• Tuisblad
  • Landbou
  • Namibiese vleiseters verbruik meer water as SA eweknieë
Namibiese vleiseters verbruik meer water as SA eweknieu00eb
Namibiese vleiseters verbruik meer water as SA eweknieu00eb

Namibiese vleiseters verbruik meer water as SA eweknieë

Watervoetspoor as meetinstrument vir benutting
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - In 2010 het die Nederlandse waterkundige prof. Arjen Hoekstra ‘n belangrike meetinstrument vir waterbenutting ontwikkel.

Die meeste van ons is gemaklik om verbruik te meet in terme van eie verbruik en wat ongebruik verlore gaan, soos om die ongebruikte deel van die water in ‘n glas eenvoudig uit te gooi.

Die sogenaamde watervoetspoor gee ‘n indrukwekkende weergawe van wat presiese bedoel word met die vars water wat elke mens direk en indirek verbruik.

Die watervoetspoor dui waterbenutting in drie kategorieë aan, naamlik groen, blou en grys. Die eerste het te doen met water uit bronne soos reën, die tweede dui op onttrekking vir doeleindes van produksie soos met besproeiing en die derde deel handel oor die water wat gebruik word om besoedeling reg te stel.

Al drie hierdie komponente is deurlopend teenwoordig en gevolglik meetbaar binne enige waardeketting. Dit geld nie net kosproduksie nie, maar selfs die denimbroek wat jy dra. In hierdie opsig faal die meeste van ons as ons doeltreffende waterbenutting oorweeg.

Watervoetspoor

Die droogte van die afgelope jare het die interafhanklikheid tussen die drie komponente van die watervoetspoor baie goed uitgebeeld.

Abattoirs moes sluit omdat daar nie genoeg vars water beskikbaar was vir die waardeketting om doeltreffend te werk nie. So is die was van vragmotors wat beeste na die slagpale geneem het, se was op die terrein van die slagpale gestaak al was die oorsprong van dié water nie noodwendig vars water nie.

Vars water is per definisie dié afkomstig uit opgaardamme en ondergrondse bronne. Sulke water moet byvoorbeeld gesuiwer word vir gebruik en dit beteken ‘n mate van verlies.

Behandelde water het as oorsprong ‘n groen sowel as ‘n blou voetspoor en die materiaal wat tydens suiwering onttrek word, verteenwoordig die grys deel van die watervoetspoor.

Hoekstra se watervoetspoor meet vervolgens die totale volume water wat nodig is om ‘n produk te produseer deur die loop van die hele waardeketting.

Verbruik per sektor

Volgens die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) van Suid-Afrika word tot 60% van alle vars water deur landbou gebruik en terselfdertyd word tot 18% van alle vars water weer aangewend om waterbronne in stand te hou.

Huishoudings verbruik minder as 19% van alle vars water en mynbou net meer as 10%.

Terselfdertyd word daar geraam dat landbou ook die grootse “vermorser” van vars water is deur die water wat afloop en water wat nodig is om byvoorbeeld chemiese afloop van besproeiingswater – kunsmis en gifstowwe – reg te maak (dit is die grys watervoetspoor).

So vaar lande

‘n Watervoetspoor is vervolgens bereken vir ‘n legio produkte en lande.

Waterslim-lande vaar goed deur waterintensiewe produkte eerder in te voer as om dit self te produseer en sodoende word druk op binnelandse varswaterbronne verlig.

Altesaam 10% van die Chinese se watervoetspoor is ekstern, teenoor die 20% van die VSA en 77% van Japan. Amerika se belangrikste eksterne watervoetspoor is byvoorbeeld die Yangtze-rivierkom in China.

Namibië se per capita-voetspoor word geraam op 4 600 liter per dag waarvan 74% intern en die res ekstern is. Daarteenoor is die vergelykende syfers vir Suid-Afrika 3 400 liter per dag met 22% ekstern. Botswana se water voetspoor is 5 600 liter per dag met 62% intern.

‘n Voetspoor-rekenaar vergelyk individuele verbruikers op grond van ‘n aantal faktore. Alhoewel dit baie veralgemeen is, gee dit nietemin ‘n aanduiding van hoe verbruikspatrone verskil op grond van nasionaliteit, geslag, eetgewoontes en inkomstevlak.

Vir ‘n manlike Namibiese burger met persoonlike besteebare inkomste van US$5 000 per jaar, is die watervoetspoor 2 099 m³ met bogemiddelde vleisverbruik. Dit vergelyk nie goed met die globale aanwyser van 1 243 m³ nie.

Van die 2 099 m³ wat verbruik word, is 1 863 m³ vir voedsel, 150 m³ vir nywerhede en die res huishoudelik. Hierdie voetspoor bestaan uit 35% graan, 40% vleis, 11% suiwel en groente net meer as 1% as oorsprong. Indien dieselfde individu ‘n vegetariër is, verminder die totale watervoetspoor met amper 33% en grane as oorsprong styg tot 62%, terwyl suiwel verdubbel.

Volgens die watervoetspoor soos aangehaal deur die IDC, word 2 730 liter water gebruik om 500 gram botter te produseer, 1 900 liter vir een biefstuk en 255 liter vir een glas vars melk. Die totale watervoetspoor vir ‘n bogemiddelde vleisverbruiker in Suid-Afrika is 1 583 m³, of 25% minder as in Namibië.

Die Suid-Afrikaanse vegetariër se watervoetspoor is selfs 40% beter as sy Namibiese eweknie. Hierdie syfers is veelseggend as die varswatersituasie in Namibië met dié van Suid-Afrika vergelyk word.

Daar behoort dus gekyk te word na hierdie en ander kwantifisering van die waarde van optimale waterbenutting en lesers kan gerus hul eie water voetspoor bereken deur hierdie skakel te gebruik: http://waterfootprint.org/en/resources/interactive-tools/personal-water-footprint-calculator/.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!