Net een item se atlete haal Londen 2017

Dit raak al hoe skaarser dat ­Namibiese baan- en veldatlete vir topbyeenkomste kwalifiseer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die marathon is die enigste item waarin Namibië ­volgende maand verteenwoordig sal word by die IAAF ­wêreldkampioenskap in Londen – met drie vroue en twee mans wat teen die planeet se voorste langasems sal aantree.

Geen baan- óf veldatleet het die pyp gerook om daar te wees wanneer die openingseremonie in die Olimpiese Stadion op 4 Augustus 'n aanvang neem nie.

Met spesiale uitnodigings (wild cards) kan 'n land enkele atlete stuur wat nie die kwalifiserende peil gehaal het nie, maar omdat Namibië wel marathonhardlopers het wat deurgedring het, was selfs dié opsie nie daar om vir enige baan- en veldatleet die deur oop te maak nie.

Helalia Johannes is waarskynlik weer die een na wie met verwagtinge van moontlike sukses gekyk word. Sy het in Brittanje 'n redelike goeie rekord – as 'n mens dink aan haar 12de plek in die Olimpiese marathon in 2012 en (ná die geboorte van haar eerste kind) verlede jaar se triomf by die Dublin Marathon.

Johannes en Beata Naigambo het elkeen in die laaste drie Olimpiese Speles gehardloop en het dus ál die ondervinding. As die derde spanmaat is Lavinia Haitope jonger, maar met ewe veel potensiaal om die pap dik aan te maak.

In die manswedloop sal Reonard Namupala en Paulus Iyambo die aanslag van die Keniane, Ethiopiërs en ander gedugte langasems aandurf. Ná sy Olimpiese debuut in Rio de Janeiro verlede jaar het Mynhardt Kauanivi nie die kwalifiserende peil gehaal nie.

Die marathonhardlopers sal deur hul afrigter Robert Kaxuxuena vergesel word. Beide die mans en vroue se marathonwedlope is op Sondag 6 Augustus.

• Een van die Namibiese baanatlete wat bitter naby aan kwalifisering vir Londen gekom het, was die nasionale 400 meter hekkieskampioen Hardus Maritz.

Die Pukke-atleet het op 9 Julie die vinnigste tyd van sy loopbaan aangeteken toe hy in Brussels se Boudewijnstadion 'n 49.48 sekondes gehardloop het. Dit is net 'n fraksie buite die vereiste peil van 49.35 vir Londen 2017.

WINDHOEK CITY RUN

Gunstige weer het hardlopers begroet wat laas Sondag vir die 2017 WKH Windhoek City Run se sesde jaarlikse byeenkoms aangetree het.

Die twee padwedlope was 'n halfmarathon (21 km) asook die 10 km afstand wat gedraf óf gestap kon word.

Die regspraktyk Dr. Weder Kauta Hoveka was die goedgunstige borge waar die wenners met 'n gesamentlike prysgeld van N$59 000 weggestap het. Personeel van WKR het ook die byeenkoms ondersteun, insluitend mnr. Patrick Kauta self wat die 21 km afstand voltooi het.

Ander bydraende borge was Coca-Cola, G4S en Rent-A-Drum, terwyl Windhoek Harriers die organiserende reëlings getref het.

Uit die 350 inskrywings het 276 hardlopers hul afstande voltooi – insluitend sommige van die land se vinnigstes.

Matheus Kadhingula het met die louere weggestap ná die hoofitem van 21 km, wat hy in 'n baie skaflike tyd van een uur 13 minute 17 sekondes gewen het. Volgende agter hom was Sakaria Shifotoka in 1:14:28.

Die vroue se wentyd van 1:27:09 is deur Lavinia Haitope opgestel, met Ottile Aimwata tweede in 1:28:40.

Die eerste twee stapatlete oor 21 km was Aaron Tjivambi en Salomo David, onderskeidelik in 02:32:58 en 02:33:00. Sofia Nambabi was 'n oortuigende wenner in die vrouestap­item in 02:51:05, voor Rakel Akuku­thela in 02:55:10.

Van Namibië se groot kanonne het vir die 10 km aangetree, soos die driemalige Olimpiese paar Helalia Johannes en Beata Naigambo wat in die vrouewedloop eerste en tweede was, onderskeidelik in 34:55 en 36:44.

'n Ewe warm stryd het tussen die manne geheers, waar Kefas Kondjashili net-net voor Reonard Namupala klaargemaak het. Kondjashili se wentyd was 31 minute 10 sekondes, met Namupala nege sekondes later. Beide die manne is die seisoen goed op dreef in plaaslike wedlope.

In die staptog op die 10 km roete het Oscar Komeya (01:01:19) en Jonatan Mwadingi (01:01:20) die pas aangegee. Eerste en tweede van die vroue was Caroline Kamushinda (01:20:07) en die subveteraan Helena Iipinge (01:20:35).

Die byeenkoms wat deelnemers uit elke deel van die samelewing gelok het, is in goeie gees afgehandel wat ook reeds afwagting vir 2018 se ontmoeting laat opbou.

Windhoek Harriers spreek sy dank uit aan almal wat betrokke was.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!