NG Kerk betreur kampusonluste
NG Kerk betreur kampusonluste

NG Kerk betreur kampusonluste

Groot ongelykhede in die sosioëkonomiese profiel van die Suider-Afrikaanse konteks is grootliks die vonk vir voortslepende onrus by verskeie universiteite in Suid-Afrika.
Henriette Lamprecht
Die moderatuur van die NG Kerk in Namibië (NGKN) neem met hartseer kennis van soveel jongmense, ook Namibiese burgers, wie se lewens en onderrigmoontlikhede ingrypend geraak word deur studente-onrus op kampusse in die RSA.

Die NGKN het in ''n verklaring by monde van sy hoofsekretaris, ds. Clem Marais, gesê dit kan nie “onverskillig staan” teenoor die ontwrigting op die gebied van onderwys wat tans in Suider-Afrika aan die gang is nie. Dit betreur voorts die ontwrigting op die breër samelewing en die enorme verlies aan infrastruktuur en bates in Suid-Afrika.

Die NGKN verwys voorts na die huidige onrus en opstande by verskeie­ opleidingsentra in Suid-Afrika en die plaaslike kortstondige onderwysstaking en eksamenonrus op die kampus van die Universiteit van Namibië.

“As deel van die breër NG Kerk in Suider-Afrika wat haar verbintenis aan Namibië en Afrika bely, glo die NGKN sy het ''n roeping om haar hieroor uit te laat.”

Die NGKN doen ''n dringende beroep op Christus-volgelinge om te bid vir kalmte en rustigheid op kampusse.

“Die groot ongelykhede in die sosio­ëkonomiese profiel van die Suider-Afrikaanse konteks lê al hierdie vorme van onrus ten grondslag. Studente se protes in Suid-Afrika sowel as die onrus in Windhoek, is op universiteitsgelde gegrond. Onderwysers se ongelukkigheid is oor ''n beweerde onderbetaling oor ''n lang tyd. Sonder om hom uit te spreek oor die meriete van die protes, oordeel die moderatuur dat die huidige gebeure ''n wekroep is vir die gemeenskap om aktief mee te werk aan die uitwissing van die gaping tussen ryk en arm.”

Volgens Marais verstaan die kerk dat sy geroep word om in die wêreld rigtinggewend en helend op te tree.

“Die moderatuur aanvaar dus die verantwoordelikheid om elke gemeente en lidmaat, as wyd uitgebreide netwerk, op te roep om ''n daadwerklike verskil te maak waar ons deur die Here geplaas is om sout, lig en suurdeeg te wees.”

In 2012 reeds het die NGKN gevra dat werkgewers nie markverwante vergoeding moet betaal nie, maar menswaardige vergoeding.

“Wees daar Christus se hande, voete, ore, mond en oë, sodat sy Koninkryk daar kan kom en sy wil sal geskied. Kom ons vat hande en begin ''n positiewe momentum. Ons het dit nou nodig.”

Die moderatuur doen verder ook ''n ernstige beroep op die onderskeie owerhede om die veiligheid te verseker van almal wat geraak word en verantwoordelike dissipline toe te pas sodat anargie, soos te siene in Suid-Afrika, onder beheer gebring word.

“Waar burgers uitdrukking wil gee aan hulle ontevredenheid, versoek ons dat dit op ''n ordelike wyse en binne die wet gedoen moet word met die nodige verantwoordelikheid teenoor almal om hulle, en met die nodige respek vir eiendom en infrastruktuur.”

Die moderatuur bedank die Namibiese onderwyserkorps sowel as die unies dat hulle juis dit gedoen het.

“Laat ons almal strewe na ''n samelewing waar die eer van God en nie eie­belang nie, ons hoogste strewe sal wees, deurdat ons die beginsels van sy Koninkryk uitleef.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!