Namibiër vas oor dwelmhandel
Jessica Botes
’n Werknemer van Air Namibia se grondpersoneelspan by die O.R. Tambo-lughawe by Johannesburg het Dinsdag sy eerste verskyning op ’n klag van dwelmhandel in die Kempton Park-landdroshof gemaak.
Die Namibiese burger, mnr. Sydney Bilankulu (46), is op 28 April saam met twee doeanebeamptes, mnre. Thabo Dikgale (31) en Courdnel Khosa (30), asook ’n Nigeriese burger, mnr. Oscar Chibueze Osigwe (29), by ’n hotel naby dié lughawe in hegtenis geneem.
Luidens ’n verklaring wat deur die kommunikasie-afdeling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgereik is, is klagte van dwelmhandel en dwarsboming van die gereg teen die vier mans aanhangig gemaak. Osigwe is glo deur lede van die SAPD se eenheid vir misdaadintelligensie met 1,5 kilogram kokaïen ter waarde van N$425 000 in sy besit betrap. Die twee doeanebeamptes het na bewering die Nigeriër toegelaat om die lughawe te verlaat en hulle het hom tot by ’n hotel begelei waar Bilankulu hulle ontmoet het om die kokaïen-kapsules te ontvang.
Dié vermeende dwelmmuil het van Sao Paolo in Brasilië na Suid-Afrika gevlieg van waar hy na Lagos in Nigerië sou gaan. Dikgale en Khosa staan tereg op klagte van dwarsboming van die gereg terwyl Osigwe en Bilankulu klagte van dwelmhandel in die gesig staar.
Volgens ’n woordvoerder van die Valke, kapt. Carol Mulamu, is die vier beskuldigdes se saak tot vandag uitgestel. Die beskuldigdes sal in aanhouding bly tot hul volgende verskyning wanneer hulle formeel om borgtog gaan aansoek doen.
Hoofinsp. Kauna Shikwambi, woordvoerder van die Namibiese polisie, het op 29 April in ’n verklaring gesê nóg ’n Namibiër is op 26 April op Walvisbaai in hegtenis geneem nadat kokaïen ter waarde van N$27 500 in sy besit gevind is. Hy sou laas Vrydag in die landdroshof op Walvisbaai sy eerste verskyning gemaak het.
Verder is ’n jong Namibiese vrou ook op 23 April op Sao Paolo se lughawe in hegtenis geneem nadat 2 kilogram kokaïen ter waarde van N$1 miljoen in haar besit gevind is.
Sy was glo op pad om ’n vlug na Johannesburg te haal toe sy in hegtenis geneem is. Die dwelms was glo in haar tas versteek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie