Nuwe parlement: Argitek eis miljoene
Nuwe parlement: Argitek eis miljoene

Nuwe parlement: Argitek eis miljoene

'n Windhoekse argiteksfirma eis in die hoërhof miljoene vir die vergeefse bouplanne vir 'n nuwe parlementsgebou.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Sowat drie jaar nadat die regering onder openbare druk geswig en sy plan laat vaar het om ’n nuwe parlementsgebou vir sowat N$2,2 miljard op te rig, eis die destydse argitek N$28,6 miljoen as betaling vir sy dienste.

Volgens die besonderhede van die eis is die argiteksfirma Claud Bosch Argitekte op 13 Maart 2015 deur die destydse permanente sekretaris van werke en vervoer, mnr. Peter Mwatile, as die konsultante vir ’n kapitale bouprojek van die regering aangestel.

Dit beteken hierdie firma moes as die argitekte die nodige tegniese dokumentasie vir die projek voorberei. Verder sou Claud Bosch Argitekte ook die aanstelling van die konstrakteurs administreer.

Die firma se professionele tariewe is bereken volgens die voorgeskrewe tarief- en fooistrukture vir argitekte en bourekenaars.

Die ooreenkoms was dat die Claud Bosch Argitekte se betaling gemaak sou word wanneer die bouplanne aan die regering voorgelê word. Rente sou gehef word teen ’n koers van prima plus 2% op agterstallige bedrae, blyk dit uit die hofstukke.

Op 24 Februarie 2016 het mnr. Claud Bosch en mnr. Calvinos Mutsambiwa van die ministerie ’n mondelinge, professionele dienste-ooreenkoms aangegaan vir dienste wat bykomend tot die oorspronklike ooreenkoms gelewer sou word.

Dit was naamlik vir die ontwerp van dié nuwe parlementsgebou wat beide die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad (NR) sou huisves.

Claud Bosch Argitekte sou teen ’n uurlikse tarief verskeie projekontledings doen en die verslae voorlê.

Dié firma voer in die hofstukke aan hy het al die pligte van die skriftelike en mondelinge ooreenkoms nagekom.

Dit blyk verder ’n faktuur vir die betaling van N$26 323 807,82 is op 5 Augustus 2015 aan die ministerie voorgelê, waarvan net N$4 570 465,22 betaal is.

In Junie 2016 het ’n kabinetskomitee te midde van groot openbare druk onder voorsitterskap van die vorige visepresident, dr. Nickey Iyambo, aanbeveel dat dié duur en ambisieuse projek laat vaar word.

Daar is aanbeveel dat die regering ná die afhandeling van die aanvanklike beplanning en lewensvatbaarheidstudie vir die gebou, eers halt roep en nie met die oprigting daarvan voortgaan nie.

Die kabinetskomitee het ook uit die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, die speaker, prof. Peter Katjavivi, en die ministers van werke en vervoer; presidensiële aangeleenthede; finansies; ekonomiese ontwikkeling en die direkteur van die Nasionale Beplanningskommissie; inligting en kommunikasietegnologie, die adjunkspeaker en adjunkvoorsitter van die NV en NR bestaan.

Volgens Claud Bosch Argitekte het die rente op die uitstaande bedrag sodanig opgeloop dat die regering hom nou N$28 590 696,00 skuld.

Dié siviele eis-saak dien weer op 25 Maart voor regter Herman Oosthuizen in die hoërhof in Windhoek vir voorverhoorverrigtinge.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!