Namibiu00eb ekonomies effe meer u2018vryu2019
Namibiu00eb ekonomies effe meer u2018vryu2019

Namibië ekonomies effe meer ‘vry’

Korrupsie bly groot knelpunt
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy - Meer sake- en handelsvryheid, asook ’n verbetering in regeringsbeste­ding het Namibië ’n hupstoot op vanjaar se Indeks van Ekonomiese Vryheid gegee.
Hardnekkige probleme met eiendomsregte, korrupsie en finansiële vryheid duur egter voort, blyk uit ’n internasionale verslag.
Namibië het ’n algehele punt van 61,9 uit ’n moontlike 100 op dié 2016-indeks behaal, wat jaarliks deur die Amerikaanse dinkskrum, Heritage Council, en The Wall Street Journal saamgestel word. Dit is 2,3 punte meer as verlede jaar en plaas Namibië steeds in die kategorie van lande wat ekonomies as “redelik vry” beskou word.
Namibië se jongste vertoning plaas dit op dieselfde vlak as in 2012, waarna dit konstant gedaal het. Dit is egter aansienlik minder as Namibië se hoogste punt van 67,3 wat in 2003 behaal is. Die land se laagste algehele punt was 59,4 in 2014.
Namibië se algehele punt van 61,9 in 2016 is hoër as die streekgemiddeld van 55,5 én die wêreldgemiddeld van 60,7. Op vanjaar se indeks van 178 lande lê Namibië 81ste. Hongkong met ’n punt van 88,6 is nr. 1 en die wêreld se vryste ekonomie, terwyl Noord-Korea met net 2,3 punte heel onder is.
Namibië was verlede jaar 93ste uit 178 wêreldlande en 10de uit 46 lande in Afrika suid van die Sahara. Vanjaar lê Namibië 8ste op die streekranglys.

Gevaarligte
Die verslag sonder eiendomsregte, korrupsie en die gebrek aan finansiële vryheid as knelpunte in Namibië uit.
Die land se punt vir eien­domsregte is 30, wat dit 92ste op die wêreld­ranglys van 178 lande plaas. Sedert 1997, toe Namibië sy debuut op die indeks gemaak het, het die land se punt vir eiendomsregte met 40 getuimel.
Vir vryheid van korrupsie is ’n punt van 49 aan Namibië toegeken, wat dit 57ste op die wêreldleer plaas. In 1997 was dié punt 50. “Hoewel voormalige president Hifikepunye Pohamba pogings aangewend het om korrupsie te beveg, bly wangedrag van staatsamptenare ’n probleem en ondersoeke na groot sake vorder stadig,” sê die samestellers van die verslag.
“Swapo se langdurige politieke oorheersing het tot ’n samesmelting tussen die party en die staat gelei, wat teenkorrupsiepogings verder belemmer. Die oppergesag van die reg is steeds swak en die regstelsel ly onder ’n tekort aan hulpbronne en gedurige vertragings,” lui die verslag.
Vir finansiële vryheid het Namibië vanjaar ’n punt van 40 behaal, 30 punte minder as in 1997. Dit beteken Namibië lê nou 105de uit 178 lande wêreldwyd. Luidens die verslag bly die land se finansiële sektor onderontwikkel.

Maatstawwe
Die indeks bestaan uit tien “ekonomiese vryhede”, wat van eiendomsregte tot entrepreneurskap wissel en gebruik dan vier maatstawwe waarvolgens ’n land gemeet word: Die oppergesag van die reg; die omvang van die regering; regulatoriese doeltreffendheid; en ope markte.
Die oppergesag van die reg sluit eiendomsregte en vryheid van korrupsie in.
Die omvang van die regering kyk na fiskale of begrotingsvryheid en staatsbesteding. ’n Punt van 64,4 oftewel 2,3 minder as verlede jaar, is aan begrotingsvryheid toegeken, wat beteken Namibië lê 158ste op die 2016-indeks. Regeringsbesteding het ’n punt van 63,9 behaal. Ondanks die feit dat dit 7,9 punte meer as verlede jaar is, tel Namibië steeds onder die lande wat die swakste in dié kategorie vaar en lê dit 105de op die 2016-indeks.
“Hoewel regeringsbesteding onder beheer bly, kan die stygende salarisse van staatsamptenare fiskale volhoubaarheid ondermyn,” lui die verslag.
Regulatoriese doeltreffendheid neem vryheid met betrekking tot sake en arbeid in ag, asook monetêre vryheid. Luidens die verlslag is Namibië se regulatoriese raamwerk, ondanks effense verbetering die afgelope jare, steeds omslagtig. Die land se punt hiervoor is 68,2 – ’n styging van 3,9 teenoor 2015 - en sy rang op die indeks 76ste. Stygende huispryse is een van die faktore wat tot ’n punt van 75,1 en ’n posisie van 110de vir monetêre vryheid aanleiding gegee het.
Handelsvryheid is een van die faktore wat met ope markte in ag geneem word. Hier het Namibië 12,2 punte beter as verlede jaar gevaar deur 83,4 te behaal. Die land lê 61ste op die indeks. Beleggingsvryheid het met 5 punte tot 60 verbeter en aan Namibië die 83ste posisie besorg.
Die verslag meld Namibië se gemiddelde invoertarief van 0,8% as ’n pluspunt, maar sê tariefvrye struikelblokke knou suiwel-, graan- en ander landbouprodukte. Die land se punt het nietemin met ’n reuse 47,2 sedert 1997 verbeter.
Hoewel die regering se amptelike standpunt die aanmoediging van buitelandse beleggings is, bestaan die nodige regulatoriese infrastruktuur nie om dinamiese groei in nuwe beleggings aan te vuur nie, sê die samestellers.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!