Nuwe bloed in NRU belowende teken

Uitsluitsel in die voortslepende magstryd is ook binne die afsienbare toekoms moontlik.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die bekende uitgetrede toetsskeidsregter mnr. Jacky Husselmann is tot die Namibië Rugby-unie se visepresident vir bestuursake verkies.

Die NRU het laas naweek sy buitengewone algemene jaarvergadering gehou, waar mnr. Steve van Wyk (as die Noorde se verteenwoordiger) en Husselman verkies is om dié twee vakante poste te vul.

Husselmann neem die plek in van mnr. Ettienne Coetzee, wat uit die pos bedank het enkele dae voordat hy deur die Teenkorrupsiekommissie op aanklag van korrupsie in hegtenis geneem is. Coetzee is later op borgtog vrygelaat.

Husselmann (45) was tevore ’n uitvoerende komiteelid as verteenwoordiger van die Namibiese Skeidsregtersvereniging, maar het in dié portefeulje reeds die drie termyne van twee jaar elk uitgedien waarvoor die NRU se grondwet voorsiening maak.

Sy aanwysing as visepresident vir bestuursake word in rugbykringe allerweë as ’n belowende keuse vir die administrasie van die spel bestempel. Sy onverstoorbare temperament het by spelers en toeskouers in die vuurwarmste wedstryde se mees omstrede oomblikke ’n aura van gesaghebbendheid in sy beslissings gegee.

Die duidelikste teken van goeie skeidsregterskap is mos as niemand ná die eindfluitjie kan onthou wie geblaas het nie – en dít het Husselmann gereeld reggekry. Sy toewyding en ywer vir rugby is ook nooit betwyfel nie deurdat hy tot lank ná sy “vervaldatum” meer as sy gemiddelde eweknieë gedoen het om fiks en op datum van reëlwysigings te bly.

Husselmann is by die 2011 Namibiese Sporttoekennings as die land se skeidsregter van die jaar aangewys – die enigste rugbyblaser van die moderne era wat só vereer is. Op internasionale vlak het hy geleentheid in tien toetse gekry, insluitend een vrouewedstryd wat as Wêreldbeker-kwalifisering gedien het.

Steve van Wyk het in sy speeldae stut vir klubs soos Reho Falcon, Unam, Otjiwarongo en die Etosha Leeus van Tsumeb gespeel. Hy is waarskynlik ewe bekend as die vader van die Namibiese vleuel Russell en die hekkiesatleet en skoonheidskoningin Steffi van Wyk (Mej. Namibië 2015).

Van Wyk, wat deesdae ’n plaasboer tussen Otjiwarongo en Otavi is, is vir die amp as Noorde-verteenwoordiger deur Otjiwarongo benoem en deur die Etosha Leeus gesekondeer.

Van Wyk het gister aan die koerant gesê dit is die afgelope jare ’n bekende feit dat rugby in die noordelike streke oor die laaste jare aan die agterspeen suig.

In vorige jare is rugbymense wat in Windhoek woon, benoem en verkies om namens die noordelike streek op die uitvoerende komitee te dien.

“Jy sal onthou hoe ’n groot faktor die Noorde was in die tye toe ons klubstruktuur nog vir streekspanne soos Weste en Suide voorsiening gemaak het. ’n Mens sien te veel manne hier rondloop met hul rugbybroeke van die Sharks-akademie en sulke spanne, wat nou nie eens meer speel nie.

“Ons moet mos darem kyk of daar nie méér talent tot sy reg kom as ons ’n slag moeite doen om beter blootstelling vir die noorde-spelers te reël nie.”

“STAATSHUIS NIE IN DUISTER’

Die volledige NRU-bestuurskomitee, insluitend die pas verkose lede, was bestem om gisteroggend ’n welwillendheidsbesoek aan president Hage Geingob te bring. Staatshuis het die afspraak egter gekanselleer.

Die NRU se president, mnr. Corrie Mensah, het aan die koerant gesê wat eintlik ’n blote welwillendheidsbesoek sou wees, sou uiteraard teen gister ontwikkel het om ’n inligtingsessie oor die stand van die voortslepende toutrekkery tussen die NRU en die Namibiese Rugbymaatskappy (NRL) te word.

“President Geingob is natuurlik al vir baie jare die beskermheer van die Namibiese Rugby-unie en lees mos ook koerante, so hy is nie in die duister oor wat aangaan nie, maar ons sou die geleentheid gebruik het om hom eerstehands oor die vordering in te lig.”

Mensah sê binne die volgende week behoort die NRU en die Maatskappy weer ’n ontmoeting by die kantoor van die Namibiese Sportkommissie te hê. Dit sal grootliks ’n simboliese geleentheid wees, waar Mensah die voorlegging sal oorhandig wat hy opgestel het van hoe die werkverhouding tussen die twee entiteite in mekaar behoort te pas.

Mensah het reeds in September verklaar dat hy nie te vinde is vir die oorspronklike ooreenkoms dat die Maatskappy die professionele sy van die spel (insluitend die nasionale spanne, kontrakte en hoëprestasie-program) bedryf wat deur Wêreldrugby gefinansier word nie, terwyl die NRU dan in wese ’n “leë dop” is wat na aspekte soos klubrugby, vrouerugby en ontwikkeling moet omsien.

’n Afspraak, waarskynlik binne die volgende maand, by die kantoor van minister Erastus Uutoni van sport, jeug en nasionale diens sal die geleentheid wees waar dan besleg sal word of die Unie en die Maatskappy middelgrond gevind het om in harmonie vorentoe te kan beweeg.

Namibië berei hom voor om vroeg in Desember ’n hoëvlak besoek van Wêreldrugby te ontvang, vir ’n strategiese hersiening- en beplanningsessie in die aanloop tot die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan. Wêreldrugby belê die afgelope jare reusebedrae in Namibië en is dus ’n belangrike party in die voortslepende magstryd tussen die baadjiedraers.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!