Nu00f3g 'n fonds om Harambee te finansier kom
Nu00f3g 'n fonds om Harambee te finansier kom

Nóg 'n fonds om Harambee te finansier kom

Die minister het in die Nasionale Vergadering die sluier gelig oor planne om werkgeleenthede vir jongmense te skep.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Nóg 'n finansiële instrument om veral werkskepping in Namibië te verbeter, word deur die regering beplan.

Die sogenaamde Jeugontwikkelingsfonds sal aangewend word om verskeie inisiatiewe van die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping te finansier om werkgeleenthede vir jongmense te skep.

Minister Erkki Nghimtina het in die Nasionale Vergadering (NV) gesê die fonds word in die Harambee-welvaartplan in die vooruitsig gestel.

Hy het in die NV gereageer op ’n versoek van me. Jennifer van den Heever van die DTA.

Nghimtina sê ondanks uitdagings is sy ministerie besig met omvattende werk om werklose jongmense te help.

Die ministerie het reeds 'n geïntegreerde inligtingstelsel vir werkgeleenthede tot stand gebring wat in al die streke toeganklik is.

Die stelsel bevat besonderhede van werksoekers, werkgewers en opleiding- en onderriginstansies.

Ingevolge die Wet op Werkgewingsdienste (Wet 8 van 2011) moet werkgewers vakatures by die werkgewingsburo registreer sodat werksoekers toegang tot werkgeleenthede kan kry.

"Hierdie projek duur voort en baie jongmense is al hiermee bygestaan om permanente werk te kry," het Nghimtina gesê.

Hy is spesifiek gevra oor werklose jongmense in die Kunenestreek.

Die minister sê in die afgelope finansiële jaar is 13 676 werksoekers in dié streek geregistreer en 1 233 van hulle is met behulp van die program gehelp om werk te kry.

Hy wys egter daarop dat die meeste jongmense nie oor die vaardighede en kundigheid wat benodig word in die arbeidsmark, beskik nie. Gevolglik is die ministerie se hande afgekap om hulle te help.

Nghimtina het ook daarop gewys dat 'n span senior amptenare van die ministerie na al 14 streke gestuur is om met die streeksleierskap te beraadslaag en om voorstelle vir werkskepping te kry.

Dit nadat hy die leisels by die ministerie oorgeneem het.

Positiewe terugvoering is ontvang en daar is met honderde voorstelle vorendag gekom.

Uitgesoekte projekte is voorgelê en word ontwikkel in samewerking met ander ministeries, soos die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling.

Op die langtermyn werk die ministerie saam met verskillende instansies om die jeug by te staan om toepaslike vaardighede vir verskeie bedrywe te ontwikkel.

Sulke vaardighede sal hulle in staat stel om in diens geneem te word of selfs hul eie werkgeleenthede te skep.

"Ons wil werkgeleenthede in landelike gebiede skep om die plaaslike ekonomie 'n hupstoot te gee en om terselfdertyd die toename in landelike-stedelike migrasie te verminder.

"Ons doen dit in samewerking met die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling en streeksrade," het Nghimtina gesê.

Ander projekte waarmee die ministerie op nasionale vlak vorendag gekom het, is ontbossing en om biomassa in energie om te sit.

Die program is daarop gemik om nagenoeg 5 000 ongekwalifseerde jongmense, wat nie oor ander vaardighede beskik nie, van werk te voorsien en sodoende te help om produktiwiteit in die landbousektor te verhoog.

Die program teiken plase in regeringsbesit en ook in private besit.

Dit word in samewerking met die ministerie van landbou, water en bosbou gedoen.

Nog 'n program behels die vervaardiging van sonkragtoerusting.

Met dié program sal jongmense geleer word om sonkragtoerusting vir veral landelike gebiede te vervaardig.

Na verwagting sal die program werkgeleenthede vir sowat 10 000 jongmense skep.

Dit word in samewerking met die ministerie van myne en energie, die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling, en NamPower gedoen.

Nog 'n projek sal verskeie nedersettings in groepe verdeel om plaaslike hulpbronne binne die nedersettings te identifiseer en te help om selfhelp-werkgeleenthede te skep.

Die program beoog om grootskaalse werkskepping in sekere gemeenskappe te bewerkstellig.

Opleiding en toerusting sal verskaf word om hierdie gemeenskappe met vervaardiging te help.

Nghimtima hoop om ongeveer 20 000 werkgeleenthede met hierdie program te skep.

Die skool-tot-werk-program is daarop gemik om skoolverlaters, finalejaarstudente en graduandi te help om van die onderwysomgewing na die werksomgewing oor te skakel deur hulle aan verskillende bedrywe bloot te stel sodat hulle praktiese ondervinding kan opdoen wat hulle in staat sal stel om in diens geneem te word.

Dit sal aan graduandi toelae vir internskappe en vakleerlingskappe bied.

Werkgewers sal aansporingsmaatreëls ontvang om die jongmense deur gesubsidieerde werkskemas vir 'n sekere tyd in diens te neem en hulle uiteindelik in die werkplek op te neem.

Daar word beoog om sowat 2 500 mense met hierdie program te help.

In nog 'n program wil die ministerie op entrepreneurskap en die konstruksiesektor fokus.

Die konstruksiewerk sal veral op skole, klinieke, hospitale en paaie fokus, asook op die instandhouding van infrastruktuur.

Daar word beoog om 121 jong entrepeneurs op die wyse te bemagtig - een jongmens per kiesafdeling.

Aanvanklik sal een program in werking gestel word, waarna dit na die ander streke uitgebrei sal word.

Daar word gehoop om uiteindelik 6 050 jongmense hierdeur te bemagtig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!