Nuwe lig ná 30 jaar – en 'n mens ril opnuut
Deeglike navorsing, onderhoude met kenners en kennisse en 'n stywe spanningslyn maak Gert & Joey die moeite werd om te lees, skryf Riette Rust.
Al het Gert van Rooyen en Joey Haarhoff reeds in die laat 1980's ses skoolmeisies ontvoer, ril 'n mens opnuut wanneer jy Gert & Joey lees.
Van Rooyen was 'n pedofiel, psigopaat en ontvoerder. Joey Haarhoff, sy verloofde, het die kinders na hom toe gebring. Kan daar 30 jaar later onbekende inligting na vore kom? Inderdaad! Van Zyl, 'n senior Huisgenoot-joernalis, werp nuwe lig op die saak.
Wat die lees van Gert & Joey veral die moeite werd maak, is die onderhoude met rolspelers wat direk betrokke is of was. Naasbestaandes van die skoolkinders én van die twee berugtes is genader. Kenners, onder wie sielkundiges, kriminoloë en topspeurders lewer insette. Handskrifontleders is meestal in die kol; sieners is geraadpleeg.
Dis nie onmoontlik dat die kinders nog opgespoor kan word nie. Lewend. Of dood, soos in Skotland gebeur het toe twee meisies verdwyn het: ná 30 jaar het DNS Angus Sinclair, moordenaar, se doppie geklink.
Die onsekerheid oor wat met die ses Gautengse meisies gebeur het, kan vir die ouers erger as die dood wees. Finaliteit kan uiteindelik berusting bring, sê 'n kliniese sielkundige in Gert & Joey. Die verlange en onopgeloste vrae waarmee die ouers moes leer saamleef, is smartlik en van hulle het siektes soos kanker en diabetes gekry. Weens stres, sê hulle self. Huwelike het gesneuwel. Van die ontvoerders se nasate gaan steeds deur hel.
Weet ek waar mý kinders is? wonder mens wanneer jy lees oor die molestering, aanranding, tonnels, dwelms, die geheimsinnige Mnr. X, asook satanisme. Om nie eens te praat van die groen trommeltjie waarin foto's van potensiële “ontvoermateriaal” gehou is nie.
Van die slagoffers wat wel uit Van Rooyen en Haarhoff se kloue ontsnap het, word steeds geterroriseer, waarskynlik oor inligting wat die teisteraars reken hulle sou kon hê. Sommige van hulle leef in vrees vir wat hulle reken 'n misdaadnetwerk is. 'n Prys en afpersing was juis ter sprake. Oor “hoë koppe” se betrokkenheid word bespiegel.
Die hoofstukke “Die man met die skalkse glimlag” en “Blond en behoeftig” werp lig op wie Van Rooyen en Haarhoff werklik was. 'n Mens word nie sommer net 'n misdadiger, aanrander, pedofiel of psigopaat nie. Iets moes lelik skeefgeloop het tydens hul kinderjare. Neem die Van Rooyen-familie as voorbeeld. Gert se suster het “ 'n kick daaruit gekry om lyke saam met die polisiemannetjies te gaan oplaai”; sy seuns het die binnekant van 'n tronk leer ken.
Haarhoff het “donker persoonlikheidstrekke” gehad, sê 'n kenner. Hoe anders kon sy meisies ontvoer en na Van Rooyen, die psigopaat en pedofiel, gebring het?
Volgens kenners is die eerste 48 uur ná 'n kind se verdwyning kritiek vir opsporing, maar in die 1980's was Suid-Afrikaanse tegnologie nog in sy kinderskoene. Selfone en DNS-toetse het nie bestaan nie.
Pieter van Zyl kry dit goed reg om die spanning te laat opbou. Die besonderhede is sappig (dog feitelik), jy sal waarskynlik nie anders kan as om slaap in te boet nie.
Die skryfwerk is goed en die navorsing deeglik. Terme en frases soos “psigoseksueel” en “karteerders van die menslike psige” kon omskryf gewees het. Soms kom voorskriftelikheid voor, soos dat elkeen van ons beter na ons kinders se veiligheid behoort om te sien. Nuwe lig op die Gert-en-Joey-saak bied egter hoop dat diegene wat iets meer weet na vore sal kom.
Daar is ook stof tot nadenke: Elkeen van ons behoort seker te maak dat die name van die ses vermiste meisies lewend gehou sal word – ook die ander 1 697 wat in Suid-Afrika ontvoer is of spoorloos verdwyn het.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie