Nu00f3g u2019n studie kom oor skaapskema
Nu00f3g u2019n studie kom oor skaapskema

Nóg ’n studie kom oor skaapskema

Boere se frustrasie laai op omdat dit nie lyk of die regering hom aan die ombudsman se raad vir die skaapskema gaan steur nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Ondanks die ombudsman van Namibië se aanbeveling om die kleinveebemarkingskema te skrap, asook verskeie vorige indiepte-studies oor die negatiewe impak daarvan, gaan die ministerie van landbou, water en bosbou die kwessie opnuut laat ondersoek.

Mnr. Piet Gouws, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), sê skaapprodusente het met kommer kennis geneem van die ministerie se plan om weer eens ’n studie te doen om die impak van die 14 jaar oue skema te bepaal.

Dít het aan die lig gekom toe die rooivleisbedryf onlangs met die minister, mnr. Alpheus !Naruseb, vergader het om verskeie kwelpunte oor veebemarking in die land te bespreek.

Die ombudsman van Namibië se verslag waarin hy aanbeveel het die skema moet laat vaar word, is ook bespreek. (Sien die hoofberig in Die Boer binne.)

“Die teleurstelling is soveel groter aangesien daar reeds verskeie onafhanklike studies gedoen en verslae opgestel is. Om nie te praat van die ombudsman se verslag wat pas verskyn het nie.

“Die skaapbedryf is ooglopend besig om agteruit te gaan en die Suide verarm. Produsente kan tereg vra of hierdie dokumentasie ooit bestudeer is en hoekom die ministerie nie die ombudsman se aanbeveling kan implementeer nie,” sê Gouws.

Hy sê voorts die LPO is intens bewus van die frustrasie van produsente en hul versoeke om tot meer konkrete optrede oor te gaan. “Hoe geregverdig ook al, moet ’n mens altyd na al die moontlike resultate kyk en besluit of dit die moeite werd is of nie,” voeg hy by.

Die president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, sê dié unie ondersteun binnelandse waardetoevoeging ten volle mits dit al die belanghebbers in die waardeketting ewe veel bevoordeel.

Hy sê hierdie skema kon nie die afgelope 14 jaar daarin slaag om die produsent as primêre skakel te bevoordeel nie.

Verder, sê hy, het die uitvoer-abattoirs selfs in die tyd toe die skema bepaal het ses skape moet binnelands geslag word voordat een lewend uitgevoer mag word, nie werklik waarde toegevoeg nie. “Hulle was verseker van deurset en het steeds net die dier se vel afgetrek en die karkas uitgevoer.”

Van der Merwe wys daarop dat die skaapbedryf met bykans die helfte verklein het en dat twee van die vier uitvoer-abattoirs nie kon oorleef nie.

“Ons moet vir mekaar vra wat het verkeerd geloop. Produsente sal mos nie ophou om met skape te boer soos tans die geval is indien dit vir hulle ’n lonende bedryf was nie.

“Ons moet erken ons het ’n fout gemaak,” sê Van der Merwe. “Indien nog ’n studie gedoen word, moet dit uitwys wat gedoen kan word om die foute reg te stel sodat almal in die waardeketting voordeel trek. Die oplossing lê nie daarin om bemarking te beheer nie.”

Intussen het die eienaar van Brukarros Meat Processors (BMP), mnr. Jean Simonis, in ’n brief aan die Vleisraad gesê dié uitvoer-abattoir by Keetmanshoop “het tot die onaangename gevolgtrekking gekom dat die huidige beleidsraamwerk nie werk nie”.

Hy kla ook dat produsente nie deurgaans die regte tipe diere lewer nie.

In dié brief wat ook aan !Naruseb en die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, gestuur is, sê hy BMP slaag tans nie eers daarin om gelyk te breek nie.

Hy sê sonder die voortdurende lewering van die regte diere kan die abattoir vanweë sy hoë operasionele koste nie oorleef nie.

Nóg !Naruseb, nóg die permanente sekretaris van landbou, water en bosbou, mnr. Percy Misika, was gister vir kommentaar beskikbaar.

!Naruseb, wat ’n kabinetsvergadering bygewoon het, het die ministerie se openbare skakelafdeling versoek om ’n amptelike reaksie oor die nuwe studie voor te berei. Dit was teen druktyd nog nie gereed nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!