Namibiu00eb weet volgende week oor SA-variant
Namibiu00eb weet volgende week oor SA-variant

Namibië weet volgende week oor SA-variant

Namibië se Covid-19 Ontplooiings- en Immuniseringsplan is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as “een van die beste in die wêreld” beskryf.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die uitslae van toetse om te bepaal of die variant van die coronavirus wat oorspronklik in Suid-Afrika aangemeld is, in Namibië teenwoordig is, word volgende week verwag.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het wetenskaplikes van die ministerie weefselmonsters vir geentoetse na die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in Suid-Afrika gestuur om te bepaal of die nuwe variant, B.1.351, wel in Namibië teenwoordig is en indien wel, wat die omvang daarvan in die land is.

Die uitslae sal volgens Shangula die ministerie se besluite oor die verkryging en aankoop van entstowwe teen Covid-19 lei.

Die minister sê Namibië het reeds sy nasionale Covid-19 Ontplooiings- en Immuniseringsplan aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) voorgelê wat dit as “een van die beste in die wêreld” beskryf het. In die lig hiervan is dit as ’n bloudruk vir gebruik uitgesonder vir lande wat nog nie hul planne voltooi het nie.

Bykomend tot Covax en die Afrika Platform vir die Verskaffing van Medisyne (AMSP) van die Afrika-unie (AU), onderhandel Namibië ook met vervaardigers van Covid-19-entstowwe in China, Rusland, Indië en Amerika.

Met verwysing na die ontplooiingsplan sê Shangula is al 35 gesondheidsdistrikte, die private gesondheidsektor, die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit en vennote besig om die distriksontplooiingsplanne vir implementering te verfyn.

Dit sal gevolg word deur die opleiding van opleiers en distrikspersoneel wat vroeg in Maart sal afskop.

Volgens Shangula is die totale voorgestelde begroting vir die ontplooiingsplan van die Covid-19-entstowwe N$583 miljoen, waarvan N$484,8 miljoen vir die aankoop van entstowwe is. Dit sal Namibië in staat stel om entstowwe vir ’n bykomende 40% van die bevolking aan te koop om ’n immuniseringsdekking van 60% te behaal.

Die minister sê China het 100 000 dosisse van die Sinopharm-entstof en Indië 30 000 dosisse Covishield van die Serum Instituut van Indië aan Namibië beloof. Sinopharm is byna 80% doeltreffend teen Covid-19, terwyl Covishield volgens hom dieselfde as die AstraZeneca-entstof is. Onderhandelinge is ook onderweg om die Sputnik-5-entstof van Rusland te verkry wat volgens die minister 90% doeltreffend is.

Covax het ook entstowwe aan die land toegeken wat volgens Shangula in Maart verwag word.

Die Namibiese Medisyne Beheerraad (NMRC) het ook reeds riglyne vir goedkeuring van die entstowwe gepubliseer.

“Die NMRC het inligting van die WHO, vervaardigers en streng regulerende owerhede (SRA's) gekry om te gebruik in die goedkeuring van entstowwe vir Namibië,” het Shangula gesê.

Hy het verduidelik om goedkeuring vir entstowwe te verkry, vereis dat vervaardigers volle dossiere van hul produkte aan die NMRC verskaf soos vereis deur die wet vir die beheer van medisyne en verwante middele.

Intussen het die uitvoerende direkteur in die ministerie, mnr. Ben Nangombe, gesê ’n verantwoordbaarheidsverslag oor Namibië se besteding met betrekking tot die Covid-19-pandemie is vir oudit aan die ouditeur-generaal voorgelê. Altesaam N$727 miljoen is hiervoor begroot. Nangombe het erken dat veral met betrekking tot kwarantyn is meer as beplan bestee, terwyl die algehele begroting met sowat N$50 miljoen oorskry is. – [email protected]

BLOKKIE

VERANDERDE COVID-19-REGULASIES

- Die huidige Covid-19-maatreëls geld vir 36 dae vanaf middernag vanoggend tot 31 Maart (Onafhanklikheidsdag op 21 Maart ingesluit).

- Die aandklokreël geld daagliks van 22:00 tot 04:00.

- Binnenshuise openbare byeenkomste mag nie langer as twee ure duur nie.

- Drankregulasies bly onveranderd, maar mag nou op Sondae en openbare vakansiedae by akkommodasieplekke en casino’s, waar gaste tuisgaan, verkoop en gekoop word.

- Wat begrafnisse betref, word 50 roubeklaers by ’n begrafnis van ’n Covid-19-oorledene toegelaat. Naby familielede mag drie meter van die graf af staan en ander roubeklaers nie nader as 10 meter nie.

- Grafstene van oorledenes mag ’n maand ná ’n begrafnis opgerig word.

- Liggame van Covid-19-oorledenes wat nie opgeëis word nie, sal binne sewe dae begrawe word.

- Opgrawings van liggame van Covid-19-oorledenes mag slegs ná ses maande onder toesig en in raadpleging met die staat uitgevoer word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!