Namibiese handsakke in Duitsland

Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek wil mense help wat nie so gelukkig soos ek is nie,” sê me. Sandra Baumeister, stigter van Myeisha.

Baumeister en haar jare lange vriendin, me. Kim Kibble, het Myeisha in 2015 in Windhoek begin.

Myeisha is Swahili vir "iemand wat baie geliefd is".

Onder die Myeisha-handelsmerk word goeie gehalte, eksklusiewe leerhandsakke vervaardig.

Dié handsakke is almal na Baumeister se dogters vernoem.

Daar is die groot handsak, Maya, die kleiner Valentina, die klein Anemie-palmtassie en die Jule-smuktassie.

“Die ontwerpe van die handsakke doen ons self. Die leer kom uit Namibië en Suid-Afrika en ons span werkers maak al die handsakke met die hand,” het Baumeister gesê.

Myeisha-handsakke word hoofsaaklik na Duitsland uitgevoer en daar verkoop.

“Ons is deur die Namibiese ambassade in Berlyn genooi om ons handsakke in September aan hulle bekend te stel. Dit is ’n groot eer om ons 100% Namibies-vervaardigde handsakke op so ’n platform te kan bekend stel,” vertel Kibble trots.

iNAMi, wat "liefde" in San beteken, is weer gestig om handsakke vir die plaaslike mark te vervaardig.

Dié handsakke is van leer en materiaal gemaak, is meer kleurvol en het dikwels Afrika-motiewe op.

“Ons maak ook inkopiesakke sodat mense nie so baie plastieksakke hoef te gebruik nie,” verduidelik Baumeister.

Myeisha en iNAMi bring 'n inkomste vir die Especially Namibian-liefdadigheidstrust voort.

Tans ondersteun die trust die Villa Colourful-kindergarten in Katutura.

Die trust finansier ook die opleiding van ’n jong vrou as kindertuinonderwyseres.

“Die trust se groot doel is om ’n weeshuis vir babas te bou,” sê Kibble.

Tans het Myeisha en iNAMi 12 mense in diens wat voorheen geen opleiding in die maak van handsakke gehad het nie. Twee van die vroue is selfs Kaapstad toe gestuur vir opleiding in leerwerk.

Me. Diana Namises is een van dié vroue.

“Ek het niks oor naaldwerk geweet nie, toe word ek vir die eerste keer in my lewe buite Namibië se grense gestuur om opleiding te ontvang. Dit het my lewe verander. Nou kan ek iets moois en besonders met my hande maak,” vertel sy.

Me. Elzane Ludeke het ’n agtergrond in tegniese ontwerp, is die produksiebestuurder en was ook verantwoordelik vir personeelopleiding.

“Ek is ook in beheer van gehalte. Elke sak moet reg wees, elke steek - veral vir die Myeisha-handsakke,” verduidelik Ludeke.

Me. Victoria Bernard het modeontwerp gestudeer.

“Om handsakke te maak, is baie tegnies en daar is geen plek vir foute nie,” het sy gesê.

Onder die iNAMi-handelsmerk word ook diere soos leeus, olifante en krokodille uit leer gemaak.

“Dié leerdiere is baie gewild onder die lodges in Namibië en word in aandenkingswinkels verkoop,” het Kibble gesê.

Besoek die Myeisha- en iNAMi-winkel in Groot Tirasstraat 1, by C-Square in die middestad, of binnekort aanlyn by www.zaleka.com.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!