Nuwe F-woord voor 2027: Fasiliteite

Die aandag is op die belangrike rolspelers wat moet help verseker dat Namibië gereed is om die beste spanne ter wêreld in ons eie agterplaas te ontvang.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die opstel en najaag van nuwe, groter doelwitte lê vir Krieket Namibië voor ná Maandag se historiese aankondiging dat die land saam met Suid-Afrika en Zimbabwe medegashere vir die 2027 Wêreldbeker is.

Volgens mnr. Johan Muller, uitvoerende hoof van Krieket Namibië, lê 'n nuwe hoofstuk vir die land voor en word die sport se beheerliggaam gedwing om sy strategiese beplanning aan te pas om die aanbieding van die Wêreldbeker by te reken.

Van alle sportkodes word krieket se Wêreldbekers in kykergetalle net deur sokker oortref.

Vir Namibië om vir die eerste keer in so 'n gewilde spansport die aanbiedingsreg vir die Wêreldbekertoernooi te verkry, is dus 'n groot tree vorentoe en is ewe opwindend as die vooruitsig dat sy nasionale span vir die eerste outomaties hiervoor kwalifiseer en dus in hul eie agterplaas teen die beste spanne ter wêreld opgeweeg sal word.

Namibië se groeiende aansien wat uit die afgelope maand se T20 Wêreldbeker spruit, kan en moet gewis tot sy ekonomiese voordeel benut word, meen Muller.

“Hierdie is 'n geleentheid om Namibië aan die ganse wêreld vir sporttoerisme te bemark. Groot getalle ondersteuners sal hul spanne volg wat geloot word om in Namibië te kom speel, wat meer besigheid vir vele sektore beteken,” het hy aan Nampa gesê.

Muller sê hoewel weinig van die besonderhede nog bevestig is, is hy hoopvol dat Namibië tussen vier en ses wedstryde kan aanbied.

Hy het verklaar dat die beheerliggaam en mederolspelers Namibië se krieket- en algemene infrastruktuur sal moet verbeter om aan die vereistes vir 'n 50-boulbeurt Wêreldbekertoernooi te voldoen.



UITSONDERLIKE EER

Die ontwikkelingswerk vanaf grondvlak en om meer Namibiërs se entoesiasme vir die sport te ontwikkel, is ook nou van belang, sê Muller.

“Om medegasheer vir die 2027 Wêreldbeker te wees, is 'n uitsonderlike eer en krieket in Namibië sal nooit weer dieselfde wees nie. Ons het groot waardering dat Krieket Suid-Afrika ons by hul bod aan die Internasionale Krieketraad (ICC) ingesluit het.

“Ek moet die ondersteuning uitsonder wat ons van Patricia Kambarami, die ICC se verteenwoordiger vir Afrika, gekry het om die gedagte van Namibië as 'n potentiële aanbieder te motiveer. Ons bedryfsbestuurder John Heynes het ook verseker dat alle dokumentasie en inligting feitelik en betyds ingedien is.

“Die sleutelrolspelers in die land moet hulle nou daartoe verbind om infrastruktuur van hoë gehalte daar te stel vir byeenkomste van hierdie omvang.”



EENDAGREEKS IN WINDHOEK

Oman se krieketspan het reeds afgelope Sondag uit hul hoofstad Maskat na Windhoek vertrek waar die volgende driehoekige mini-toernooi in die 2019-2022 Wêreldbeker Liga Twee-eendagreeks eersdaags gespeel word.

Namibië en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) is die ander twee spanne wie se wedstrydgroepe nog nie aangekondig is nie.

Oman word soos gebruiklik deur Zeeshan Maqsood as sy kaptein aangevoer.

Dié uitgebreide Wêreldbeker Liga Twee, tussen sewe ontluikende krieketlande, bied die roete vir die toptwee lande se regstreekse kwalifisering vir die 2023 Wêreldbeker se finale uitdun­toernooi.

Oman is tans die voorloper van die sewe spanne, maar het ook meer wedstryde gespeel (18) in die reeks wat halfpad deur weens die maandelange ontwrigting van Covid-19 uitgestel is. Die Emirate (sesde) en Namibië (vyfde) het elk nog net sewe wed­stryde gespeel.

Oman en die Emirate sal een ekstra wedstryd teen mekaar in Windhoek speel, wat ingehaal moet word. Hul ontmoeting in Oman in Januarie 2020 is gekanselleer vanweë die afsterwe van die gasheerland se sultan Qaboos bin Said.

Die toernooi se skedule (alle wedstryde by Wanderers):

26 November: Namibië tn Oman

27 November: Namibië tn Oman

29 November: Oman tn VAE

30 November: Namibië tn VAE

2 Desember: Oman tn VAE

4 Desember: Namibië tn Oman

5 Desember: Namibië tn VAE

6 Desember: Oman tn VAE

FOTO’s
Die veelsydige insette van David Wiese tot Namibië se sukses by die T20 Wêreldbeker het meegebring dat Sport24 hom in hul droomspan vir die toernooi ingesluit het. Foto ICC / Getty Images
Mnr. Johan Muller, uitvoerende hoof van Krieket Namibië. Foto Andrew Poolman
Oman se krieketspan wat reeds Sondag die reis na Namibië aangepak het vir ’n paar ekstra oefendae. Foto Times of Oman

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!