Nuwe wet kom vir gesondheidsrade
Henriette Lamprecht - Regulering in gesondheidsberoepe sal hopelik vandag 'n nuwe fase betree.
’n Wysigingswetsontwerp gaan na verwagting vandag ter tafel gelê word wat die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) in staat sal stel om lede vir rade van gesondheidsberoepe aan te wys. Die raad vir gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) bestaan uit vyf rade wat almal deur een sekretariaat bestuur word. Die rade sluit die mediese en tandheelkundige raad, die raad vir gesondheidsverwante beroepe asook rade vir verpleegsters, aptekers, maatskaplike werkers en sielkundiges in. Die ampstermyn van die vorige rade het reeds op 31 Maart vanjaar geëindig.
Volgens die registrateur van die HPCNA, mnr. Cornelius Weyulu, het die bestaande wette daarvoor voorsiening gemaak dat raadslede soos voorgeskryf deur die regulasies verkies word. Dié regulasies word normaalweg deur die minister op voorstelle van die betrokke rade uitgereik.
“Dié regulasies was egter nie gereed teen die tyd wat die ampstermyn van die vorige rade verval het nie. Gevolglik kan dr. Bernard Haufiku dit nie sonder die rade opstel wat die vereiste voorstelle aan hom moet maak nie,” het Weyulu verduidelik.
Volgens hom het Haufiku wysings tot die bestaande wette voorgestel waardeur hy in staat sal wees om nuwe rade te skep.
“Die wysigingswetsontwerp is daarom apart van die hoofwetsontwerp op gesondheidsberoepe en is hoofsaaklik gerig op die herskep van rade. Slegs dan sal hy teruggaan na die hoofwetsontwerp vir verdere konsultasie en dan die tertafellegging.”
Weyulu het voorts gesê die minister het onlangs met professionele verenigings en unies oor die wysigingswetsontwerpe vergader. Die opstel van dié wetsontwerpe is verlede week deur die ministerie van justisie gefinaliseer.
“Ons het op goeie gesag verneem die minister het verlede week die parlement ingelig van sy voorneme om die wysigingswetsontwerpe vandag ter tafel te lê.”
Op die aantyging dat die HPCNA tans “in chaos” is en “niks beteken nie” het Weyulu beaam sedert 1 April is daar geen bestaande rade vir gesondheidsberoepe in Namibië nie.
“’n Mens kan nie van hulle verwag om te funksioneer as dit afwesig is nie.”
Wat daar wel is, is die sekretariaat wat geen wetlike magte het om die funksies van die afwesige rade te verrig nie.
“Die oomblik wanneer die rade weer deur die minister saamgestel is, sal dit kan begin funksioneer. Die sekretariaat is op bystand om hulle te help om soos in die geval van vorige rade hul mandate uit te voer.”
Met verwysing na die wetsontwerp op gesondheidsberoepe het hy gesê dit is nog nie in die parlement ter tafel gelê nie.
“Ons verstaan die wetopstellers in die ministerie van justisie was klaar met hul werk en die wetsontwerp is met die goedkeuring van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, sowel as die sertifisering deur die prokureur-generaal, na die Nasionale Vergadering aangestuur om ter tafel gelê te word,” het Weyulu verduidelik.
Volgens hom het sommige rolspelers in die gesondheidsbedryf egter vir verdere konsultasie gevra voordat tot dié stap oorgegaan word. Dié versoek is aan beide die speaker van die parlement, die eerste minister sowel as die prokureur-generaal gerig.
“Soos ons verstaan, het die regering ’n besluit geneem gebaseer op die behoefte vir verdere konsultasie met rolspelers oor die wetsontwerp alvorens dit wél ter tafel gelê word.”
Volgens die voorgestelde nuwe wet op gesondheidsberoepe sal
Namibiese en buitelandse gesondheidslui wat in die land wil praktiseer, eers in die openbare sektor diens moet verrig voordat hulle in die private sektor sal kan werk. Dié verpligte staatsdiens sluit egter diegene uit wat tans by die HPCNA geregistreer is.
Die dienstydperk sal deur middel van regulasies in die wet bepaal word. Dit sal die ministerie in staat stel om gesondheidslui volgens sy behoeftes uit te plaas en nie noodwendig volgens die betrokke individu se voorkeur nie.
Dr. Haufiku het verlede week tydens ’n perskonferensie met verwysing na dié wat teen die nuwe wet gekant is, gesê “sommige het soveel voorregte geniet, hulle wil dit nie deel nie”.
Hy het ook gemaan dat hy “sal luister”, maar nie vir die een wat “op ’n afstand skree en raas nie”.
“Dit wil voorkom asof Namibië baie goed daarmee is om op ’n afstand kritiek uit te deel, sonder om enige oplossings te bied,” het hy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie