Namibië, China se band opnuut gekap

Die land se verhouding met ’n Oosterse moondheid is weer in die spervuur.
Denver Kisting
Denver Kisting – Pres. Hage Geingob loop veral in die sosiale media deur nadat China se premier, me. Sun Chunlan, gesê het dié land en Namibië se band is onbreekbaar.

Sun het Vrydag by Staatshuis gesê China steun Geingob en Swapo om die land ná 27 November na hoër hoogtes te lei.

Namibiërs gaan op dié dag stembus toe om vir ’n president en lede van die Nasionale Vergadering (NV) te stem.

Tydens haar besoek het sy gesê China en Namibië het ’n soortgelyke geskiedenis en die twee lande se ontwikkelingsdoelwitte is ook baie na aan mekaar.

Volgens kommentaar op Republikein se Facebook-blad op ’n video oor die besoek verkoop Geingob Namibië glo aan die Oosterse moondheid.

“Welkom by die moderne kolonisering en skuldstrik,” lui een gebruiker se kommentaar.

’n Ander Facebook-gebruiker kap die kritici: “Mense, hou op kla, want wanneer die verkiesings kom, stel julle nie belang om te stem nie.”

Geingob het Sun Vrydag gelyk gegee oor die betrekkinge tussen die twee lande. “Oor die jare het ons verhouding gedy en ver en wyd uitgebrei – polities, ekonomies en kultureel.”

Dié band, sê hy, het die volgehoue vestiging van vertroue tussen die twee lande teweeg gebring.

Hy sê hy was bly om te hoor die Chinese regering het die verhouding “verhoog tot ’n omvattende strategiese vennootskap – dis ’n hoogs gewaardeerde gebaar”.

Geingob het die Chinese regering terselfdertyd vir hul finansiële bydrae tot die verligting van Namibië se voortslepende droogte bedank.

Die Chinese regering het vroeër vanjaar meer as N$2 miljoen aan Namibië geskenk om die impak van die droogte te bestry.

Die media is net vir ’n gedeelte van die gesprekke tussen Geingob, verskeie ministers en raadgewers en Sun en haar afvaardiging toegelaat.

China en NV

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, wou verlede jaar in die NV by mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, weet watter leningsooreenkomste tydens ’n hoëvlakafvaardigingbesoek aan China gesluit is.

Schlettwein het toe gesê geen nuwe lenings is bekom nie.

In dié stadium beloop Namibië se “leningblootstelling” aan China sowat 2,7% van die land se totale lenings, het Schlettwein gesê.

’n Ooreenkoms is wel aangegaan om Namibië toegang tot finansiële markte in China te bied sou besluit word om wel by dié Asiatiese land geld te leen, het die minister gesê.

“Ons het daardie deur oopgemaak sodat dit nou vir ons beskikbaar is.”

Soos die Afrika-ontwikkelingsbank se N$5 miljard-lening oor vyf jaar benodig Namibië “’n soortgelyke bedrag” om te leen, maar by watter land dit geleen sal word, is nog nie besluit nie.

Daarnaas is ’n ooreenkoms wat reeds in 2010 gesluit is vir lae-inkomstebehuising gewysig om te verseker Namibië het steeds toegang daartoe.

Dié lening is egter rentevry, het Schlettwein gesê.

Hy het voorts gesê China het tydens dié besoek N$1 miljard vir die opknapping van die lughawepad geskenk.

Schlettwein was ook deel van die afgelope Vrydag se samesprekings by Staatshuis.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!