NTTU gaan deurdruk met 50% verhoging in taxitariewe

Augetto Graig
Augetto Graig - Die Namibië Vervoer- en Taxivakbond (NTTU) se president, mnr. Werner Januarie, sê sy lede sal op 1 September vanjaar met ’n tariefverhoging van 50% per rit voortgaan.
Dié belofte geld, of die padvervoerraad hul voorgestelde verhoging vandeesweek goedkeur of nie.
Hy daag ook die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, uit om hom vir die oortreding van Wet nommer 74 van 1977, wat verouderd is, hof toe te sleep. Volgens Januarie is dié wet, wat verhogings tot 10% op ’n slag beperk, ongrondwetlik.
Die vakbond het ’n lys van tariewe van en na verskeie bestemmings opgestel en aan Mutorwa gestuur.
Volgens die lys sal die duurste rit van Katutura of Khomasdal af na die Daan Viljoenontspanningsarea wees, wat N$75 per persoon sal beloop.
In die algemeen sal ’n rit dorp toe N$15 beloop, maar langer roetes kos meer. ’n Rit van Katutura af Eros-lughawe toe sal N$45 kos, van Katutura na Cimbebasia N$50 en van Katutura na Kleine Kuppe N$55.
Die vakbond wil ook hê drywers moet kliënte geld vra vir die vervoer van goedere en bagasie. ’n Krat bier sal byvoorbeeld N$5 kos om te vervoer, ’n sak sement N$10 en ’n kattebak vol goedere N$30.
Kliënte wat ’n taxi ná middernag wil gebruik, moet hulself vir tot N$60 per rit staal.
Dié tariefverhogings sal toegepas word met óf sonder die goedkeuring van minister of die padvervoerraad, wat glo vandeesweek ’n besluit sal neem, sê Januarie.
Die raadsekretaris het bevestig hul maandelikse sitting vind môre plaas. Sy kon egter nie bevestig of die kwessie van tariefverhogings op die agenda is nie, en het ander vrae na die Paaieowerheid (RA) of die ministerie van werke en vervoer verwys.
Verteenwoordigers van die RA moes eers navraag doen oor of die padvervoerraad wel onder hulle val, maar kon dit nie teen druktyd bevestig nie.
Volgens Januarie druis die padvervoerwet teen die Namibiese grondwet in en is derhalwe onwettig. Hierdie wet beperk enige verhoging in taxitariewe tot 10% op ’n slag.
Mutorwa het in die verlede na hierdie wet verwys.
Januarie sê sy vakbond het op 15 Julie vanjaar met lede vergader en besluit hulle aanvaar dié wet nie.

LAE INKOMSTE
“Dus sal ons u brief ignoreer en voortgaan met die toepassing van ’n 50%-verhoging in tariewe vir taxiritte, wat van 1 September af van toepassing sal wees,” het Januarie aan die minister geskryf.
“As die minister so vol vertroue in die bogenoemde deel van die wet is en voel ons oortree dit deur die 50%-verhoging toe te pas in plaas van slegs 10%, waarvoor artikel 12 van Wet 74 van 1977 voorsiening maak, daag ek u uit om regstappe teen my, mnr. Werner Januarie, as president van die NTTU te doen,” het hy gesê.
Januarie daag nie net die minister nie, maar ook die padvervoerraad en alle betrokke padvervoerowerhede uit om hom te dagvaar “as ons dié wet bewustelik en met opset in September begin oortree”.
Januarie regverdig die tariefverhoging deur aan te voer drywers verdien ’n lae inkomste. Ander redes sluit onder meer die hoofstad se hoë lewenskoste, die hoë koste van voertuigonderhoud, hoë brandstofkoste en die onlangse 100%-verhoging in die koste van ’n taxi-permit.
Januarie sê taxidrywers baat tans nie by hul werksomstandighede nie.

Hierdie berig en die meegaande infografiek is op 26 Julie 2018 gewysig om foute reg te stel in die Namibiese Bus- en Taxivereniging (Nabta) se huidige tariewe. Die laaste verhogings is in 2014 goedgekeur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!