Nida se geldsake steeds duister
Die reusestaatsagentskap vir nywerheidsontwikkeling sukkel oënskynlik om op koers te bly.
Augetto Graig - Die reuseagentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) toon geen wins nie, en sal eers dividende aan die staat kan lewer wanneer hy winsgewend is.
Geldsake by Nida is oënskynlik chaoties met afsonderlike bankrekeninge en boekhougebreke wat daagliks aan die lig kom.
Nida het die mislukte Namibia Development Corporation (NDC) en die Offshore Development Corporation (ODC) oorgeneem, maar die betrokke bankrekeninge is nog nie gekonsolideer nie, terwyl die nuwe raad en topbestuur tans glo vanuit aparte rekeninge betaal word.
Mnr. Uparura Kuvare, Nida se uitvoerende direkteur en raadslid, sê die regering het boonop geen finansiële toelaag vir die huidige boekjaar aan die onderneming toegeken nie.
Volgens hom het raadslede sedert Mei nie vergoeding ontvang nie.
Kuvare het inligting oor die omstrede organisasie gedeel in reaksie op vrae wat voor die agentskap se onlangse openbare terugvoersessie voor die parlementêre staandekomitee op openbare rekeninge gestel is.
Tydens die geleentheid is ’n prentjie van ’n onderneming geskets met uitgestrekte tentakels, wat persele landswyd insluit, asook belange in druiwe- en dadelproduksie, uitvoerfasiliteite, kleinsakeparke en nywerheidskomplekse.
Kuvare het gesê die Teenkorrupsiekommissie en die Namibiese polisie ondersoek verskeie sake binne die onderneming wat met korrupsie en bedrog verband hou.
Nida het 275 permanente werknemers, waarvan vier sedert 2018 afgetree het, drie afgedank is en drie geskors is.
Die NDC se voormalige uitvoerende direkteur het bedank terwyl die eiendomsbestuurder, plaasbestuurder en die bestuurder vir nywerheidsontwikkeling geskors is, het Kuvare gesê.
Afgesien van 11 bemande kantore landswyd besit die organisasie ook nywerheidslandgoedere, kleinsakeparke, huise, toerismesentrums en het verskeie beleggings in landbou.
Onder leiding van die raad, wat ’n jaar gelede aangestel is, word alle eiendom in die agentskap se besit tans gewaardeer.
“Nida se bygewerkte eiendomswaarde sal mettertyd bekend wees,” het Kuvare gesê.
Hy het saam met mnr. Frans Kwala, Nida se raadsvoorsitter, mnr. Job Muniaro, raadslid en vakbondleier, en me. Rosalia Haihambo, die waarnemende finansiële bestuurder, voor die staande komitee oor gebreke in die NDC se finansiële boeke vir 2015, 2016 en 2017 getuig.
Kwala en sy mederaadslede is eers in Augustus 2018, in ooreenstemming met die Nida-wet van 2016, aangestel.
Hy het die deurmekaarspul by die organisasie as volg aan parlementslede beskryf: “’n Cuca-winkel sou beter bestuur word.”
In sy getuienis het Kuvare saam met mnr. Nico Smit, ’n parlementslid, gestem die stand van sake by die organisasie was skokkend.
“Toe ons aansluit, was ons net so geskok. Ons bly daagliks geskok soos ons voortgaan. Dit is ’n organisasie wat met net drie beleide bestuur is. Ons is tans besig om 32 bestuursmeganismes te ontwikkel,” het hy gesê.
Kuvare is glo deur die raad gesekondeer om die daaglikse werksaamhede weens ’n tekort aan bekwaamheid by die organisasie te bestuur.
Hy sê ’n organogram is ontwikkel en moet nog goedgekeur word voor bepaal word watter poste vir Nida se nuwe uitvoerende direksie benodig word.
Advertensies vir ’n nuwe uitvoerende hoof is reeds in die media gepubliseer, het Kuvare gesê.
Nog vordering sluit in die ontwikkeling van ’n bloudruk vir die organisasie, beraadslaging met streekverteenwoordigers en private besighede, asook die hersiening van die operasionele beleid vir beter doeltreffendheid, het hy gesê.
Die organisasie bevorder ook belegging en die ontwikkeling van ondernemings, die groei van die landbousektor vir uitvoerprodukte, die ontwikkeling van ’n handelsmerk, werkskepping, strukturele ontwikkeling en die invordering van huurinkomste, het hy gesê.
Die staande komitee het veral vrae oor verlore huurinkomste gehad.
Kuvare het gesê ’n SMS-stelsel is geïmplementeer en eisbriewe is uitgereik om huurders aan te spoor om hul rekeninge in orde te kry.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie