Namibië koop 60% van sy krag

Die onvolhoubaarheid van die land se elektrisiteitsbehoeftes is opnuut onder skoot.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die ministerie van myne en energie stel tans ’n twintigjaarplan in werking om die land se kragkrisis te beredder.

Dít kom nadat Namibië opnuut in 2018 ’n totaal van 60% van sy krag van ander Suider-Afrikaanse lande moes invoer.

Die adjunkminister van myne en energie, me. Kornelia Shilunga, het gisteroggend gesê die land voer steeds die grootste gedeelte van sy krag van sy buurlande af in.

Een van die voorsieners, Suid-Afrika se Eskom, het onlangs weer eens beurtkrag in dié buurland begin toepas.

Shilunga het gesê die twintigjaarplan bestaan uit vooruitskattings van die toekomstige kragaanvraag en sit ’n ekonomies lewensvatbare kragopwekkingsopsie uiteen.

Dit het ten doel om op ’n betroubare en doeltreffende manier in die land se kragbehoeftes te voorsien, sê sy.

Sy het gesê die land is dank aan dié lande verskuldig, wat tot dusver getrou tot Namibië se redding gekom het.

“Die bystand wat van die streek ontvang is, is lofwaardig, omdat krag ’n voertuig vir ontwikkeling is. Sonder krag word ekonomiese groei en ontwikkeling kwaai in die wiele gery.”

Shilunga het tydens die opening van ’n streekkragkonferensie in Windhoek gesê haar ministerie het ’n nasionale geïntegreerde hulpbronplan ontwikkel.

Dít is ’n raamwerk vir 20 jaar om die rigting vir die land se kragvoorsieningsbedryf te bepaal, het sy gesê.

Dié tydperk strek van 2016 tot 2035.

Shilunga het voorts gesê die regering, in samewerking met die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB), stoei tans om kragvoorsiening in Namibië meer toeganklik te maak.

Volgens haar is die verwagte uiteinde dat nuwe rolspelers uiteindelik krag sal kan opwek en direk verkoop aan streekverspreiders van krag, groot nywerhede, mynboumaatskappye en plaaslike owerhede.

Dié model sal die bestaande enkelkopermodel vervang, waardeur kragverskaffers net krag aan NamPower verkoop. “Hierdie model sal kliënte na verwagting opsies bied en mededinging in die groeiende en veranderende kragmark teweegbring.”

Shilunga het voorts gesê die sukses van nywerheidsontwikkeling binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) hang onder meer af van toegang tot betroubare en bekostigbare kragvoorsiening.

Sy sê dit is almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat dié doelwit bereik word.

Shilunga het voorts gesê dit is geen geheim dat die streek se infrastruktuur veel te wense oorlaat nie.

Hiernaas is dit ’n bron van kommer dat sekere gedeeltes van die kragnetwerk lol weens oorlading wat met ’n ooreiste infrastruktuur verband hou.

Die adjunkminister het afgevaardigdes voorts gemaan om te alle tye die impak van hul werksaamhede op die omgewing te oorweeg.

Mnr. Kahenge Haulofu, NamPower se besturende direkteur, het gister gesê die bal is aan die rol om die kragteikens in die Harambee-welvaartsplan te haal.

Hy sê dit sluit aanvullende opwekkingsprojekte vir die tydperk tot 2020 in.

Die ander teikens hou verband met die hersiening van die huidige kragmodel en om herwinbare energie voorkeur te laat geniet.

Die twee dae lange samesprekings loop vandag ten einde.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!