Noord-Korea toets 'n nuwe vuurpylenjin
Noord-Korea toets 'n nuwe vuurpylenjin

Noord-Korea toets 'n nuwe vuurpylenjin

'n Kragtige nuwe vuurpylenjin is Saterdag deur Pjongjang getoets en word deur Noord-Korea as 'n groot deurbraak beskou.
NAMPA
Noord-Korea het Saterdag 'n grondtoets gedoen van 'n nuwe hoë-aangedrewe vuurpylenjin wat dié land se leier, Kim Jong Un, as 'n revolusionêre deurbraak vir sy ruimteprogram beskryf het.

Kim het die toets by die Sohae-lanseringsterrein bygewoon, het die Koreaanse Sentrale Nuusagentskap (KCNA) gister berig. Volgens die berig was dié toets daarop gemik om die nuwe tipe enjin se aandrywingskrag en die betroubaarheid van die beheerstelsel, asook die strukturele veiligheid daarvan te bevestig.

KCNA berig voorts Kim het die toets as “'n groot geleentheid van geskied­kundige belang” vir Noord-Korea se vuurpylbedryf beskryf.

Hy het ook gesê “die hele wêreld sal binnekort aanskou van watter belang dié groot oorwinning was”. Volgens hom sal die toets bekend staan as die “18 Maart-revolusie”.

Volgens KCNA sal die nuwe enjin in Noord-Korea se ruimte- en satellietlanseringprogram gebruik word.

Noord-Korea is deur die Verenigde Nasies verbied om langafstand-missieltoetse uit te voer, maar Noord-Korea voer aan sy satellietprogram word vir vreedsame doeleindes aangewend. Dié aanspraak word egter deur die VSA en ander lande bevraagteken.

Noord-Koreaanse amptenare het vroeër gesê die land beoog om as deel van 'n vyfjaarplan meer observasie-satelliete om die aarde te ontplooi, wat die land se eerste geografies-geposisioneerde kommunikasiesatelliet sal insluit.

Dit sal 'n reusesprong in tegnologiese vooruitgang wees. Om só 'n satelliet in posisie te plaas, word 'n baie kragtige vuurpylenjin benodig.

Noord-Korea maak ook daarop aanspraak dat hy 'n lewensvatbare ruimteprogram probeer vestig en binne die volgende 10 jaar 'n maanlanding wil doen.

Die toets is Saterdag uitgevoer terwyl die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, in China was as deel van 'n Asiese besoek wat verband hou met vrese oor Pjongjang se kern- en missielprogram.

AP berig dat dit moeilik is om te bepaal of die toets doelbewus uitgevoer is om met Tillerson se besoek aan China saam te val.

Pjongjang het vroeër vandeesmaand vier ballistiese missiele in die See van Japan, sowat 200 km van die Japanse kus af, gevuur.

Japan, waar Tillerson eerste aangedoen het op sy Asiese reis, huisves duisende Amerikaanse troepe. - Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!