Namibiese letterkunde dra trots doek

Die plaaslike literêre toneel staan op die drumpel van ’n reuseommeswaai.
Karin Eloff
Denver Kisting – Die Windhoek Skrywersklub (WWC) voer ’n projek in die mou wat hoop om aanvullende suurstof in plaaslike letterkunde te blaas.

So binnekort soos volgende maand gaan dié klub Doek! bekend stel.

Die aanlyn tydskrif beoog om letterkunde – fiksie en niefiksie, poësie en selfs visuele kuns – minstens twee keer per jaar onder die loep te neem.

Agtergrond

Prof. Peter Orner, ’n bekroonde Amerikaanse skrywer wat sowat twee jaar gelede op ’n Fullbright-beurs Shakespeare by Unam gedoseer het, was die aanvanklike dryfveer agter die WWC.

Die huidige hoofredakteur, Rémy Ngamije, vertel die WWC het in 2017 as ’n informele inisiatief die lig gesien.

Volgens hom het die platform ten doel om ’n ruimte te bied vir Windhoek-gebaseerde skrywers om hul passie vir die vertel van stories te deel.

Lidmaatskap was toe en is steeds op die huis, vertel Ngamije in ’n e-posonderhoud. Enigiemand wat met enige vorm van skryf gemoeid is, is welkom om hul staal te kom wys, nooi hy hartlik uit.

In hierdie stadium ontmoet hulle een keer per maand op ’n vooraf ooreengekome ligging. “Die klub se lede neem beurte om skryfwerk vir opbouende kritiek voor te lê.”

Só is Doek! gebore

Ngamije, wat self aanstaande maand sy buiging maak met The Eternal Audience of One sê die skrywersklub mik om voorgelegde stories vir uiteindelike insluiting in Doek! en ander internasionale publikasies en kompetisies voor te berei.

Hy sê die WWC se krag lê in die diversiteit van die groep se ervarings, die uiteenlopende en veelvlakkige leesvoorkeure, elke lid se passie vir letterkunde en hul toewyding aan skryf.

Hiernaas meen hy die groep se verbintenis tot gesamentlike redigering tel eweneens as ’n pluspunt.

Die groep se huidige lidmaatskap bestaan uit ’n PhD-student, ’n uitgewer, ’n verpleegster, ’n hooggeregshofregter, ’n romansier en ’n stelsel-en-netwerkadministrateur.

“Daar is geen voltydse skrywers in die groep nie, want, wel, die kunste is nie lonend genoeg om ’n bestaan uit voltydse skryf te maak nie.”

Hy vertel trots stukke uit die pen van hul lede het al in Litro Magazine en The Johannesburg Review of Books (RSA) verskyn.

’n Doek met ’n visie

Met Doek! hou hulle duim vas hulle elke Namibiese dorpie kry sy eie skrywersklub waar almal kragte saamsnoer om in die tydskrif te publiseer.

Hy sê hulle hoop die hoop beskaam nie om spoedig vier Doek!-e in plaas van die beoogde twee per jaar aanlyn te laat verskyn.

Naas Ngamije is Mutaleni Nadimi die ander Doek!-stigter. Hy sê hulle glo “die enigste manier om dit in Namibië te maak, is saam. Dis net die gesamentlike pogings van die land se strorievertellers wat betekenisvol kan bydra tot die tydskrif se visie om ’n diverse en aktiewe letterkundige landskap in Namibië en Afrika te vestig”.

Hy sê doek verwys na ’n kopdoek, sowel as Namibië se hoofstad, Win-d(h)oek en van volgende maand af, natuurlik, ’n eg plaaslike letterkundige tydskrif.

Indien enigiemand met hulle in verbinding wil tree, kan hulle bereik word by www.doeklitmag.com of via e-pos by [email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!