Neckartaldam: Tot oorlopens toe vol
Terwyl twaalf damme die afgelope week 444,217 Mm³ water ingekry het, waarsku die weerkantoor teen nog swaar reën vir die Noordooste.
Elvira Hattingh – Teen saktyd gisteraand is verwag dat die Neckartaldam vanaf middernag sou begin oorloop en tot 1 100 m³ water per sekonde sou uitlaat.
Dit volg nadat dié dam vroeg gister, volgens NamWater se damverslag, die 93%-merk verbygesteek het.
Volgens die Hidrologiese Diens van Namibië se vloedverslag laat gister het die dam teen 12:00 gistermiddag 821,160 Mm³ water bevat en was dit 95,82 % vol, met ’n invloei van steeds sowat 1 124,5 m³ per sekonde.
Gemeenskappe langs die Visrivier is gewaarsku om bedag op vloede te wees.
Terselfdertyd het die damverslag aangedui dat nasionale damme vandeesweek ’n rekord hoeveelheid water bygekry het.
Twaalf damme het altesaam sowat 444,217 miljoen kubieke meter (Mm³) water ingekry, volgens Nam- Water se jongste damverslag, met die Neckartaldam wat tot gisteroggend vir 386,420 Mm³ hiervan gesorg het.
Die Hardapdam, wat om veiligheidsredes nie toegelaat word om meer as 70% water te hou nie, was gister 69,8% (205,612 Mm³) vol.
Die Omatako- en Swakoppoortdam (nou op onderskeidelik 72,8% en 91,1%) het die afgelope week die tweede en derde meeste water ontvang, ofte wel 18,585 Mm³ en 12,433 Mm³.
Ook die Von Bachdam is tans 88,2% vol, terwyl die Goreangab-, Daan Viljoen-, Naute-, asook die Oanobdam almal méér as 100% vol is.
Die gemiddelde stand van alle nasionale damme is tans 82,9%, teenoor verlede jaar se 20,9%.
NECKARTAL EN AARDBEWING
Ongeag gissings, sê dr. Nortin Titus, hoofgeofisikus in die ministerie van myne en energie, dit is hoogs onwaarskynlik dat die opvulling van die nuwe Neckartaldam tot die aardbewing 10 km suidwes van Ais-Ais verlede Donderdag gelei het.
“My logika sê vir my dis eerder toe te skryf aan die groot hoeveelheid reën wat die afgelope tyd in die Suide voorgekom het,” het Titus gesê en bygevoeg die reën het vloede in die Ais-Ais-omgewing veroorsaak.
Hy sê so baie water kan veral ’n impak ná ’n uitgerekte droogte hê.
“Boonop is die dam baie ver – meer as 200 km van die plek waar die aardbewing voorgekom het,” het hy gister aan Republikein gesê.
Volgens ’n mediaverklaring wat vroeër deur die ministerie uitgereik is, het die aardbewing om 16:59 voorgekom en 3,8 op die Richterskaal gemeet. Dit is voorafgegaan deur ’n heelwat kleiner bewing op Woensdag en nog drie kleiner skuddings vroeër Donderdag om 08:23, 11:48 en 17:36 – in dieselfde gebied.
“Dit is dikwels baie moeilik om te bepaal of die oorsaak van ’n aardbewing ’n natuurlike, normale proses is, of deur die groot hoeveelheid reënwater veroorsaak is of deur iets anders. Daar is talle moontlikhede.
“Ons weet wel dat aardbewings geneig is om in dié spesifieke gebied in die Suide voor te kom – so ook die Kunene-gebied, vanweë swak plekke in die aardkors. Die gebiede ervaar gereelde, ligte aardskuddings,” het hy verduidelik.
NOG REËN KOM
Intussen het die Namibiese weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, gister aan Republikein gesê die sentrale noorde, asook noordwestelike dele van die land moet meer reën tot die naweek verwag.
Terselfdertyd word swaar reën weer eens vir die Tsumkwe-kiesafdeling, asook in die Kavango- en Zambezistreek voorspel.
“Matige reën word vanaf die middel van vandeesweek oor die sentrale en suidelike streke verwag,” het hy gesê.
Dit volg nadat die groter Namibië sedert middel Desember en veral in die eerste twee weke van Januarie ’n aansienlike hoeveelheid reën ontvang het.
Me. Pauline Mufeti, hoof van hidrologie by die ministerie van landbou, water en grondhervorming se hidrologiese diens, sê in ’n vloedverslag van 15 Januarie dat “ongewone swaar reën sedert begin Januarie oor die noordelike, sentrale, noordoostelike, oostelike en suidelike dele van die land voorgekom het.”
Die ministerie van werke en vervoer se meteorologiese diens dui in hul jongste reënbulletin aan die oorgrote dele van die land het in Desember normale tot bonormale reën ontvang, met die uitsondering van die Weste, waar reënneerslae ondernormaal was.
Intussen sê Amerika se Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) die kans dat La Niñatoestande tot in Maart sal voortduur, staan tans op 95%, waarna meer neutrale Enso-toestande kan intree.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie