 miljard sal kos.
Boonop is gesê tot dusver is geen geld vir die spesifieke projek vir die 2016-’17- of 2018-’19-boekjaar opsy gesit nie.

SLYPSKOOL
Terselfdertyd is ’n SADC- ministeriële slypskool oor water en energie verlede week Maandag in Botswana gehou, waartydens onderwerpe soos ’n omvattende aksie vir water- en energiesekerheid in SADC bespreek is asook hoe SADC homself beter kan voorberei vir uiterste weersomstandighede.
Die president van Botswana, luitenant-generaal Seretse Khama Ian Khama het die geleentheid geopen.
Volgens Botswana se minister van minerale, energie en waterbronne, mnr. Onkokame Kitso Mokaila, het die SADC-streek gemiddeld 60% toegang tot veilige drinkwater en 40% toegang tot sanitasie.
“Statistieke dui egter daarop dat die streek genoeg water vir almal het. Beperkte, swak onderhoude of onderontwikkelde infrastruktuur verhoed dat ons die water betekenisvol kan gebruik,” het hy in ’n toespraak tydens die slypskool gesê.
“Ons is in wese met mekaar verbind in die opsig dat ons 15 rivierkomme asook sowat 20 oorgrens akwifers met mekaar deel.
Tot 70% van die bevolking in die SADC-streek maak staat op ondergrondse water. Die gekoördineerde en gesamentlike bestuur van dié waterbronne is belangrik,” het Mokaila gesê.
Ná afloop van die slypskool is aanbeveel dat SADC meer in die oes van reënwater, waterherwinning en ontsouting moet belê en streeksgebruik van ondergrondse water en oppervlakwater moet bevorder. Terselfdertyd is besluit dat gesamentlike beleggings in water en energieprojekte noodsaaklik is.
Voorts sal die SADC-sekretariaat ’n studie onderneem hoe om water van dié dele wat ryk is daaraan, oor te plaas na dele wat ’n waternood het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!