NLU bekommerd oor wurmplaag
NLU bekommerd oor wurmplaag

NLU bekommerd oor wurmplaag

Chemiese middels om die herfskommando­wurm te beveg, word tans getoets.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Namibië Landbou-unie (NLU) is bekommerd dat die voorkoms van die herfskommandowurm in akkerbougebiede in die land die verwagte goeie mielieoes vir 2017 kan beïnvloed.

Afgesien daarvan dat die omvang nog nie bepaal kon word nie, lyk dit nou of die chemiese middels wat voorheen gebruik is, nie meer doeltreffend vir die bestryding van dié wurm is nie.

Die plaag, wat wyd voorkom in die noordelike kommunale gebiede (NCA), het intussen ook na die kommersiële akkerbougebiede versprei, sê die landbou-unie in sy weeklikse nuusbrief.

“In hierdie stadium is dit baie moeilik om vas te stel wat die werklike omvang van die plaag is en hoeveel skade dit reeds veroorsaak het.

“Die voorkoms kan eers bepaal word wanneer die eiers, wat deur motte gelê word, uitbroei. Verder gebeur die infestering ook in fases.

“Die akkerbouprodusente is tans in ­samewerking met die ministerie van landbou, water en bosbou, asook sekere verskaffers besig om die beskikbare chemiese middels te toets om te kyk watter aktiewe bestanddeel die doeltreffendste is.

“Volgens inligting is die ouer middels, wat voorheen gebruik is vir die beheer van die herfskommandowurm, nie meer doeltreffend nie,” sê die NLU.

Akkerbouprodusente is ook besig om verskillende metodes van toediening, soos konvensionele spuite en rugsaktoedieners, te ondersoek om vas te stel watter werk die beste.

“Dit blyk dat die wurm in die kelk van die mielieplant voorkom en dus is direkte kontak met chemiese beheermiddels die mees effektiewe manier om die plaag te beheer.

“Aangesien daar tans min inligting beskikbaar is en beperkte navorsing in Namibiese toestande gedoen is, is 'n proef­lopie nodig en enige nuwe beskikbare inligting moet onder produsente versprei word,” lui die nuusbrief.

Die NLU sê verder dit is uiters belangrik dat alle belanghebbendes, insluitend die regering, ten nouste saamwerk om die mees doeltreffende middel en metode te kry om die plaag te bestry.

Akkerbouers word versoek om in kontak te bly met die onder­skeie verskaffers sodat hulle die nuutste inligting kan kry. Hulle kan vir Francois Wahl by 081 675 9068 skakel.

Die NLU sê hy is saam met die Akkerbouprodusentevereniging (APV) en die Akkerbouraad (NAB) in gesprek met die ministerie oor moontlike finansiële ondersteuning vir akkerbouprodusente in die bestryding van die plaag.

In Suid-Afrika kom die herfskommandowurm ook reeds in die Limpopo- en Noordwes-provinsie voor.

Buiten mielieoeste, raak dit ook tamatie- en aartappelproduksie.

Netwerk24 berig die plaag word deur die lug versprei.

Dit het dus nie geoeste landbouprodukte nodig om 'n land binne te dring nie.

Daarom sal 'n verbod op uitvoerprodukte nie ­doeltreffend wees om die plaag te keer wat reeds van die Amerikas deur Noord-Afrika versprei het voor hy sy pad na Suider-Afrika gevind het nie.

Die departement van landbou, bosbou en visserye in die buurland het 'n noodreaksieplan in werking gestel en het die sertifisering van plaagdoders, asook die monitering en insameling van tegniese inligting oor beheermaatreëls, versnel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!